Sedert raambreiwerk posgevat het, het daar kort-kort nuwe rame bygekom. Hierdie projek is op die Serenity-breiraam gedoen
Deur CHRISTA SWANEPOEL Foto ELMARIE KNAPTON
Wat het jy nodig?
- ’n Serenity-breiraam (loom)
- 4 balle BLUE LABEL CLASSIC CHUNKY KNITTING (Loom Easy) (100 g) in nr 106 vir breiwerk van 70 cm x 104 cm
- 1 bal effe bypassende Chunky-breidraad vir tossels
- ’n Strooitjie (kom saam met breiraam – jy kan enige strooitjie wat dik genoeg is of ’n leë balpuntpen gebruik)
Haak (kom saam met breiraam)
Nuttige inligting
- Jy kry aanwysings saam met die breiraamstel – die aanwysings wat volg, verduidelik die proses kortliks.
- Die Serenity-breiraam het soveel pennetjies dat dit moontlik is om ’n kombers van ongeveer 150 cm in een stuk te maak.
- Ek het ’n veelkleurige dik breidraad gebruik wat spesifiek vir raambreiwerk gemaak is, maar enige ekstradik breidraad werk ewe goed.
- Die helder kleur val beslis nie in almal se smaak nie. Kies ’n effekleur of ’n geskakeerde breidraad in sagte skakerings. Die helder kleur werk goed vir buite of in ’n kinderkamer.
- Moenie te styf werk nie anders gaan jy sukkel.
Mates
Werk die mates vir jou artikel volgens hierdie spanning uit: Sowat 9 ste en 14 rye = 10 cm
LEES OOK: Brei ’n pom-pom-kombers
Gaan só te werk
- Let daarop dat die pennetjies aan die een kant ’n gleufie het – dis die kant wat jy gaan gebruik om die steek oor te lig.
- Ryg die breidraad deur die strooitjie en maak die punt van die breidraad aan ’n pennetjie op die raam vas om dit te anker.
- Met behulp van strooitjie neem draad na binnekant en begin kloksgewys en draai die breidraad om elke pennetjie sodat die breidraad aan die teenoorgestelde kant van die gleufie kruis.
- Gaan so voort oor die hoeveelheid pennetjies wat jy vir jou projek nodig het. Beheer die lusse met jou linkerhand, want dis geneig om los te spring.
- Bring die draad na die voorkant van die laaste pennetjie, draai dit om die pennetjie en werk antikloksgewys terug oor al die pennetjies sodat breidraad weer aan die agterkant van die pennetjies kruis. Draai dit een keer om laaste pennetjie en hou die breidraad met jou linkerhand vas.
- Lig met jou hakie die onderste lus van die laaste pennetjie oor die boonste steek. Hou steeds breidraad vas terwyl jy die volgende twee of drie onderste steke oorlig – hierna kan jy dit los en tot op die einde werk sonder dat dit sal losglip.
- As jy al die onderste steke oorgelig het, keer jy terug na waar die breidraad is. Moenie dit om die eerste pennetjie draai nie, maar begin direk met die tweede pennetjie soos tevore tot op ander punt en een keer om die laaste pennetjie.
- Hou die breidraad vas en lig die onderste lus van die laaste pennetjie oor die boonste steek. Doen dieselfde met die volgende drie steke terwyl jy die breidraad vashou.
- Gaan só voort tot verlangde lengte en eindig met ’n ry wanneer daar net een lus op elke pennetjie is.
Eindig af
Daar is verskillende maniere:
A
- Begin aan die teenoorgestelde kant van waar die breidraad is. Lig tweede steek van sy pennetjie af en trek dit oor die eerste pennetjie. Lig die onderste steek oor die boonste steek en laat val.
- Lig nou hierdie steek van sy pennetjie af en trek dit oor die oop pennetjie. Lig die derde steek van sy pennetjie af en trek dit oor die vorige steek en lig die onderste steek oor die boonste steek en laat val.
- Herhaal die laaste stap tot die laaste steek. Draai die breidraad om die laaste pennetjie en trek die laaste steek oor. Knip die breidraad en trek die punt deur die laaste steek.
B
Knip die breidraad ’n lang ent af. Ryg dit deur ’n dik naald en ryg op deur die tweede pennetjie se lus en af deur die eerste pennetjie se lus, dan op deur derde pennetjie se lus en af deur tweede pennetjie se lus, op deur vierde pennetjie se lus en af deur derde pennetjie se lus. Gaan so voort tot die einde en haal dan al die lusse van die pennetjies af.
C
Begin aan die teenoorgestelde kant van waar die breidraad is, glip die eerste twee lusse van die pennentjies af en sit dit op hekelnaald. Trek die tweede lus deur die eerste lus. Haal die volgende lus af en herhaal die proses tot die einde.
Om te voltooi
Vir kussing: Vou werk dubbeld met regte kante opmekaar en werk twee sye toe. Keer na regte kant om, druk die kussing in en werk laaste sy toe. Draai effe breidraad om CD-kassie of so groot soos verkies. Trek van kassie af. Bind breidraad deur een kant se lus. Bind dit entjie van bo af styf vas. Knip onderkant oop en werk aan punte van kussing vas.
Vir kombers: Rond rondom met fraiings af, hekel ’n rand om of werk af soos verkies.
Die Serenity-breiraam is by die meeste wolwinkels beskikbaar Blue Label-breidraad is landwyd beskikbaar of bel 082 416 4060 vir jou naaste verskaffer
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …