Ons leer jou hoe om steke op te stel, regs te brei en af te eindig. As jy dit kan doen, kan jy al heelwat artikels brei, soos dié sloffies en hasies
Foto’s ELDALEEN HUGO
Moeilikheidsgraad: *
AFKORTINGS
r = regs rs = reksteek (elke ry word regs gebrei) ste – steke
BREI -INLIGTING
Dubbeldraad-breidraad (Double Knit – DK) is ’n goeie dikte om mee te begin. Op die etiket wat om bal breidraad is, word aangetoon watter dikte breinaalde om te gebruik. In die geval van DK is dit normaalweg 3,25 mm- en 4 mm-breinaalde. Die dunner een word, indien toepaslik, vir die rif (ribbing) gebruik en die res met die dikker naalde. Brei eers ’n strook om jou spanning te oefen voordat jy ’n artikel aanpak. Jy beheer die spanning deur die breidraad om jou pinkie te haak, soos op foto aangedui. As jy te styf brei, gaan jy sukkel om die breinaald in die steek gedruk te kry. Oefen tot dit vir jou gemaklik en maklik is om te brei en jy tevrede is dat jou steke almal dieselfde lyk. Daar is verskillende maniere om steke op te stel. Ons wys jou vandeesweek net een daarvan. Daar is talle YouTube-video’s wat jou ook wys hoe dit gedoen word. Google net “Knitting, How to Cast on”
Sloffie
Stel 30 ste op en brei elke ry regs tot werk sowat 2–3 cm korter as jou voet is. Heg af volgens instruksies en knip die breidraad af sodat jy ’n lang ent het om mee vas te werk. Ryg die breidraad oor die afhegrand, trek dit styf en werk dit met ’n paar stekies vas.
Werk nou van daar af sowat 10 cm van twee lang sye aanmekaar. Vou op die ander kant die breiwerk in die lengte teenmekaar en werk dit toe vir agterkant van sloffie.
Keer die breiwerk na die regte kant om en versier verder soos verkies met gehekelde string en tossels,ekoopte lintjie wat jy om opening inryg, of strikkie.
Strikkie
Vir die grootste deel stel 25 ste op en brei 14 rye reksteek. Heg af.
Vir die kleiner deel stel 18 ste op en brei 6 rye reksteek. Heg af.
Vir die klein oorvoustrokie stel 4 ste op en brei 16 rye reksteek. Heg af.
Sit die twee groter dele opmekaar, vou die klein strokie in die middel oor en werk dit vas. Werk dit nou op die sloffie vas.
Stel steke só op
1 Maak lus met die breidraad.
2 Steek naald deur breidraad in die middel, vat die kort punt en die breidraad saam en trek lus stywer.
3 Haak breidraad om jou pinkie om spanning te beheer.
4 Steek naald van voor deur lus op naald.
5 Laat naald op jou duim rus en haak breidraad om naald.
6 Hou breiwerk met jou linkerhand vas en bring draad tot onder.
7 Trek lus met naald deur steek op naald.
8 Glip lus op naald om steek te vorm
Hasie
Jy kan verskillende groottes hasies brei, solank jou blokkie vierkantig is. Stel byvoorbeeld 30 ste op en brei reksteek tot jou blokkie vierkantig is. Heg af. Ryg van die een sy af op die vierkant soos op foto. Sit ’n bondeltjie vulsel in die driehoek wat rygsteke vorm en trek die rygsdraad styf om die vulsel. Werk dit vas. Jy het nou die kop en ore van die hasie gevorm. Werk van daar af die ruggedeelte toe. Stop die lyf op en werk onder toe. Werk ogies en bek op.
Brei regs
1 As jy jou getal steke op linkerkanste naald het, steek naald van voor deur eerste steek. Haak breidraad oor naald soos in stap 5 hierbo.
2 Trek lus deur soos in stap 7, maar glip steek op linkerkanste naald van breinaald af. Jy het nou nuwe steek op regterkantste naald. Herhaal met res van steke. Al die steke is nou op regterkantste naald. Ruil naalde om en herhaal stap 1 en 2.
HEG af
1 Brei eerste steek regs, brei tweede steek regs.
2 Glip eerste steek wat jy gebrei het oor die tweede steek, sodat jy weer net een steek op naald het. Herhaal met al die steke. Knip breidraad af en trek laaste steek deur die lus om af te eindig.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …