Die patroon is vir klein soorte hondjies, met borsmaat van ongeveer 24-26, 32-34 en 40-42 cm. Dis min of meer die grootte van ’n chihuahua, malteser en spanjoel. Dis egter nie doodsake as die jassie ’n bietjie groter of kleiner is nie. Ek het twee-twee kleure in DK-breidraad saam, 4,5 mmbreinaalde en 3,5 mm-hekelnaald gebruik. Meng en pas en las kleure na goeddunke. Kyk net dat jou spanning min of meer 12 ste en 20 rye mossteek per vierkant van 10 cm is.
Mossteek (ms)
1ste ry: *r, aw1*, herh van * tot *.
2de ry: r aw-ste en aw r-ste. Herhaal hierdie twee rye.
Jassie
Dis van stert na nek se kant gebrei. Met 4,5 mm-naalde stel 11(15;19)ste op. Werk in mossteek en kleurstrepe soos verkies soos volg:
1ste ry: ms.
2de ry: ms.
3de ry: stel 2 ste op, ms tot einde, stel 2 ste op.
4de ry: ms.
5de ry: stel 2 ste op, ms tot einde, stel 2 ste op.
6de ry: ms. Gaan voort in ms en vermeer 1 st aan weerks van vlg en elke alt ry 2(3;5)keer. 23(29,37)ste. Gaan voort sonder om te vorm tot werk 21(28;36)cm lank is. Heg middelste 5(7;9)ste af vir nek en werk twee sykante apart. Alle mate word nou van hier af gedoen.
Linkerkant = 9(11;14)ste. Gaan voort in mossteek en heg 1 st aan nek se kant af in elke alt ry 2(2;4) keer. 7(9;10)ste. As werk 9(10;12)cm lank is, heg af.
Regterkant = 9(11;14)ste. Werk soos linkerkant, maar omgekeerd.
Hekelrandjie
Kies enige kleur en met 3,5 mm-naald hekel randjie om hele jassie soos volg: Begin aan bokant van een kant van nek soos volg: 5 ks, *slaan ongeveer 1,5 cm oor, 1 lb in vlg st, 2 ks, herh van * tot * en eindig met gs aan begin van rondte.
Band om maag
Tel 7(9;10)ste met 4,5 mm-naalde en kleur van jou keuse aan linkerrand van werk op ongeveer 6(8;10)cm onder nek en aan onderkant van gehekelde randjie. Werk in ms vir ongeveer 10(15;20)cm. (Pas die jakkie vir die hond aan om die presiese lengte te bepaal, want dit moet ’n bietjie om bors rek.) Heg af.
Om te voltooi
Werk 2 knopies aan een voorpant en knoop met rand se hekellussies toe.
Karen, ook bekend as die koninging van hekel, het al 18 handwerkboeke vanaf 2008 uitgegee. Sy het al oraloor SA gereis om entoesiaste die kuns van hekel te leer. Haar werk het haar al vele radio- en televisiewerk asook tydskrifartikels besorg. Haar hooffokus as ʼn ontwerper is haar gereelde bydraes aan verskeie tydskrifte, sosiale media platforms en haar blog, A Hankidoriday – my beautiful chaos.