Wikus Pretorius is die afgelope drie jaar die wynmaker by La Petite Ferme op Franschhoek en bykans 20 jaar in die wynbedryf
Deur MARYKE ROBERTS
Foto Claire Gunn
Hy onthou sy eerste werk op Muratie Wynlandgoed in Stellenbosch en sê hy was toe maar nog nat agter die ore en het maar meestal tenks geskrop.Hy het bemarking geswot, maar vir sakgeld oor naweke in ’n proelokaal gewerk en toe byt die wynmaak-gogga hom.
Wie is jou wynmaak-helde?
Ek kan niemand uitsonder nie, maar ek het baie respek vir enigiemand wat ’n sukses maak in hierdie bedryf. Dit is seker een van die mees kompeterende bedrywe en in die huidige ekonomiese omstandighede, moet jy hard werk om ’n sukses te maak en daar te bly. Die suksesstories van handelsmerke soos Boekenhoudskloof se “Chocolate Block” byvoorbeeld is iets om na te streef.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
“It takes a lot of beer to make good wine” – iets wat die Aussie-wynmakers my geleer het.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Ek dink ek is partykeer bietjie te veilig en versigtig. Mens werk met baie geld en moet partykeer kyk na wat die mark soek en nie noodwendig na wat jy in jou kop het vir ’n sekere styl nie. Die lekker ding is dat daar altyd geleendheid is om ’n betjie te eksperimenteer en jou eie kop te volg. Jy kan nie ander resultate verwag deur heeltyd dieselfde te doen nie.
Hoe het jy in jou huidige pos beland?
Ek was in Namibië besig om ’n kelder vir iemand in Omaruru te begin. Ek word toe genader om weer nader aan die huis te wees; en so my pad terug na die Boland gevind.
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Deur konstant ’n goeie produk te lewer. Maak nie saak of dit jou restaurant of akkommodasie of die wyn is nie. Mense verwag waarde vir hul geld!
Wat beplan jy vir die volgende paar jaar in die kelder?
Daar word die volgende paar jaar ’n paar nuwe wingerde geplant. Ek is baie opgewonde oor ons twee nuwe versnitwyne wat ons gaan vrystel: ’n wit Bordeaux-styl en Rooi Rhone-styl.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Wanneer ek en my vrou Clare, rustig in die Karoo of Kalahari in die middel van nêrens sit en ’n goeie chardonnay geniet! Clare is ’n verkoopsbestuurder vir een van die land se grootste vepakkingsvervaardigers.
Wat is jou gunstelingkultivar?
Chardonnay. Dis ’n wyn wat baie mooi terroir wys. Dit verskil van streek tot streek en is seker een van die lekkerste wyne as dit reg gedoen word!
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Ek dink die moeilikste deel van wynmaak is om vir die eerste keer met nuwe wingerde te werk. Ek het 10 jaar lank in Stellenbosch gewerk en het in daardie tyd vertroud geraak met die style en wingerde van die Helderberg. Dit wat ’n groot aanpassing om Franschhoek toe te kom. Dit is twee verskillende wêrelde wat wynstyle aanbetref. Nou, na 3 jaar in Franschhoek, begin ek eers ’n gevoel kry vir die wingerde en style wat Franschhoek so uniek maak.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Die feit dat ek is waar ek vandag is sonder ’n wyngraad agter my naam. Ek is ’n groot voorstaander van die belangrikheid van ondervinding opdoen en leer soos jy werk.
Watter wyn- en kospasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Viognier en Indiese kerries. Ek is mal oor Indiese kos en viognier met al sy wondelike vrugtegeure werk baie goed daarmee saam.
Watter wyn geniet besoekers aan die gastehuis op die plaas die meeste saam met hul ete?
Ons sauvignon blanc en Baboon Rock Unwooded Chardonnay is top-verkopers. Hulle is albei ligte, vars wyne, wat op hul eie of saam met kos geniet kan word.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker?
Mense wat bereid is om meer te betaal vir kwaliteit, veral kleiner kelders kry die swaarste. Produksiekoste is hoog, maar pryse word deur groter produsente afgedwing. Verbruikers moet besef dat hulle meer gaan betaal vir kwaliteit-wyn wat in klein hoeveelhede geproduseer word,.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Die hoeveelheid veranderlikes wat ’n invloed op die finale produk het: van die seisoen tot die tipe vate of tenke, gis, ek kan vir dae aangaan.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Enigiemand wat chardonnay tussen Volnay en Puligny Montrachet produseer. (Chardonnay-manne)
Watter foute maak mense as hulle wyn koop en by die huis stoor?
Meeste mense dink hoe langer en ouer die wyne is, hoe beter word hulle, wat waar is vir sekere wyne van spesifieke oesjare en sekere kelders. Wyne word te warm gestoor en ek belowe jou dat die R60 Cab-Merlot wat jy by die supermark gekoop het, gemaak is om nou lekker te drink. Moet hom nie wegsit vir kleinboet se 21ste nie, julle gaan baie teleurgesteld wees.
Wat is volgens jou die grootste foefie rondom wyn wat die meeste SA wyndrinker glo?
Dat ’n teelepel werk om die gas (borrels) in vonkelwyn of sjampanje te hou … lol. My skoonma probeer my nog steeds oorreed.
Hoe voel jy oor SA se wynkwaliteit vergeleke met ander lande?
Ek dink ons kan baie trots as ’n bedryf wees as ek sien waar ons nou staan. Ek dink ons maak van die wêreld se beste chardonnay en chenin en ons rooiwyne begin ook om naam te maak. En as jy na die sukses van plase soos Kanonkop kyk, spreek dit boekdele.
Waar is onontginde markte waar jy glo SA wyne baie goed kan doen?
Suidoos-Asië (Singapoer, Hongkong) is ’n baie groot mark wat op kwaliteit ingestel is. Veral duurder wyne doen baie goed. La Petite Ferme beplan om in die volgende paar jaar hierdie mark te betree.