Dis ’n heerlike, snoesige kombersie omdat dit as‘t ware uit twee lae bestaan
CHRISTA SWANEPOEL
BENODIGDHEDE
Verskeidenheid ELLE DK-breidraad in kleure van jou keuse. Ek het pienk en groen skakerings asook wit in onder meer Cuddly, Courtelle, Family Knit, Pure Gold, Baby en Plumé van ELLE gebruik. Ek het ook ’n paar rye met Chunky-breidraad, soos Whoosh en Snuggles, gehekel om die tekstuur af te wissel. Wissel kleure af soos verkies. 4 mm-hekelnaald
Afkortings
kb – kortbeen (aan begin van ry tel 2 ks as kb); ks – kettingsteek; lb – langbeen (aan begin van ry tel 3 ks as 1 lb)
Basis
Hekel eers die basis of raamwerk waarop jy die riffels gaan aanbring in kleur van jou keuse soos volg: Met 4 mm-hekelnaald, maak 135 ks (of so breed as wat jy dit will hê).
1ste ry: 1 lb in 7de ks van naald af, *2 ks, slaan 2 ks oor, 1 lb in vlg ks, herh van * af tot einde, 5 ks, draai. 43 blokkies
2de ry: slaan 2 ks oor, *1 lb in vlg lb, 2 ks, herh van * tot einde, slaan 2 ks oor, 1 lb in 3de ks, 5 ks, draai. Herhaal 2de ry tot jy ongeveer 60 rye blokkies het (of so lank jy dit wil hê). Heg af en werk draad weg.
Wenke
- Dis ’n heerlike manier om jou oorskietbreidraad weg te werk.
- Gebruik kleure soos verkies. Jy kan kleur vir kleur lukraak oor die kombersie versprei, of onder begin en ry vir ry die kleure afwissel.
- As jy Chunky-breidraad gebruik, hoef jy net 2 lb in plaas van 3 lb vir riffelpatroon te maak. Jy maak baie minder rye met Chunky-breidraad as met DK-breidraad. Met Whoosh kon ek byvoorbeeld net twee rye per bal voltooi.
- Geskakeerde breidraad vertoon mooi tusseinin.
- Jy kan die hele kombersie in een kleur maak of net twee kleure afwissel.
- Maak verskillende sulke riffelblokke in groottes soos verkies en werk dit aanmekaar vir ’n groter oorgooideken of kniekombers. Werk dit só aanmekaar dat blokke se riffelpatrone in verskillende rigtings lê.
Grootte
Ongeveer 75 cm x 90 cm, maar jy kan self besluit hoe groot jy dit wil hê.
Riffelpatroon
Heg draad aan 1ste lb regs onder. Werk riffelpatroon soos volg:
1ste ry: 3 ks (tel as lb), 2 lb na bo om eerste lb, 3 lb in 2 ks-spasie, 3 lb af om vlg lb, 3 lb om onderste 2 ks-spasie, 3 lb na bo om vlg lb (sien diagram), herhaal tot einde. Heg af en werk draad weg. Voltooi tweede en daaropvolgende rye soos eerste ry in kleure van jou keuse.
Rond af
Met kleur van jou keuse, heg draad in enige lb bo of onder, of lb-basis langs kante. Werk rondom soos volg: 3 ks, 1 kb in vlg lb of lb-basis, herh rondom en gs in eerste ks. Heg af en werk draad weg.
Versorging
Sien verpakkingsmateriaal vir versorgingsinstruksies.
Karen, ook bekend as die koninging van hekel, het al 18 handwerkboeke vanaf 2008 uitgegee. Sy het al oraloor SA gereis om entoesiaste die kuns van hekel te leer. Haar werk het haar al vele radio- en televisiewerk asook tydskrifartikels besorg. Haar hooffokus as ʼn ontwerper is haar gereelde bydraes aan verskeie tydskrifte, sosiale media platforms en haar blog, A Hankidoriday – my beautiful chaos.