Hier is nog ’n maklike patroon vir ’n mus waarvoor jy nie baie breidraad nodig het nie
Deur HILDA STEYN
Moeilikheidsgraad: *
PROJEKINLIGTING
My man en seun hou graag hul koppe warm in die winter, maar vir hulle is ’n beanie nie ’n mode-item nie. Maak nie saak of dit ’n pofhoed is nie, hulle trek hom laag af en vou die rand om. Dus werk ’n rifpatroon die beste vir dié twee. Hierdie hoed is baie maklik om te brei en dit vorm ’n mooi ontwerp om die kroon. As ’n ouma moes ek natuurlik vir groeiende kleinkinders ook voorsiening maak. Hier is dus ’n reeks vir die hele gesin. Die vier groottes is: Man, Vrou/Tiener, Kind en Baba.
BENODIGDHEDE
DK-breidraad (Ek het Adele’s Mohair 4-twyn Merino DK (±100 m/50 g) gebruik) Man 150 g Vrou/Tiener/Kind 100 g Baba 50 g 4.0 mm-sirkelbreinaalde wat ’n goeie lengte is om ’n magic loop mee te maak merker
AFKORTINGS
aw = aweregs aw2tes = aweregs 2 tesame m = merker pm = plaas merker r = regs r2tes-al = regs 2 ste tesame deur die agterlusse sm = skuif merker st(e) = steek (steke) vm = verwyder merker
SPESIALE STEEKPATROON
dubbelrif = (aw2, r2) herhaal tot einde van die rondte
PATROON
Stel 128(112; 96; 80) steke op. Plaas ’n merker om die begin en einde van elke rondte aan te dui. Heg sirkel en maak reg om met jou verkose manier in die rondte te brei. Begin met aw en brei in dubbelrif totdat die stuk 23(21; 18; 16) cm lank is, gemeet vanaf die opstelrand.
Gaan soos volg voort:
Rdte 1: brei nog ’n rondte dubbelrif en plaas ’n merker ná elke 16 ste. Daar moet 8(7; 6; 5) groepe van 16 ste elk wees.
Rdte 2: (aw1, aw2tes, brei in patroon tot m, sm) regoor die rondte. Herhaal rondte 2 totdat daar 4 ste in elke groep oor is.
Gaan soos volg voort: Vlg rdte: (aw2tes, r2tes-al, vm) regoor die rondte.
VOLTOOI
Knip ’n lang stert en gebruik ’n stopnaald om die breidraad TWEE keer deur al die steke te ryg voordat jy die breinaalde verwyder. Trek dan die lus styf en werk die stert aan die binnekant van die hoed weg. Die beginstert word weer aan die buitekant van die breiwerk weggewerk, hoogstens 2 cm van die rand af, want dit word omgevou.