Philip Jonker is die eienaar van en wynmaker by Weltevrede Wynlandgoed buite Bonnievale in die pragtige Robertsonvallei
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Hy is die vierdegeslag-wynmaker op dié pragtige familieplaas en vier vanjaar 20 jaar se wynmaak. Hy en sy vrou, Lindelize, is vanjaar 21 jaar getroud. Hy sê: “Sy’s my heldin, sy maak my sterk en hou my arms hoog. Ons is een. My suksesse is ook haar suksesse.” Die Jonkers het twee kinders, Marianna (12) en Philip (1).
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Ek dink dit is maar in jou DNA en in jou bloed, tot ’n mate, as jy op ’n familieplaas grootword en jy woon tussen die wingerde vandat jy jou oë oopmaak. En jy besef nie noodwendig hoeveel daarvan regtig in jou ingeweef is nie totdat jy op universiteit sit tussen ander wingerd- en wynkundestudente en jy begin agterkom jy het ’n insig en ’n aanvoeling wat hulle nie het nie, omdat hulle nie daartussen grootgeword het nie.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek het as parshulp onder Charles Webb by Thelema Mountain Vineyards my prakties gedoen. Na my studies is ons getroud en het oorsee gegaan. My eerste werk was in die Napavallei in die VSA. Daar het ek saam met Mexikane as ’n kelderhulp gewerk. Daarna het ek vir een parsseisoen teruggekom Weltevrede toe en daarna is ek Frankryk toe, waar ek by Chateau La Dominique in Saint-Emilion in Bordeaux gaan werk het. As ’n kelderhulp doen jy die take van ’n parshulp; jy staan met ’n graaf of gereedskap in die hand. Jy neem glad nie besluite oor wynmaak nie. Jy voel-voel, maar jy leer ontsettend baie.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer?
Mens kom met ontnugtering van universiteit af; jy dink jy weet nou al baie; jy weet alles. En dan stap jy in die werk in en dan kom jy agter die leer begin nou eintlik.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Ek dink ek is definitief skeppend-kreatief en hou daarvan om die grense te toets. Ek sal liewer ´n klein bietjie baie besonderse wyn maak, as wat ek ’n groot klomp gemiddelde wyn maak.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Natuurbewaarder, marienebioloog, ontdekkingsreisiger, sendeling, argitek, pottebakker, beeldhouer, Karooboer – daar’s heelwat. Maar ek onthou dat ek wel vir mense vertel het dat ek ’n koning gaan word as ek eendag groot is!
LEES OOK: Wynmaker: Dewaldt Heyns
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dis moeilik om dit in een begrip saam te vat, maar ek sal sê die feit dat dit al ’n eeue oue produk is wat eintlik oor al die jare maar net ’n natuurlike produk is van druiwesap wat gis en tog, na al die eeue, fassineer dit mense steeds.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Ek dink ek geniet my wyn die meeste wanneer dit die perfekte kombinasie met kos is. Ek is bevoorreg om met Lindelize getroud te wees, wat regtig kunstig in die kombuis is en lief is vir kosmaak. So ek sal sê die meeste hiervan is saam met haar oor ’n lekker bord kos.
Wat is jou gunstelingkultivar?
Chardonnay – dis so ’n staatmaker en fassinerend en klassiek en wêreldwyd. Daar is goeie redes hoekom dit waarskynlik die wit kultivar met die grootste status is. Dit speel ’n groot rol by ons Cap Classique. Ek maak agt verskillende chardonnay’s in verskillende vorme. Chardonnay is baie lief vir Weltevrede se grond en terroir; dit maak net ’n baie lekker wyn, wat ek eintlik by baie geleenthede kan oopmaak en dit werk met baie verskillende kossoorte.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Ek kan nie regtig aan ’n bestande kultivar dink waarmee ek nog graag sou wil werk nie. Ek het al met ’n paar interessante en vreemdes gewerk; ek het met ou wingerdstokke in Uganda gewerk wat inheems daar is en nie geweet wat dit is nie. Ek het al wyn gemaak van ou stokke op Robbeneiland, wat ons ook nie presies geweet het hoe nie. Op Weltevrede self het ons ’n baie breë spektrum kultivars.
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag wil sien ontluik in die toekoms?
Weer chardonnay. Mense onderskat die gehalte van die chardonnay wat hier uit Suid-Afrika kom, maar internasionaal gesien hoef ons glad nie vir ons Chardonnays skaam te wees nie. Ek dink ons het regtig ’n individualistiese styl en ons moet dit self herontdek en begin waardeer.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Ek het ’n paar: die eerste is die eerste wyn wat ek gemaak het – my eerste Cap Classique 1994-oesjaar, wat op ons troudag in 1996 vir die eerste maal oopgemaak is. Dit was baie spesiaal en ek sal dit altyd onthou. En dan die wyn wat ons vir Nelson Mandela uit Robbeneiland-wingerde gemaak het; dit was baie, baie spesiaal. Dan ook die Lourens Jonker Shiraz wat ons in 2006 saam met die nonne van Uganda vir my pa se 70ste verjaarsdag gemaak het.
LEES OOK: Wynmaker Matthew van Heerden
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2018?
Om regtig jou voete in die kelder te kan hou. Daar is soveel aanvraag uit die mark om die wynmaker te ontmoet, of ’n wynproe deur die wynmaker te geniet, só word verskriklik baie tyd weg van die kelder deurgebring.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Ek dink om as jong wynmaker plaas toe te kom en eintlik met ’n ou kelder, met ou tegnologie te begin wat op ’n vorige geslag van toepassing was. Dit het onprakties geraak en selfs die uitleg van die kelder was ook onprakties en verouderd. Ons het basies die kelder tot in die grond afgebreek en oorgebou vir die 2003-oesjaar. Dit was ’n besonderse belewenis, en nou het Weltevrede ’n baie lekker kelder. Ek het intussen die geleentheid gehad om ander mense te help om hul kelder te ontwerp.
Vir my moet ’n kelder eenvoudig wees en hy moet maklik kan skoonmaak en jy moet lotte kan apart hou. Jy moet die potensiaal waarvoor jy heel jaar lank in die wingerd gewerk het, in die kelder kan ontgin.
Watter wyn- en kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
My gunsteling bly ’n springbok-rugstring wat op ’n oop vuur oor hoë hitte gebraai word, nog lekker pienk en saam met die Hard Rock Cabernet van Weltevrede geniet word.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker – eksperimenteer meer, betaal duurder vir wyne, ens?
Vir my is die ideale Suid-Afrikaanse wyngebruiker die ene wat al hier op Weltevrede kom kuier het en al die stories kom beleef het, wat ekstra waardering het vir die wyne van Weltevrede, omdat hulle weet waar die wyne gebore is.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Soek iets wat jou ‘weltevrede’ sal maak. Kyk vir Weltevrede of vra vir iemand waar die wyne van Weltevrede staan. Ek weet dis baie moeilik om voor ’n muur van wyne te staan.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Dit is my bloed!
Wie is jou wynmaak-helde?
Ek sal my pa, Lourens, graag uitsonder.
Woon jul gesin op die plaas en wat is die voordeel en nadeel daarvan?
Ons bly in die middel van Weltevrede tussen die wingerde. Dis lieflik om tussen die wingerde te kan bly. Dis net wonderlik om jou kinders op die plaas te laat grootword. Daar is nadele: jy woon in die middel van jou werk, maar ek wil dit nie eers noem nie, want dit het ons so oorweldig deur al die voordele.