Matthew Copeland is vanjaar 11 jaar by Vondeling in die Voor-Paardeberg tussen Paarl en die Swartland
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Die plaas het pas hul vlagskip rooi-versnit van Erica na Monsonia herdoop.
Hy vertel dat as ’n bewaringskampioen van die WWF, die plaas toegewy is aan die bewaring van rare spesies fynbos wat inheems aan die Paardeberg is. Monsonia bring hulde aan die hoogs bedreigde spesies wat hier groei. Van die algemene name vir die Monsonia speciosa is onder meer Sambreeltjie en Slangblom.
Matthew is getroud met Yolandi, wat in die vrugtebedryf werk, en hulle het twee seuntjies, Henry (1) en Joshue (3). Die gesin woon op die plaas en soggens stap hulle met die kinders en hy loop werk toe. Hy lag as hy sê as die brood opraak, moet jy maar pap eet, want die winkels is ver.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Ek het in die Paarl grootgeword en van ’n vroeë ouderdom het ek en my pelle naweke en vakansies in die wynbedryf gewerk. Op skool het my pa ’n wyn-bottelleringslyn begin en ná skool het ek vir hom gaan werk. Kort daarna is ek oorsee om vir ’n jaar op ’n Switserse wynplaas te gaan werk. Daar en in Frankryk het die wynmaakgogga my finaal en goed gebyt!
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels en waar was jy oral voor Vondeling?
Na die werkery saam met my pa en die pars oorsee, was wynmaak vir my ’n sekerheid. Ek het aangehou toer en lekker gepars in Kalifornië, Australië en toe weer Frankryk en Switserland. Die werk het ernstig geword en studies al hoe belangriker. In 2000 het ek teruggekeer om my studies by Elsenburg Landboukollege te begin. Ná my studies het ek in 2004 vir Schalk Burger Snr op Welbedacht gaan werk en ons het saam sy kelder ontwerp en gebou. Ons eerste pars was in 2005 en sedert Junie 2007 is ek by Vondeling.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Brandweerman.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
As die dag verby is en ek en my vrou saam op die stoep sit en na die paddas in die dam luister.
Hoe groot is jul wynreeks, en vertel my van jul twee nuutste toevoegings tot jul reeks?
Ons maak 11 wyne in totaal en alle druiwe is afkomsig van ons plase. Dus funksioneer ons soos ’n landgoed. Drie alledaagse wyne: Chenin blanc, rosé en merlot; vier premium- kultivar wyne: Sauvignon blanc, chardonnay, baldrick shiraz en cabernet sauvignon.
Twee premium- versnit wyne, Monsonia, ons rooi versnit en ons wit versnit. Drie reserwewyne wat in uiters klein volumes beskikbaar is, sluit in ons Bowwood Pinotage (enkelwingerd), ons Philosophie (bordeaux-versnit) en die Sweet Carolyn (uitgedroogde muscat-druiwe).
Ons nuutste toevoegings is Monsonia 2015 wat vir die winter geloods is, asook nuwe oesjare van Bowwood Pinotage (2015) en Baldrick Shiraz (2017).
LEES OOK: Wynmaker Conrad Vlok
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Moet nooit dink jy is in beheer van die wyn nie. ’n Wyn kan jou altyd verras.
Watter uitdagings bring wynmaak op ’n historiese plaas vir jou mee?
Ou geboue/kelders maak moeilik skoon en die waterdruk is gewoonlik swak. Ek moet elke jaar die wyne goed evalueer en nie te styf aan tradisies klou nie.
Wat dink jy is die belangrikste bestanddele waaroor ’n wynmaker moet beskik?
Die wingerd. As jou druiwe nie reg is nie, sal jou wyn nie reg wees nie. ’n Wynmaker moet sorg dat die grond en die wingerd gerespekteer word.
Wat is jou wynmaakfilosofie?
Minimale inmenging – met sagte begeleiding bereik jy meer met ’n wyn as om dit te probeer domineer.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
Ek will graag later vanjaar ’n premium merlot op die mark sit. Ek is self baie lief vir merlot en daar is min goeie voorbeelde op die rakke. Vondeling het baie dinamiese grond en ’n groot deel van die plaas is perfek vir die verbou van premium merlot. Ons werk al 10 jaar aan die projek en glo die wyn is uitendelik gereed om vrygestel te word.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die manier waarop wyn die lig vang, is vir my betowerend.
Wat is jou gunstelingkultivar op die plaas?
Chenin blanc. Dit kan alleen staan of is baie gelukkig in ’n versnit.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Ek het min met cinsaut gewerk en dit is so ’n groot rolspeler in die ou tafelwyne van ons land dat ek graag meer daarmee sal wil werk. Dit kan dalk die pinot noir van Suid-Afrika word! Dis ook vir my die kultivar wat te min aandag in SA kry en ek graag in die toekoms wil sien ontluik.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Trekkerry deur die wingerde as die son in die somer opkom. Maak nie saak hoe vroeg dit is nie, dit voel propvol potensiaal.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2018?
LEES OOK: Wynmaker Martin Moore
Verspreiding – ons markte is ver versprei en dit eet al die winste.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Om minder verpakking en chemikalieë in ons produksie te gebruik. Ons bottels en kartonne kan dalk mooier wees, maar ons gebruik net herwonne kartonne en ligter bottels. Dit is tonne se besoedeling minder per jaar. Ons gaan binnekort sonkrag ook inkorporeer.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Die vurkhyser moet orals kan beweeg!
Watter wyn- en kospasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Ons Baldrick Shiraz en boerewors. Die sagte struktuur en ligte speserye pas heerlik bymekaar.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker volgens jou?
Kwaliteit it is nie goedkoop nie, so ’n mens moet bereid wees om nou en dan ’n bietjie ekstra te betaal, maar ons bedryf is in ’n renaissance, so vir die eksperimenterende wyndrinker kan dit nou baie opwindend wees.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Ingenieur, vir my is dit belangrik om iets te skep.
Watter wenke het jy vir mense wat effe verlore voor ’n winkelrak staan?
Kelders of handelsmerke is baie belangrik, maar moenie bang wees om te eksperimenteer met minder bekende wyne, totdat jy een kry wat jou smaak pas. Die druiwesoort sal ook ’n aanduiding gee van hoe lig of swaar ’n wyn sal wees.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Soos in wyn, soos in die lewe. Klein foute gee karakter; groot foute nie…
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Enige een van die Bordeaux First Growth se wynmakers. Om die kwaliteit, kwantiteit en pryse wat hulle bereik te handaaf, is baie indrukwekkend.
Hoe voel jy oor die toekoms van die SA wynbedryf?
Positief. Ons het al baie storms oorleef en dit word net beter.
Watter kultivar dink jy gaan in die toekoms vir Suid-Afrika die meeste roem bring?
Merlot, maar min mense sal met my saamstem.
As jy een bekende kon nooi vir ’n wynproe, wie sou dit wees?
Tannie Hilda van 7de Laan, sy sal seker ’n hele paar goeie stories kan vertel.
Na wie gaan jy vir raad met groot besluite?
Eerste na my vrou, en dan my pa.