Kleinood Wyne net buite Stellenbosch is die tuiste van Tamboerskloof Wyne en de Boerin olyfolie. Reynie Oosthuizen het in Oktober sy eerste jaar by die plaas gevier en is wynmaker, wingerdbestuurder en help ook met wyn-bemarking
Deur MARYKE ROBERTS
Foto Maryke Roberts
Kleinood behoort aan Gerard en Libby de Villiers en die wynreeks het sy naam te danke aan die voorstad van Kaapstad waar hulle gewoon het toe hulle van hul eie wynplaas gedroom het. Die plaas het net 12 hektaar landbougrond, waarvan 10 onder wingerd en twee onder olyfboorde is. 12 jaar nadat die De Villierse met hul twee kinders, Katharien en John Spicer na wie die Syrah Rosé en Syrah onderskeidelik vernoem is, na die plaas getrek het, verkoop hulle ook heuning, verjuice en parfuum wat van plante op die plaas gemaak word.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
My ma is mal oor goeie wyn en kos en danksy haar het my reuk- en smaaksintuig my nog altyd gelei. My ouers is mal oor reis en ek het die voorreg gehad om twee weke saam met hulle in die Rhine-vallei te toer. Daar leef die mense wyn. Suid-Afrikaners drink wyn, maar ons leef dit nog nie soos dit hoort nie. Die ervaring was lewensverrykend, veral omdat ek dit met my ouers kon deel.
Wat het jy studeer?
Ek het eers vier jaar chemiese ingenieurswese geswot en toe as wynmaker by die Universiteit van Stellenbosch gaan kwalifiseer. Ek was ná skool onseker oor watter loopbaanrigting ek gaan inslaan en toe op ingenieurswese besluit, want my pa is ’n elektriese ingenieur. Ek het egter altyd geweet ek wil eendag met wingerde en wyn werk.
Waar het jy voorheen as wynmaker gewerk?
Ek het onder meer as student by Rust en Vrede gewerk, toe by Warwick Landgoed, en toe terug by Rust en Vrede vir vier jaar; eers as assistant-wynmaker en toe as wynmaker van die Stellenbosch Reserve-reeks.
Watter kultivars is op in jul 10 hektaar-wingerd?
Ons het syrah, mourvedre en viognier en sewe rye roussanne.
Wat geniet jy die meeste van jou werk op Kleinood?
Ons is baie kleiner as ander wynplase en ek is meer oorkoepelend betrokke by die hele wynmaak-proses, van die wingerde tot verkope. Ek is mal daaroor om hier te werk. Ons doen wynproeë op afspraak en bedien ook kaas- en vleisborde op bespreking, so daar is nie heeldag besoekers nie. Ek was ook nog altyd mal oor syrah, so om hier met syrah-druiwe te werk en syrah te maak, is ’n voorreg. Ek is ook bevoorreg dat ek ’n ongelooflike wynreeks by die vorige wynmaker, Gunther Schultz, geërf het. Ek sien daarna uit om binnekort my eerste wyne te bottel.
Hoekom sal jy mense aanmoedig om op die plaas te kom kuier en watter verrassing wag daar vir hulle?
Sodat mense weet waar druiwe vandaan kom en hulle sal deur die skoonheid van die Blaauwklippen-vallei verras word.
Wat het jou studies as chemiese ingenieur jou geleer wat jou dalk effe anders na die wynmaakproses laat kyk as ander wynmakers?
Ek glo dit het my meer in ’n probleemoplossing-rigting laat dink en werk.
By wie het jy nog die meeste oor die wynleefstyl geleer?
Jean Engelbrecht van Rust en Vrede het my gehelp om my liefde vir kos en wyn net verder te ontwikkel. Sy lewensfilosofie, sowel as die leuse van sy Guardian Peak-wyne is Live with wine, en ek glo ook daaraan. Wyn maak ’n maaltyd ’n memory. Ek wil hê elke keer as iemand een van ons wyne oopmaak, moet dit hulle onmiddellik terugneem na hul kuier op die plaas.
Wat is die mooiste woorde wat jy al om die wynmaak-proses gehoor het?
Wine is bottled poetry.
Woon jy en jou gesin op die plaas?
Ja, ek en my vrou, Danielle, en twee dogtertjies, Isabella (3) en Lea (1) woon ’n klipgooi van die kelder af. Ek stap werk toe en smiddae as my vrou klaar gewerk het, kom haal sy en die kinders my en ons stap deur die pragtige wingerde huis toe.
Wat is die grootste uitdaging wat wynmakers in 2020 in die gesig gaan staar?
Om hul wingerde te bestuur ten einde uit die skok van die droogtes te oorkom en weer ordentlike reserwevlakke te kan opbou.
Hoe leer ons wynliefhebbers om meer vir wyn te betaal?
Maak wyn deel van hul leefstyl.
Hoe stel jy minder bekende kultivars soos rousanne aan wyndrinkers voor?
Om ’n wyn rondom kos te verduidelik, is baie minder intimiderend – mense lewer baie graag kritiek/opinies oor wyn sodra daar kos betrokke is.
Hoe voel jy oor kompetisies en pryse?
Ek dink hulle dien as goeie verwysings vir verbruikers.
Watter prys wat jul wyn al ingepalm het, het vir jou die meeste betekenis?
Tim Atkin se verslag oor SA wyne is baie goed vir Suid-Afrikaanse wyne in ’n internationale konteks.
As wyndrinkers verward voel oor watter kompetisies of wynkritici se uitslae of opinies hulle moet volg as hulle wyn koop, watter raad het jy vir hulle?
Koop die wyn wat vir jou lekker smaak, probeer alles ten minste een keer. En drink die wyn – ’n leë bottel wyn het baie meer waarde as een wat te lank lê en oud word. Deel wyn met vriende en geniet dit, dit is hoekom dit daar is.
Watter bottel wyn was nog jou gunsteling van alle tye?
’n Klein produsent in die St. Joseph-area van die Rhône – Pierre Gonon, die rooi en wit is ongelooflik.
Som jou wynmaakstyl in vyf woorde op
Suiwer, saamgeweef, lewendig, tekstuur en voortslepend.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.