Om hierdie ringetjie-mandjie te hekel is ietwat tydrowend, maar maak ’n treffende eindproduk!
Deur KAREN ADENDORFF Foto ELMARIE KNAPTON
Moeilikheidsgraad *
Benodigdhede
- Enige oorskietkatoendraad soos Vinnis Colours DK (50 g-balle): Natural, Baby Blue, Denim, Pale Blue-Green, Turquoise, Pacific Blue en Navy
- 3 mm-hekelpen
- 1 45 plastiekringetjies met deursnee van 2,5 cm (verkrygbaar by Wolmart Africa CC of enige ander materiaalwinkel)
- Slaaibak
- Houtlym
- Vaseline en kleefplastiek
Hekel ook ’n mandala-mat
Aanwysings
- Die getal ringetjies hierbo genoem, is die hoeveelheid gebruik vir ’n slaaibak met ’n deursnee van ongeveer 32 cm en 22 cm hoog. Die getal gaan wissel na gelang van die grootte bak wat jy gebruik.
- Die hoeveelheid in elke kleur wat gebruik is, is: 7 Natural, 12 Baby Blue, 18 Denim, 24 Pale Blue Green, 26 Turquoise, 29 Pacific Blue en 29 Navy.
- Hekel elke ringetjie met kortbeensteke om en sluit met ’n glipsteek in die eerste steek. Heg af en werk die los drade weg.
- Die beste is om kleur vir kleur te werk en uit te pak soos jy vorder. Begin by die basis van die bak en hekel die nodige hoeveelheid in die eerste kleur.
- Pak die ringetjies op die basis uit met die verkeerde kante na buite en werk met die hand aan mekaar vas.
- Hekel die volgende rondte ringetjies in die volgende kleur en steek hulle met verkeerde kante na buite aan die basisringetjies vas. Sodra jy rondte voltooi het, werk dit aan mekaar vas.
- Voltooi die hele mandjie op hierdie manier.
- Dop die mandjie om sodat die regte kant van die ringetjies na buite wys.
- Bedek die slaaibak met kleefplastiek en smeer dit met Vaseline.
- Maak ’n mengsel van lym en water aan (verhouding: 1 k lym en ¼ k water).
- Doop die mandjie in die mengsel tot heeltemal deurweek en plaas dit oor die bak met kleefplastiek. Laat goed droog word.
- Haal af en verwyder enige los stukkies gom.
Wenke
Die patroon kan ook vir ’n lampskerm of hanglig of vir ’n treffende tafelversiering met ’n kers binne-in gebruik word
Karen, ook bekend as die koninging van hekel, het al 18 handwerkboeke vanaf 2008 uitgegee. Sy het al oraloor SA gereis om entoesiaste die kuns van hekel te leer. Haar werk het haar al vele radio- en televisiewerk asook tydskrifartikels besorg. Haar hooffokus as ʼn ontwerper is haar gereelde bydraes aan verskeie tydskrifte, sosiale media platforms en haar blog, A Hankidoriday – my beautiful chaos.