Samuel Lekay is die afgelope agt jaar al werksaam op Lord’s Wyne buite McGregor in die Robertson Wynvallei
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Die plaas is die droom van die wingerdboukundige Jacie Oosthuizen, wat sy liefde vir wyn en krieket saamgevoeg het en in 2006 sy plaas na die Lord’s krieketveld in Londen vernoem het.
Jacie het vir Samuel as kelder-assistent aangestel en vandag is hy sy regterhand in die kelder as assistent-wynmaker en lei ook die keldertoere. Na ’n groot opknapping spog dit met ’n nuwe troulokaal, groter kelderspasie en beter kelderruimte.
Het jy enige byname in die wynbedryf of op die plaas?
Mense noem my Sampie.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Ek het by Lord’s begin as kelder-assistent en na so twee jaar begin belangstel om bietjie meer te leer oor wyn. Ek moet self sê, ek geniet dit baie om my kennis te verbreed oor wynkunde.
Kom jy uit ’n wynmaakfamilie uit?
Nee ek kom nie uit ’n wynmaakfamilie nie, maar ek het by my pa geleer oor wingerd en grond toe ek op ’n plaas grootgeword het.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels? Het jy buite Lord’s begin werk?
Ek het voorheen by die ou Nestlégebou in Robertson as opsigter gewerk tot Jacie my ’n kans gegee het as kelder-assistent hier op die plaas.
Hoekom wou jy wynmaker by Lord’s wees?
Ek het lief geraak vir die hele wynmaak-proses en ek geniet dit baie, veral wanneer ons baie toekennings vir ons wyne wen.
Watter is jou gunstelingkultivar op die plaas en hoekom daardie een spesifiek?
Pinot noir, sauvignon blanc en shiraz. Dit is ons vlagskipwyne en ons doen baie goed daarin.
Watter kultivar dink jy is die plaas se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?
Pinot noir is ons vlagskip. Ons doen ook beide ons MCC’s in dié kultivar.
Jou wynkelder-toer is ’n integrale deel van die plaasbesoek se sukses. Bring sulke ekstras onnodige druk op jou as wynmaker?
Nee, dit is vir my baie lekker om keldertoere te doen en vir mense te wys hoe ons wyn maak, hul wynkennis op te skerp en hulle ons mooi kelder te wys. Hier by Lord’s is ons trots op die feit dat ons persoonlike aandag gee aan mense wat ons besoek en dat ons hulle meer oor ons multi-toekenning-wyne leer. Wanneer hulle hier weggaan, kan hulle meer bydra tot wyngeselsies rondom die etenstafel of meer beter wyne kies om by sekere disse te pasmaat.
Wat was sover jou grootste persoonlike oorwinning as wynmaker?
Dis vir my ’n baie groot voorreg om deel te wees van die wynmaak-proses, want dit is lekker om op die einde van die dag die “vrugte te pluk” wanneer die toekennings inrol en ek saam met die hele span kan trots wees en die oomblik te geniet. Dit gee ons dryfkrag en dit wys dat die Robertson Wynvallei nie hoef terug te staan vir plaaslike en/of internasionale kelders nie.
Wat is die grootste les wat jy al geleer het?
Die eienaar, Jacie, het vir my vroeg al geleer dat as jy iets doen, jy net jou beste moet lewer. Altyd, in alles wat jy aanpak.
Hoe voel dit om van opsigter na assistant-wynmaker te vorder?
Die dag toe hulle aankondig hierdie geleentheid is my beskore, was ek oorstelp. Dis ’n baie groot eer. Ek was nog altyd oop vir leer. Die kans om hier te werk, is regtig vir my ’n “hele wow”.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.