Martin Smith en Ndabe Mareda besit Paserene wynplaas met sy proelokaal in Franschhoek
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Paserene kom van die Latynse woord passeriformes, die orde van vry en vlieënde voëls, soos swaeltjies.
Martin is sy familie se derdegenerasie-wynmaker; sy oupa het die plaas langs Laborie in die Paarl besit toe daar nog geen huise in die omtrek was nie en sy pa was jarelank ’n wynmaker in Ashton.
Woon jy en jou vrou, Welma op die plaas en het julle kinders?
Ons woon so ´n bietjie op in die pad van die plaas, waar ons die kelder huur. Ons het in Augustus ouers geword van ons eerste seun, Ren. Die voordeel om naby die plaas en kelder te wees, is dat jy die vinger op die pols het. Daar is nie eintlik ’n nadeel nie, solank jy goeie sekuriteit het.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ons beeld is uiters belangrik. Paserene is ’n vennootskap tussen my en my vriend Ndabe. Ek is ’n boertjie en Ndabe is van Venda, so ons verteenwoordig ons land se demografie. Paserene het drie areas waarop ons fokus. Tulbagh, Franschhoek en Elgin. Franschhoek is ons middelpunt en ons basis. Dit is ook hier waar ons proelokaal is. Dit is einde 2017 gebou. ’n Groot ruim area met pragtige uitsigte oor die Franschhoek-vallei en -berge. Die gebou is modern met natuurlike elemente.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Ek hou van vol en groot wyne wat baie vrygewig met kleur en tannien is en dit is ook die tipe wyn wat ek maak. Ek dink ek verkies dié styl omdat dit die tipe wyne is wat ek in die VSA geleer het om te maak.
Vertel my van jou honde?
Ons het twee. Jane het ek opgetel in die Transkei op ’n surf-uitstappie in 2014, sy is ’n Nguni/Afrikanus-hond. Baie slim en ondeund. Boetie het ek by ’n boemelaar vir R50 gekoop. Hy is ’n kruising tussen ’n pitbull en ’n chihuahua. Moenie vir my vra hoe dit gebeur het nie en watter hond bo of onder was nie.
Wat glo jy is die uitdagings en eise tans vir ’n Suid-Afrikaanse wynmaker?
Ek glo wynmakers in Suid-Afrika moet selfversekerd wees en vertroue in hul werk hê. Die plaaslike wynbedryf het die potensiaal om van die interessantste wyn ter wêreld te maak, maar dit is Afrika, en ek dink op die oomblik is medium- en langtermynbeplanning ’n groot uitdaging. Neem byvoorbeeld Italië, die mense maak al eeue lank wyn daar en gaan nog vir eeue wyn maak. Hier weet ons nie wat oor 10 jaar gaan gebeur nie.
Het jy enige byname in die wynbedryf of op die plaas?
Ek het baie gehad toe ek nog op skool was, maar baie van hulle het nou al gegaan. Sommige van my goeie ou vriende noem my nog Kai. Dit kom van skool af toe ons gedoop is.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek het net ná skool Portugal toe gegaan en by Amorim Kurke gaan werk. Ek het toetse op sjampanjekurke vir hulle gedoen. Toe ek terugkeer huis toe, het ek as handlanger by Du Toitskloof Kelder gewerk, meestal wyne van een tenk na die ander gepomp en vloere geskrop. Daarna het ek gaan swot.
Vertel van my jou reis met Paserene?
Ek het Paserene in 2013 begin, toe ek nog die wynmaker by Vilafonte was. Dit het begin as ’n kunsprojek. Dit is ook toe Lorraine Loots begin bekendheid verwerf, en ek wou saam met haar op die projek werk. Dit is maar snaaks hoe al die goed op mekaar volg. Die een ding lei tot ’n ander, dan kom daar iemand oor jou pad en lei jou tot by die volgende plek en so gaan dit aan. Dit is baie soos ’n tapyt wat jy weef en geen direkte pad van punt A tot punt B is nie. Die meisie op die Chardonnay-etiket verteenwoordig Moeder Natuur, en ek is natuurlik die swaeltjie op die Marathon se etiket, wat my tyd as wynmaker in die VSA verteenwoordig – die tyd toe ek tussen die twee lande gevlieg het. Die derde wyn wys waar die swaeltjie en Moeder Natuur bymekaar uitkom. Die toneel geskied op ons plaas in Tulbagh. Tot dusver koop ons druiwe by ’n boer in Tulbagh, maar ons het ook twee hektaar in Tulbagh op ons plaas aangeplant. Cabernet sauvignon natuurlik! Ons sal volgende jaar ons eerste oes daarvan afhaal.
Wat is jou vroegste herinnering aan goeie wyn?
Toe ek ’n laaitie was, was ek redelik stout. Ek en my maats het gereeld my pa se kelder gaan besoek en onder die soetes ingeklim. Daar was een kis wyn wat ek baie lank dopgehou het, ek dink dit was ’n kis Alto Cabernet gewees. Ek het toe elke bottel op ’n ander plek in ons tuin gaan begrawe sodat dit lekker teen konstante temperatuur kan verouder en dat ek dit kan uitgrawe as ek die dag 18 is. Tot vandag toe kon ek nie daai bottels vind nie. Na my studies, toe ek VSA toe is en vir Louis Vuitton Moët Hennessy gaan wynmaak het en met al hul kelders te doen gekry het, het ek regtig respek vir bekende wyne gekry – dit gaan maar altyd oor nalatenskap.
Hoe bly jy getrou aan die plaas se erfenis, maar bly terselftertyd by in 2019 met tendense en giere?
Dit is maklik. Vir my moet ’n wyn altyd eers reg en goed proe, daarna kan dit organies, biodinamies of vegan wees. Ek “werk”nie my wyne te veel nie, hulle moet eerlik wees, maar as die natuur in ’n gegewe jaar té eerlik was met my en die wyn het byvoorbeeld te veel tannien in, dan sal ek dit met my maniere uithaal. ’n Wyn se siel is ’n gerespekteerde balans tussen die wynmaker, klimaat en die grond.
Watter kultivar is jul vlagskip?
Ons is cabernet sauvignon-mense vir rooi en chardonnay vir wit.
Hoe groot is jul wynreeks en hoeveel bottels produseer julle jaarliks?
Op die oomblik produseer ons drie wyne in die Paserene-reeks, so 18 000 bottels per jaar. Ons bring ook vanjaar drie wyne uit wat meer vir alledaagse gebruik is, wyne wat jy drink terwyl jy wag vir die ander drie om te verouder. Dan het ek ook ’n buitestaander-wyn, met die naam Shiner. Dit is geskoei op ’n misdaad-verhaal wat ek skryf en die hoofstukke op die bottels heg en verkoop.
Watter wyn-oomblik het jy al gehad wat vir jou uitstaan oor die jare?
Ek het een keer saam met die wêreldbekende wynmaker, Michel Roland, geproe. Hy vra toe uit oor my en ek vertel hom dat ek al by die meeste van die kelders gewerk het waar hy wyngemaak het. Hy lag toe en sê in ’n dik Franse aksent: “Haha, you follow me, huh.” Ek was bietjie onkant betrap en al wat ek kon sê was “I try”, toe lag ons almal. Ek kon ’n soveel beter comeback gehad het, maar ek moes op my voete dink.
In watter nuwe, ander kultivars wil jy in die toekoms uitblink?
Die Marathon het carménère in, dit is ’n redelik nuwe kultivar. Ek is nie gedrewe om wyne te maak van al die weird and wonderful nuwe kultivars nie, ek los dit vir die Swartlanders, ek sal wel ’n herlewing van sommige bekende kultivars wil begin.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Jy maak wyne in lyn met jou gemoedstoestand, hou dit gelukkig en gesond.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Peter Sisseck van Pingus.
Wat is die les wat jy by jou pa geleer het?
Hou jou swawels hoog en jou vate getop en moenie te veel met met jou wyne peuter nie.
Wie in die wynbedryf het jou al die beste raad gegee?
Jaco Potgieter van DGB – hy het gesê, moenie worry om jou moue op te rol en jou hande vuil te maak nie, jy kan dit altyd weer was.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Perricone. Dit is ’n druif van Italië. Hoog in tanniene, baie kleur. My tipe wyn.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Om saam met my pa te kon wynmaak.
Mense is soms geïntimideer voor ’n winkelrak. Watter raad het jy as hulle onseker is oor wat om te koop?
Jy kan nie ’n fout maak nie. Jy gaan mos nie net daardie bottel in jou lewe drink nie. Koop hom, maak jou proenotas, en as jy nie gehou het van hom nie, koop volgende keer iets anders, maar jy leer net deur ’n groot verskeidenheid te proe.
Wat is die voordele van ’n wynplaas in die vrugbare Franschhoek-vallei?
Franschhoek is die juweel van die Kaapse wynlande, met al die kelders en eetplekke. Dit lok baie toeriste, wat by ons kom wyn proe.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste en watter spesifieke een drink jy die graagste?
Ek geniet my wyn die meeste as dit so vyf jaar oud is en as ek en my vriende om die lang tafel sit en nonsens praat. Ek het nie voorkeure oor my wyne nie, hulle is vir my almal iets uniek.
Wat was nog jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
2019 by verre en ek sal nog moet sien, maar dit lyk belowend.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.