Wynand Lategan is die wynmaker by die geskiedkundige Lanzerac op Stellenbosch. Hy het sy loopbaan in 2003 as assistent-wynmaker by die nuutgeboude Lourensford-kelder begin.
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: verskaf
Wynand is getroud met Nelleke, ’n vennoot in ’n administratiewedienste maatskappy (The Office). Hulle het drie dogters – Ella, Fila en Barbara en die gesin woon op Lanzerac.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Ek het van kleins af gedroom om eendag op ’n plaas te bly en te boer. Ek het ook ’n droom gehad dat ek eendag vanuit my slaapkamer op rye wingerde sal uitkyk. Die boerdery in die ware sin van die woord was nooit ’n realistiese opsie nie, maar wynmaak het vir my daardie toegang gegee. Dit het natuurlik ook gehelp dat my ouers, en veral my pa, altyd baie in wyn belanggestel het en ons daarmee grootgeword het.
Wat is jou gunstelingkultivar?
Ek moet Pinotage kies, omdat dit vir my só uitdagend is. Ek noem Pinotage die tiener van die druiwefamilie, aangesien dit “wild” is. Dit is ’n sterk groeier en dit gis baie vinnig in die kelder. Jy moet hom tem; hy is beslis nie skaam nie, maar as jy hom onder beheer kry, gee hy vir jou die mooiste geure en het ook baie goeie diepte.
Hoe sien jy jouself as wynmaker – versigtig, voortvarend, avontuurlustig of konserwatief?
Ek dink ’n wynmaker se werk is om te soek na die nuwe en die ongewone en om elke jaar te probeer verbeter op jou vorige jaar. So definitief avontuurlustig, voortvarend en soos ’n tipiese kunstenaar nooit tevrede nie. Konserwatisme het nie ’n plek in die moderne Suid-Afrikaanse kelder nie, maar jou fondasie en basiese beginsels moet in plek wees en eerbiedig word.
Wat het jy vinnig geleer, wat jy nie verwag het nie?
Selfs die beste en modernste keldertoerusting wat geld kan koop, beteken nie veel as jou wingerde nie op standaard is nie. Eintlik het ek dit geweet, maar was tog verras om die impak daarvan te sien.
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Elke wynplaas het ’n unieke storie om te vertel. Jy moet net hard gaan soek wat jou storie is en daardie boodskap herhaaldelik aan die publiek oordra. Mense wil stories hoor.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Daar is ’n paar unieke wyne en versnitte wat in die kelder in wording is en wat ek nie kan wag om te wys nie – maar op die oomblik kan ek nie meer hieroor uitbrei nie. Ons sal egter nooit ons fokus op ons belangrikste variëteite soos Chardonnay, Pinotage en Cabernet verloor nie.
Wat was jou drome op skool?
Ek wou eers ’n natuurbewaarder geword het tot iemand eendag in die Weermag vir my gesê het dat ’n wildbewaarder definitief ’n kandidaat vir alkoholisme kan word – ek meen jy ry in die veld tot die naaste watergat en begin met jou eerste koue bier uit die koelboks…. Later wou ek ’n beroepsatleet word, maar ’n gebrek aan ware talent het daai droom laat sneuwel. Later het ek nie lekker geweet nie, totdat die idee van wynmaak begin wortelskiet het.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die manier hoe wyn mense bymekaarbring. Goeie wyn skep herinneringe en bring die beste uit mense na vore. Ek is ook mal oor hoe wyne met verloop van tyd verander in jou glas en oor jare in ’n bottel.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Laatmiddag/vroegaand na ses, op my stoep saam met my vrou.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Ek dink elke oes is ’n uitdaging in die sin dat jy die natuur moet “lees” in die aanloop tot die seisoen en dan moet jy die kritiese/belangrikse besluite neem rakende wanneer jy ’n sekere wingerdblok moet oes. Uitdagend, maar ook baie opwindend!
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ek is baie trots oor die sukses van die Erfenis-wynreeks van Lanzerac oor die jare. (Pionier Pinotage, Le General en Mrs English). Hierdie reeks was ’n idee in my kop toe ek in 2005 hier begin het. Ek moes baie hard baklei by my destydse base om die reeks gestalte te gee. Die sukses van hierdie wyne gee my baie bevrediging.
Wat is die uitdagings om in 2017 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Die uitdagings is groot. Die wêreld is altyd aan die verander, so jy moet weet wat in die wêreld aangaan soos wat die nuwe style/tendense is. Seisoensverandering het ook ’n nuwe stel uitdagings gebring en dan natuurlik is elke wynmaker vandag nie net ’n wynmaker nie, maar ook ’n bemarker van sy wyn.
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Grasse, in die suide van Frankryk in ’n klein vakansie-chateau op ’n erf vol terrasse (volgens die eienaars het die eiendom aan Brigitte Bardot behoort). Franse sjampanje, die varsste seekos, ’n asemrowende uitsig op die Mediterreense See, saam met my vrou met Edith Piaf wat op die agtergrond speel. Ek wil môre teruggaan…
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met wyn?
Moet nooit met die bottel in jou linkerhand agteroor gebuig wyn skink nie – dit bring glo slegte geluk. Wyn hoef nie yskoud gestoor te word nie, maar wel in konstante “koeler” temperatuur.
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om te eksperimenteer met nuwe wyne?
Doen dit net; jy het niks om te verloor nie. Die ergste wat kan gebeur, is dat jy nie van die wyn hou nie.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Elke dag en elke seisoen is anders. Die natuur is ook op ’n manier baie geduldig, en luister mooi na wat Moeder Natuur vir jou wil vertel.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
“Dit is die laaste vrag.”
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Jan Boland Coetzee – vir sy kennis en passie oor terrior; Francois Naude – vir sy warmte en onbaatsugtige hulp; Neil Ellis – ek het baie respek vir sy tegniese kennis; Loftie Ellis – altyd gewillig om ’n wynmaker in nood te help. Die “nuwegenerasie”-wynmakers wat nuwe dinge probeer, is ook vir my ’n groot bron van inspirasie.