Matthew van Heerden, keldermeester by Grande Provence Erfenis Wynlandgoed op Franschhoek, het pas sy tweede jaar by dié landgoed begin
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Hy was die Suid-Afrikaanse Diners Club Jongwynmaker van die Jaar 2011 en het verskeie internasionale toekennings ontvang, waaronder een van die top-10 wynmakers in die wêreld by die International Wine and Spirit Competition (IWSC) in Londen. Matthew was ook vir twee jaar die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Chardonnay Forum.
Hy is ’n internasionale en plaaslike wynbeoordelaar. Hy en sy vrou, Monique, het twee kinders, Ivan (3) en Alexa (1). Monique bestuur hul eie wyn-etiket, MVH Signature Wines. Die Van Heerdens woon op ’n wynlandgoed buite Stellenbosch.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Ek was nog altyd passievol oor landbou. Wynmaak laat my toe om uitdrukking te gee aan my passie in ’n glas én om te sien hoe die verbruiker die wyn geniet.
Waar was jou eerste werk?
By Iona Vineyards in Elgin.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer wat jy nie verwag het nie?
Geduld. Dit neem jare om ’n spesifieke terroir te verstaan en vanaf die wingerde geplant word, tot daar uiteindelik wyn in jou glas is, kan tussen ses tot agt jaar neem.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Ek is avontuurlustig, maar glo ook dat ´n mens konstant op kwaliteit en konsekwentheid gefokus moet bly. Ek spits my daarop toe om uiterse vrug-suiwerheid en kwaliteit na te jaag én wyn te maak wat ’n ware weerspieëling is van die streek waaruit die druiwe kom. Ek plaas die hoogste klem op wingerdboukunde. Dit verseker uitstekende vrugte wat Suid-Afrika se wêreldklas terroir uitbeeld.
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Ons is betrokke by verskeie projekte, vanaf opheffingsprogramme vir ons personeel tot sosiale verantwoordelikheid. Ons boerderymetodes verseker dat ons druiwe volhoubaar geproduseer word en ons volg ’n natuurlike benadering tot wynmaak.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte, ens?
Ons wil graag meer fokus op ons chenin blanc gemaak uit druiwe van ouer wingerde. Hierdie wyn word verouder in natuurlike klei-amphora en word gemaak van druiwe van sommige van die oudste wingerde in Franschhoek.
LEES OOK: Wynmaker: Danie Marais
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dit bring mense bymekaar en help om herinneringe te skep. Ook dat dit so baie veranderlikes in ’n glas uitbeeld – vanaf die sin van plek tot die wynmaker se vermoë om die terroir te verstaan.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Lees die agterste etiket en gebruik die prys as ’n gids vir kwaliteit.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
So twee tot drie jaar ná bekendstelling van die wyn.
Wat is jou gunstelingkultivar en waarmee wil jy nog werk?
Ek het ’n paar gunstelinge: chardonnay, pinot noir en cabernet sauvignon en wil graag nog met pinotage en sangoivesse werk.
Wat was sover vir jou persoonlik die grootste uitdaging as wynmaker?
Om konsekwentheid in elke oesjaar te weerspieël.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Om weg te stap met die titel van Suid-Afrikaanse Jong Wynmaker van die Jaar en ook om Beste Chardonnay in die wêreld te wen by die 2006 IWSC in Londen.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Die kelder moet die versigtige hantering van beide druiwe en wyn kan verseker.
Watter wyn-en-kos-pasmaat geniet jy en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Chardonnay met vars Weskuskreef.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker?
Iemand wat bereid is om meer te betaal vir kwaliteitwyn en wat avontuurlustig genoeg is om weg te beweeg van tradisionele handelsmerke na kleiner boetiek-produsente.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
“Wine is sunlight held together by water.” – Galileo Gallilei
Wie is jou wynmaak-helde?
Ek was baie bevoorreg om tyd te kon deurbring saam met oorlede Jess Jackson, die stigter van Kendall-Jackson in Kalifornië.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Philippe Guigel en Michele Rolland.