Mont Blois Wynlandgoedvan Robertson is een van slegs twee kelders wat in die 17de jaarlikse Muskadel SA-toekennings met platinum vereer is
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Die sesde generasie Bruwers van dié landgoed se wenwyn, Mont Blois Pomphuis White Muscadel 2016, is van 26 jaar oue wingerd afkomstig en daar is slegs 330 kiste geproduseer.
Die bottels is verpak in ’n houtkissie en afgerond met die Bruwer-familiewapen. Nina-Marie se man, Ernst Bruwer, is die sesde generasie op Mont Blois, en het by sy oupa oorgeneem. Nina en Ernst het op universiteit ontmoet toe hulle saam Wingerd- en Wynkunde op Stellenbosch geswot het. Hulle is nou 11 jaar getroud en sy is dus 11 jaar op Mont Blois. Ernst boer en sy maak die wyn met ’n baie goeie span.21. Wat is jou man en jul kinders se name en woon julle op die plaas en indien wel, wat is die voordeel en nadeel daarvan?
Die Bruwers bly op die plaas met hul twee dogtertjies, Olivia (8) en Isabelle (5). Die derde dogtertjie is op pad. Die gesin is mal oor die plaaslewe – die kinders speel buite en loop kaalvoet. Hulle bak modderkoekies en ry fiets en kan troeteldiere soos hasies en hoenders aanhou.
Hoe voel jy oor jul bekroning vir muskadel? Is daar nog ’n mark vir muskadel en wat beteken hierdie toekenning vir julle?
Ons is baie trots en voel geëerd oor die toekenning. Ons is ernstig oor muskadel en wil graag weer die kollig daarop plaas. Muskadel is deel van Suid-Afrika se erfenis. Ons vind dat mense mal is oor die muskadel en ons is baie optimisties oor die toekoms van dié kultivar. Daar is beslis ’n mark daarvoor. Op die binne- én buitelandse markte doen die muskadel goed.
Bring dit ekstra druk as jy by ’n gerespekteerde wynplaas aansluit?
Ek is nuwe bloed op Mont Blois, maar vir Ernst was dit nogal ’n baie groot ding om weer Mont Blois-wyne in die bottel te sit. Dit was groot skoene om te vul. Mont Blois het vir 28 jaar nie wyne gebotteleer nie hoewel ons wel wyne geproduseer het. Dis nie iets wat oornag gebeur het nie. Daar is baie gepraat en beplan daaraan.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
My pa is ’n dokter en wou graag hê ek moes in sy voetspore volg. Ek het egter nie ’n passsie daarvoor gehad nie. Ek was op soek na iets wat my oë sal laat skitter. Ek kom van Pretoria af. Albei my sussies was reeds studente op Stellenbosch en ek het op ’n dag met iemand in die wynbedryf gepraat. En op daardie stadium was daar min vrouens in die bedryf. Ek het dit as ’n uitdaging gesien en besluit dit klink “anders”. Gelukkig was my pa ’n groot wynliefhebber met ’n interessante wynkelder. So my keuse het darem op die ou end sy goedkeuring weggedra.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
As assistent-wynmaker by Boekenhoutskloof in Franschhoek.
Hoe lank is jy nou by Mont Blois en waar was jy oral as wynmaker?
Ek is al 11 jaar op Mont Blois. Ek het my parsprakties as finale jaarstudent by Boekenhoutskloof gedoen en is direk ná my gradeplegtigheid ’n werk daar aangebied. Ek het nog by Boekenhoutskloof gewerk toe Marc Kent my vir drie maande Frankryk toe gestuur het Vignobles Despagne toe, om ervaring in Bordeaux op te doen. Die aand wat ek van Frankryk af teruggekom het, het ek en Ernst verloof geraak (Ernst het gesê ek mag nooit weer so lank alleen weggaan nie). Ek was 22 op daardie stadium en hy was 23. Ek het daarna bedank by Boekenhoutskloof en nog een laaste pars by Thelema gaan doen vir die ondervinding, voor ons in April 2008 getrou het.
Wat is jou vroegste herinnering aan goeie wyn?
Terwyl ek in Franschhoek gewerk het, het Marc Kent Vignerons de Franschhoek proeë aangebied. Hy het altyd gesê “om goeie wyn te kan maak, moet jy goeie wyn proe”. Ek is daar aan van die wêreld se beste wyne blootgestel en ook baie goeie wynproeërs soos Rudiger Gretschel en Godfried Mocke, wat my geïnspireer het om my Kaapse Wynmeester te doen. Ek wou so goed soos hulle wees. Ek was verstom hoe hulle ’n glas kon vat en dan presies kon sê waar die wyn vandaan kom, asook die oesjaar en kultivar.
Hoe bly jy getrou aan die plaas se erfenis, maar bly terselftertyd by met 2019 se tendense en giere?
Erfenis is vir ons op Mont Blois baie belangrik en die ook hoekom ons die muskadel ná 28 jaar sonder bottelering weer vrygestel het. Mont Blois Muskadel wás Mont Blois. Dis die geskiedenis wat oor die geslagte oorgedra is. Dis die “waar ons vandaan kom”-deel. Min familieplase deurstaan vandag die toets van die tyd. Om dus deel van die sesde geslag op Mont Blois te wees, is ’n eer en ’n voorreg. Ons sien dat dit wat aan ons toevertrou is, opgepas moet word, maar ook ons verantwoordelikheid is om te verbeter vir die volgende geslag. As nuwe geslag op Mont Blois het ons egter besluit om ’n nuwe rigting in te slaan en dis om wyne uit ´n enkelwingerd-kultivar te maak. Ons wil graag die terroir en diversiteit van ons plaas in ons wyne uitbeeld. As jy ’n bottel Mont Blois drink moet jy die prentjie in jou geestesoog kan sien – proe van waar die wyn kom.
Watter planne het jy vir die wingerde op die plaas – uithaal, herplant of nuwe kultivars, waaraan werk jy?
Ons het nog baie planne. Ons is mal oor cabernet franc en wil baie graag met die kultivar werk. Ons beplan ook om pinot noir (rooiwyn-kloon) te plant. Tans het ons slegs die vonkelwyn-kloon. Grenache noir dink ek ook is goed aangepas om in ons klimaat te floreer. Daar is nog so baie wat ons op Mont Blois wil doen.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Ek vertou my gut – maak nie saak wat nie. Daai stemmetjie daar binne weet.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Ek probeer so natuurlik as moontlik wyn maak. Wyne word in die wingerd gemaak. Ek is slegs die laaste skakel in die hele ketting. Om wyn te maak, is spanwerk. Van ons werkers wat in die wingerde werk (wat die wingerde snoei en suier), tot ons plaasbestuurders tot elke besluit wat deur ieder en elkeen gemaak word.
Wat glo jy is die uitdagings of eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Op die oomblik is die droogte steeds ’n realiteit vir ons op Mont Blois. Veral in die De Hoop-area wat afhanklik is van reën om ons damme vol te maak.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Ek en Ernst het altyd gesê “we are our own worst critics”. So vir ons was die grootste uitdaging om eendag ’n wyn te kan maak waarmee ons self gelukkig is. As ons op ons stoep kan sit en gelukkig kan wees met wat ons in die bottel gesit het (en die wyn wil drink), is ons tevrede. So dit is vir ons ’n oorwinning Dit beteken egter nie dat ons gaan stagneer nie. Mens kan altyd beter raak en altyd iets nuuts leer en nuwe uitdagings aanvat.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Winkelrakke is baie intimiderend. Ek is ’n uitdagende wyndrinker, so ek kies makliks iets nuuts, maar dis nie so maklik nie. Jy wil graag tevrede wees met wat jy gekoop het en nie teleurgestelword nie. Jy wil weet dit was waarde vir jou geld en dat jy dit geniet het. My raad is om jou wyn by die regte wynwinkel te gaan koop. Gaan na iemand toe wat ’n pad met jou kan stap en luister na hul aanbevelings en gee terugvoering oor hoe die wyn was. Hulle kan dan die volgende keer iets anders of iets soortgelyks voorstel. Hulle ken die stories en waar die wyne vandaan kom.
Wat geniet jy aan die Robertsonvallei?
Dis so pragtig hier! En die feit dat twee karre by ’n stopstraat as spitsverkeer tel. Ek is mal oor die plattelandse lewe en die beeldskone natuur met skoon lug. Ons geniet dit om te gaan draf en bergfiets te ry. Daar is die wonderlikste paadjies hier. En dis wonderlik om kinders hier groot te maak.
Vertel my van jou honde?
Ons is baie lief vir ons honde. Yster en Nala gaan boer elke dag sam met Ernst op die plaas. Ons eerste rifrug se naam was Bacchus. En ons enigste wyn wat nie ’n enkelwingerdwyn is nie (en dus nie ’n naam gehad het nie) is na hom vernoem. Maar moet asb nie van ons katte vergeet nie: Trixi kom al van universiteitsdae af saam met my en sy maak die honde bang. Op Mont Blois is sy baas.
Watter bottel wyn het vir jou die mooiste herinneringe? Waar en saam met wie het jy dit gedrink?
Die eerste keer wat ons ’n 1984 bottel Mont Blois Muskadel oopgemaak het. Dis my en Ernst se geboortejaar. Dit was vir my baie spesiaal om ons eie plaas se wyn te drink wat so oud soos ons was. En boonop was hy nog in ´n perfekte toestand – 30 jaar later. Ons het bitter min voorraad van die ou oesjare oor.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Ek het onlangs die wynmaker van Chateau Petrus ontmoet. Dit was nogal ’n groot ene. Ek sal nie omgee om die wynmaker van Romanee Conti te ontmoet nie (maar ek is eintlik agter die proe daarvan aan).
Wat was nog jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
2018 was die jaar wat ek en Ernst saam die ABSA Cape Epic gery het. Die Epic het oor al drie ons plase gegaan en dit was ’n baie spesiale ervaring. Om al die oefening in te pas en die Epic tydens parstyd te ry, was egter uitdagend. En boonop toe dit by bottelering kom en ek moet besluit watter 2018-vaatjies in elke versnit ingaan, was ek 13 weke swanger. Alles proe anders as jy swanger is – alkohol staan uit. Dis onfgelooflik hoe jou liggaam vir jou sê wat hy wil en nie wil hê nie. Aan die pluskant is jou reuksintuig nog meer versterk. Daar is egter baie meer vatjies wat ek as gevolg daarvan afgekeur het. Dit was egter iets wat ek nie sou kon uitstel tot ná ons dogtertjie se geboorte nie. Die vaatjies moes leegword vir die nuwe oesjaar. Ek het wel net geproe en gespoeg. En daarna het ek glad nie weer aan die wyne geproe nie. Ek was te bang. Ek was nie seker of die wyne ons beste of ons slegtste oesjaar gaan wees nie. Die 2018-oesjaar is nou die dag vir die eerste keer deur die Britste wynkenner, Tim Atkin, geproe. Ons is tevrede en opgewonde oor die wyne, maar ons sal moet sien.