Newald Marais is die eienaar en wynmaker van Kranskop Wyne buite Robertson
Deur Maryke Roberts
Foto Clifford Roberts
Hy en sy vrou, Marie-Louise, het die plaas sewe jaar terug gekoop en hy noem sy vrou sy regterhand. Hulle het twee dogters en is ook trotse grootouers. Newald het op ’n wynplaas grootgeword waar wyn in ’n tradisionele plaaskelder gemaak is en op 14-jarige ouderdom het hy vir die eerste maal geëksperimenteer om wyn in 5-liter-glaskanne. Hy het van sy skooldae af geweet hy gaan eendag wyn maak.
Sy eerste werk in 1976 was assistent-wynmaker by Nederburg, waarna hy eers raadgewende wyn- en wingerdkundige vir die vorige eienaar van Kranskop was, voor hy in 2010 eienaar geword het.
Hoe sien jy jouself as wynmaker – versigtig, voortvarend, avontuurlustig of konserwatief en hoekom sê jy dit?
Versigtig, maar wel avontuurlustig. Versigtig oor die finansiële aspek, en avontuurlustig omdat ek graag alles wil ervaar.
Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?
Geduld, geduld, geduld.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Nie een oesjaar is dieselfde nie.
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Deur die verbruiker na die plaas te lok, en hom/haar eerstehandse blootstelling aan al die aspekte van wingerd- en wynkunde te gee.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
’n Chenin blanc 2017 (van ’n ou chenin-blok). En vorentoe ’n MCC (blanc de blanc)
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Eerlikheid.
LEES OOK: Wynmaker: Pieter Carstens
Wat is jou gunstelingkultivar?
Cabernet sauvignon, want dit bly voortdurend ’n uitdaging.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Ek wag nog vir een.
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag wil sien ontluik in die toekoms?
Moontlik tannat.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
’n Wynproe wat ek in die Namibwoestyn naby Swakopmund, tydens sonsondergang met Edel laatoeswyne van Nederburg gedoen het.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Om die regte produkte te kies en teen regte pryse topwyne te maak.
Wat was sover jou persoonlike, grootste uitdaging as wynmaker?
Die laaste sewe jaar toe ek my eie wingerd bestuur het én die wyn van daardie druiwe gemaak het.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Om my eie wynplaas (Kranskop) op ’n redelike ouer ouderdom (55) te bekom.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Dit kom só gereeld voor en is deel van die uitdaging. In 2014 het ek my nuwe kelder-uitbreiding gedoen, en was dit ’n groot uitdaging om betyds reg te wees vir die oes.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Prakties, met baie spasie.
Watter wyn- en kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Mosterd-hoender/Soetsuur-hoender en chardonnay.
Watter wyn sal jy aanbeveel met soesji en wat met speseryagtige kos?
Soesji met sauvignon blanc en speseryagtige kos met Viognier.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker?
Hulle eksperimenteer te min. ’n Ideale wyndrinker moet homself meer blootstel aan die wingerd en wynmaakproses om die waarde van ’n bottel wyn te kan verstaan.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Veroudering.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
’n Veearts.
LEES OOK: Wynmaker: Danie Steytler
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Dis ’n geweldige uitdaging. Lees die rugetiket, maak seker jy verstaan wat daar bedoel word, en indien iets onduidelik is, gaan op die webwerf om jouself ingelig te kry. Toekennings kan ook ’n aanduiding van die kwaliteit van die wyn gee.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Hy laat hom nie bestuur nie.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
In wyn is arbeid, waarheid en wysheid.
Wie is jou wynmaak-helde?
Günter Brözel, en nog baie ander ouer en jonger geslagte. Te veel om op te noem.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Daar is net te veel goeie wynmakers.
Watter wyn-bestemming oorsee het jy al besoek, wat jou baie beïndruk het?
Nieu-Seeland.
Hoe voel jy oor die toekoms van die SA wynbedryf?
Positief, daar is lig in die tonnel vir hulle met baie moed en geduld.
Watter kultivar dink jy gaan in die toekoms vir Suid-Afrika die meeste roem bring?
Waarskynlik pinotage, veral met mense soos Beyers Truter.
As jy een bekende kon nooi vir ’n wynproe, wie sou dit wees?
My droom was om vir Nelson Mandela vir ’n glasie wyn te nooi.