Maak jou eie prente met gehekelde blokkies!
Deur KAREN ADENDORFF
Moeilikheidsgraad: *
Benodigdhede
Oorskiet Vinnis Nikkim 100% katoen DK (50 g-balle) of enige dubbeldraad in kleure van jou keuse
3 mm-hekelpen
Naald met groot oog
Vir kussing:
katoenmateriaal (52 cm x 50 cm) vir agterkant
45 cm-ritssluiter
Binnekussing (50 cm x 50 cm)
Algemene naaldwerkbenodigdhede
Wenke
- Gebruik grafiekpapier of blokkiespapier om ontwerp op te teken.
- Kruisiesteekpatrone werk baie goed vir hekelontwerpe.
- As jy ’n foto wil hekel, kan jy die foto eers in pixels omskakel.
- Pixel-ontwerpe is groot en word meestal vir komberse gebruik. Deur ’n blokkie te hekel en te meet, kan jy bepaal hoe groot jou eindproduk gaan wees.
Grootte van kussing
50 cm x 50 cm
Afkortings
dies = dieselfde, gs = glipsteek, h/af = heg af, kb = kortbeen, ks = kettingsteek, lb = langbeen, rdte = rondte, st = steek, vlg = volgende
Metode (vir kussing)
- Gebruik enige grafiekontwerp soos aangedui. Die voorbeeld in hierdie patroon het die eerste diagram gebruik.
- Bepaal jou kleure en aantal blokkies in elke kleur.
Hekel die blokkies as volg: Hekel 4 ks, gs in 1ste ks om ring te vorm.
1ste rdte: 1 ks, 8 kb in ring, gs in 1ste kb.
2de rdte: 1 ks, 2 kb in elke kb, gs in 1ste kb = 16 kb.
3de rdte: 1 ks, 1 kb in dies st, 1 kb in vlg 2 kb, (1 lb, 2 ks, 1 lb) in vlg kb, [1 kb in vlg 3 kb, (1 lb, 2 ks, 1 lb) in vlg kb] 3 keer, gs in 1ste kb. H/af. Werk los drade weg.
- Werk die blokkies in rye aanmekaar met onsigbare steke volgens jou diagram vas.
- Werk die rye met onsigbare steke volgens die diagram aan mekaar vas.
- Knip twee agterpante van 50 cm x 26 cm uit wit katoenmateriaal.
- Inwerk van die ritssluiter: Plaas die twee pante met regte kante op mekaar en stik die twee punte slegs 4 cm vas. Ryg die naat in die middel met lang steke verder vas. Plaas die ritssluiter met sy regte kant op die oop naat (ryggedeelte) aan die verkeerde kant en ryg vas. Stik die ritssluiter aan die regte kant aan weerskante vas. Trek die rygdraad uit. Laat die ritssluiter ’n entjie oop.
- Plaas die agterpant en gehekelde voorpant met regte kante op mekaar en stik reg rondom ’n naat van 0,5 cm.
- Dop die kussing deur die opening van ritssluiter om en steek binnekussing in.
- Maak tossels indien verkies en werk op die hoeke vas.
Voorbeelde
Karen, ook bekend as die koninging van hekel, het al 18 handwerkboeke vanaf 2008 uitgegee. Sy het al oraloor SA gereis om entoesiaste die kuns van hekel te leer. Haar werk het haar al vele radio- en televisiewerk asook tydskrifartikels besorg. Haar hooffokus as ʼn ontwerper is haar gereelde bydraes aan verskeie tydskrifte, sosiale media platforms en haar blog, A Hankidoriday – my beautiful chaos.