Reenen Borman is die afgelope agt jaar die wynmaker by Boschkloof buite Stellenbosch
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Reenen Borman van die klein familieplaas Boschkloof buite Stellenbosch, se Boschkloof Louis 57 Shiraz 2016 is onlangs vereer as een van Suid-Afrika se top 12 shiraz-wyne by ’n geleentheid op Rhebokskloof.
Reenen is getroud met Marli en hulle woon op die plaas. Marli is ’n finansiële bestuurder vir Dew Crisp op Stellenbosch.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Ek het op La Motte Wynlandgoed in Franschhoek grootgeword. Ek onthou nog goed toe ek 5 jaar oud was en skelm die oorskietwyn van toeriste in die proelokaal gedrink het. Ek glo dit was toe die begin van my liefde vir wyn.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My eerste werk en pars was by L’Ormarins in hul Antonij Rupert-rooiwynkelder en daarna is ek vir twee maande Frankryk toe om in die Rhône-vallei te pars. Ek was by alle aktiwiteite in die kelder betrokke en het baie ondervinding op gedoen.
Hoe lank is jy in jou huidige pos?
Ek is nou al agt jaar betrokke by Boschkloof. Dit is ’n familieplaas en -kelder en ek wou so vroeg as moontlik hier begin werk om die wingerd en druiwe te leer ken.
Watter deel van jou werk geniet jy die meeste en watter deel die minste?
Om met druiwe en wyn te werk, is verskriklik lekker – veral deur aan te hou leer soos mens ouer word. Daar is te veel kennis van grond, wingerd en wyn om in een leeftyd in te neem. ’n Groot nadeel is wel al die administrasiewerk betrokke by die wynmaakproses.
Hoe voel jy oor kompetisies?
Ek is persoonlik nie ’n groot voorstander vir kompetisies nie, maar besef dit is nodig en kan ´n handige gids vir die koper wees, veral om ’n beter koop-besluit te neem. Ek streef wel om wyn en besigheid te skep waar die kliënt altyd kwaliteit kan verwag en vertroue kan hê in die etiket sonder enige kompetisieresultate.
Hoe voel dit om by die Shiraz SA beloon te word en is shiraz jou sterk punt?
Dit is ’n groot voorreg om ’n wyn te maak wat deur Shiraz SA bekroon word. Ek glo shiraz is Boschkloof se sterk punt. Ons het verskriklike mooi granietgrond waarin die shiraz-druif baie goed aard. Ons spesialiseer in ’n vrug- en viooltjiegedrewe geur in ons shiraz.
LEES OOK: Wynmaker: Dewaldt Heyns
Voer julle uit en hoe lyk die persentasie plaaslik versus uitvoer?
Ons voer omtrent 70% van ons wynproduksie uit. Ons grootste fokus is Europa en Asië.
Watter een van die wyne is jou persoonlike gunsteling?
Ons vlagskip is ons enkel-wingerd-shiraz, Epilogue. Ek het in die Rhône-vallei in Frankryk verlief geraak op shiraz en glo ons kan ook dieselfde styl hier in Stellenbosch maak. Wyne wat hul area en omstandighede eerlik weerspieël en nie deur oorryp ekstraksie en hout verbloem word nie.
Watter kultivar gee jou die grootste kopseer?
Ek voel ek het nog nie die beste cabernet sauvignon gemaak wat ek kan nie, en dit bly ’n groot doelwit vir my.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ek glo Boschkloof het ’n positiewe beeld. Ons is ’n klein familiebesigheid met nie ’n groot begroting soos die meeste plase nie. Dus probeer ons net op die wyne fokus en hulle so goed as moontlik in die bottel te kry. Ek het wel besef dat wynmaak nie oornag sukses kan bring nie en dat ek geduldig moet wees en ’n visie vir die toekoms moet volg.
Wat beplan jy vir die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
Ek maak ’n paar kleiner hoeveelheid wyne, met ’n bietjie meer new wave-gevoel. Ek maak ’n colombar en chenin blanc met druiwe uit Montagu wat Patatsfontein genoem word, asook ’n grenache uit Polkadraai wat Kottabos genoem word. Waar die Boschkloof-wyne meer klassiek is, kan ek met die ander wyne ’n bietjie meer eksperimenteer en my passie in sekere aspekte uitleef, asook om soveel te leer as moontlik.
LEES OOK: Wynmaker Ilse Schutte
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Ek sal graag eendag met marsanne en rousanne wil werk. Hopelik kry ek die kans in die toekoms.
Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die SA wynbedryf te help groei?
Om meer nuuskierig te wees en nuwe wyne te probeer. Om nie vas te haak op ’n sekere wyn en pryspunt nie. Nie een wyn proe dieselfde nie en dit is die grootste positiewe aspek vir my van wyn. Elkeen vertel ’n storie en wie wil nou dieselfde storie oor en oor luister?
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Hoe dieselfde druif wat net 20 meter van mekaar groei en op dieselfde manier verwerk word, in die kelder heeltemal verskillend kan smaak. Hy neem karaktereienskappe van die grond, mikro-klimaat en omgewing aan en beeld dit in die eindproduk uit.
As jy nie wynmaker geword het nie, in watter ander beroep sou jy kon gelukkig wees?
Ek sou graag ’n veearts wou word. Ek is verskriklik lief vir diere.
Wie is jou wynmaak-helde?
My pa is my grootste held. Hy het my al verskriklik baie geleer en gee my ook die vryheid om my eie passie met wyn uit te leef.