Narina Cloete is die wynmaker by die historiese Blaauwklippen Landgoed buite Stellenbosch
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Dis een van die land se oudste wynplase en dateer terug na 1682. Haar kollegas in die wynbedryf ken haar as Smullie en Stokkieskop. Hoewel sy op skool gedroom het van’n loopbaan as professionele danser, is sy nou baie tuis in die kelder tussen die vate en tenks.
Haar eerste werk was as assistant-wynmaker by Quoin Rock Wines en sy vier vanjaar twee jaar by Blaauwklippen.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Van kleins af was daar vir my iets geheimsinnigs aan wynmaak en wyn, maar ek het nooit gedink ek sal ’n loopbaan daarin volg nie, want ek is ’n Vrystaatse nooi. My ouer broer het egter wingerdkunde studeer en werk ook tans as ’n wingerdboukundige en so het ek blootstelling daaraan gekry.
Watter kultivar dink jy is Blaauwklippen se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?
Cabernet sauvignon en vir iets anders, Zinfandel.
Julle doen jaarliks die Blaauwklippen Versnit-kompetisie waar wynklubs van regoor die land hul eie versnitte van Blaauwklippen-wyne maak. Hoekom is sulke geleenthede belangrik?
Dit trek die publiek in by die romanse van wynmaak en wyngebruik.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek?
Dis ’n uitstekende bestemming net buite Stellenbosch, waar families en vriende in die Kaapse wynlande kan ontspan en wyn geniet. Ons het ’n restaurant en mark oor Sondae en bied iets vir die hele gesin.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Moenie jouself onnodig oor onnodighede bekommer nie.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Om die vrug en terroir van die druiwe in wyn uit te druk; kuns in vloeibare vorm.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
Hou hierdie spasie dop!
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die kompleksiteit en balans.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Een van die meer skaars Meditereense kultivars. Daar is verskeie, veral die wat in die antieke amforas gemaak word.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
’n Kos-en-wyn-aand by die Londra Palace in Venisië.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2018?
Die droogte en die effek op wingerde, asook ook die druifsamestelling.
Dink jy die uitdagings is anders vir vroue as vir mans?
Ja, beslis.
LEES OOK: Wynmaker: Izele van Blerk
Hoe navigeer mens om die ergste droogte in 100 jaar?
Mens probeer water in die kelder spaar waar jy kan en beplan en werk uiters voorkomend met die druiwe en gistings.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Om in 2013 as een van die finaliste van die Diner’s Club Jong Wynmakers van die Jaar benoem te word.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Die vloei moet prakties wees en steeds die druif- en wynkwaliteit in ag neem en optimiseer.
Watter een van jou pryse is jou hart se punt?
Daar verskeie, elkeen is spesiaal op sy eie manier.
Vertel my van die idee om die Blaauwklippen wyn-en-kos-pasmaat-spyskaart aan te bied?
Die doel hiermee is om die sinergie tussen heerlike wyn en kos aan die publiek uit te beeld.
Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die wynbedryf en wynmakers beter te ondersteun?
Koop en drink meer wyn en koop minder ander alkoholiese produkte.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Iets kreatiefs: Kunstenaar, ontwerper, professionele danser…
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Besluit oor die geleentheid en jou begroting. Dit behoort al baie uit te skakel. Waag iets nuuts, mens kan nie verkeerd wees nie. Probeer volgende keer weer ’n ander kelder en kultivar/versnit.
Wie is jou wynmaak-helde?
Daar is verskeie, maar Adi Badenhorst staan vir my uit.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Daar is hier ook verskeie, maar dit hang af na watter land en styl mens kyk.