Randolph Christians is die afgelope tien jaar die hoof wynmaker van Rustenberg Wyne buite Stellenbosch
Deur: Maryke Roberts
Foto: verskaf
Randolph en sy vrou, Alice, ’n afgetrede onderwyseres – ma van drie en ouma van drie – het vir 20 jaar op die plaas gewoon en die vryheid en prag daarvan geniet. Met sy aftrede wat wink, het hulle na hul eiendom in Jamestown buite Stellenbosch verhuis, waar hy sy vrye tyd in sy tuin geniet.
Randolph was vir twee jaar verantwoordelik vir die instandhouding van keldertoerusting in ’n landgoedkelder in Stellenbosch, toe die wynmaakgogga hom byt. Sy loopbaan het egter in die konstruksie- en ingenieursbedrywe begin, met betrokkenheid by onder andere projekte soos die Koeberg-kernkragsentrale en die Sasol-aanlegte in Secunda. Hy begin in 1989 as keldervoorman by Stellenzicht en sluit toe by Rustenberg Wyne as assistent-wynmaker aan. In Oktober 2007 word hy bevorder tot hoofwynmaker op die plaas. Daarvandaan kyk hy net vorentoe.
Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?
Jy moet met mense op alle vlakke van die samelewing kan werk; bereid wees om jou sosiale lewe tydens oestyd prys te gee en nooit dit wat in jou kelder aangaan as vanselfsprekend aanvaar nie – wees die kaptein van jou skip.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Die hele wynmaakproses is fassinerend, maar die beste is die gistingsproses met die omskakeling van suiker na alkohol. Laat ek tog byvoeg – om daai glas te lig en jou te kan verlustig in die kleur, geur en helderheid van die eindproduk.
LEES OOK:Wynmaker: Megan van der Merwe
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Daar is deesdae baie geleenthede vir wynplase om betrokke te raak by die opheffing van die gemeenskap. Begin by jou werkers. Rustenberg slaag baie goed hierin.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Wat ek vinnig as wynmaker geleer het en nie verwag het nie, is dat jy grootliks oorgelaat is aan dit wat Moeder Natuur na jou kant toe gooi. Elke oesjaar kom met ’n nuwe uitdaging.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Versigtig/konserwatief. As wynmaker vir Rustenberg Wyne, met ’n lang geskiedenis van topgehalte wyne, krap jy nie graag waar dit nie jeuk nie. Ek sal op klein skaal eksperimenteer met die oog op hoër gehalte wyne en nie om dinge anders te doen as dit wat vir ons werk nie.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Uitbreiding van cabernet sauvignon- en chardonnay-wingerde (die ruggraat van ons rooi- en witwyne onderskeidelik) en die aanplanting van cinsaut om weer ’n versnit soos die destydse Rustenberg droë rooi in die mark te sien. Wat die kelder betref, sal ek graag ons vloere heeltemal wil oordoen en die verkoelingstelsel opgradeer.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dit bring mense bymekaar en word maklik die hoofonderwerp van ’n gesprek.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Dis ’n moeilike vraag…dis amper soos om te vra wie jou gunstelingkind is. Ek hou van die maak van houtverouderde chardonnay (natuurlik gegis), net soveel as wat ek daarvan hou om ’n goeie bordeaux-versnit te maak. (Al vyf variëteite natuurlik).
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Cinsaut
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag wil sien ontluik in die toekoms?
Roussanne. Dit kan ’n fantastiese wyn op sy eie wees, maar werk net so goed in ’n versnit, met of sonder hout. Jonk pas dit baie goed by pluimveegeregte en verouderd is dit veral fantasies met eend.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
’n Wynproe op die trappies tussen ekonomie en besigheidsklas op ’n Quantasvlug na Australië.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Die verandering van ons weerstelsels, tesame met ’n moeilike ekonomiese klimaat en ongunstige politieke omstandighede.
Wat was sover jou persoonlike, grootste uitdaging as wynmaker?
Toe ek tydens die 2008-oesjaar ’n hittegolf tydens die parstyd moes trotseer en dit moeilik was om te besluit of die cabernet sauvignon geoes moes word of nie. Die suikerlesings was heeltemal deurmekaar. Om te wag, was op die ou einde ‘n goeie roep en goeie rooies is gemaak.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Dat ek ’n voorbeeld kan wees vir my ondergeskiktes en natuurlik al die toekennings wat tot dusver opgestapel is.
LEES OOK:Wynmaker: Ben Snyman
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Manne wat nie opdaag vir die laatnag- naweek-oorpompe nie, maar op die een of ander wyse word die werk gedoen.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
’n Behoorlike afvalwater-herwinningstelsel, goeie natuurlike lig in die werksareas, natuurlike verkoeling in die verouderingslokale, goeie gravitasie-uitleg, sonkrag, en dit mag dalk snaaks klink, maar so min as moontlik outomatisasie.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker?
Die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker ken sy kultivars en hul eienskappe, weet by watter geregte dit goed pas, weet dat die beste wyne nie noodwendig die duurste is nie en verbreed sy/haar wynkennis deur te lees en te luister.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Benader dit soos ’n eksamenvraag. Volg jou eerste instink en ignoreer die prys.
Na watter internasionale wynmaker kyk jy op?
Dit was ’n belewenis om ’n pars te doen met wyle Paul Pontallier van Chateau Margaux. Tans sien ek so twee keer per jaar vir Kym Milne, internasionale wynmeester en wynmaker/eienaar van Bird in Hand in Adelaide, Australië.
Watter wynbestemming oorsee het jy al besoek, wat jou baie beïndruk het?
Ek was onder andere in Frankryk, Italië, Nieu-Seeland en Australië. Australië het my beïndruk met die eenvoudige wyse waarop hul plase en kelders uiteengesit is, maar waar daar tog wyne van uitstaande gehalte geproduseer word.
Hoe voel jy oor die toekoms van die SA wynbedryf?
Baie opgewonde. By elke groot wyngeleentheid besef ek net meer en meer hoe ons land vooruitgang maak ten opsigte van gehaltewyne. Ons moet sorg dat ons op die voorgrond bly en net nooit op ons louere rus nie. Dit is nie ’n maklike bedryf nie, maar ons mense het die vermoë om te kan vasbyt.
Watter kultivar dink jy gaan in die toekoms die meeste roem vir Suid-Afrika bring?
Pinotage ervaar al meer internasionale erkenning en is beslis ’n goeie kandidaat.
As jy een bekende kon nooi vir ’n wynproe, wie sou dit wees?
Spingbok-afrigter, Allister Coetzee.
Na wie gaan jy vir raad met groot besluite?
In die meeste gevalle raadpleeg ek my Bybel, bid oor die saak en praat met my vrou.