Vanjaar is ’n groot jaar vir die hoof-wynmaker van Bonnievale Wyne, Marthinus Rademeyer
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Marthinus vier ’n dekade as wynmaker daar en die kelder het onlangs by die jaarlikse Old Mutual Trophy Wine Show, nie minder nie as twee medaljes en ’n trofee ingepalm – ’n merkwaardige prestasie vir hierdie nuweling tot die Trophy Wine Show-podium.
Wat die Bonnievale-span nog meer breëbors laat staan, is die feit dat hulle die enigste trofeewenner van die hele Robertson-wynstreek uit die 24 bekroondes was; en een van slegs 32 goue medalje-wenners. Die kompetisie-paneel het vanjaar 956 wyne van 206 produsente geproe.
Die Bonnievale Barrel Select Cabernet Sauvignon 2015 het goud én die Old Mutual-trofee vir Vonds van die Skou / Beste Waarde gewen. Sy vennoot in die Trophy Wine Show-kollig was die Bonnievale The River Collection Cabernet Sauvignon Merlot 2017. Marthinus het in 2008 as assistent-wynmaker daar begin en deur die jare het hy die “wynleer” geklim tot hoof-wynmaker.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My eerste wynwerk was in Montagu, as parshulp by Montagu Wynkelders. Ek het ook ’n pars gedoen by Ferrari Carano in Sonoma, Kalifornië, asook by Chateau Boutisse en St Emillion in Frankryk.
Watter bottel wyn het vir jou die mooiste herinneringe? Waar en saam met wie het jy dit gedrink?
Ek en my vrou het die voorreg gehad om in 2016 tyd in Bordeaux te spandeer. Daar het ons een van die werklik beste Bordeaux-versnitte geproe. Gekombineer met hul uitstekende kosvernuf is hierdie definitief een van my beste wynherinneringe.
Julle bestaan uit verskeie kelders – hoeveel lede het julle?
Ons kelder bestaan uit 98 lede. Die Bonnievale Wynkelder is in November 2006 gestig ná die drieledige samesmelting van die Bonnievale-, Merwespont- en Nordale wynkelders, wat meer as ’n dekade se groei vir ledekelders ingelui het. In Desember 2018 het ’n samesmelting met Wandsbeck Wyne nog meer kultivar-, styl- en terroir-diversiteit tot die portefeulje toegevoeg, met die skepping van die Bonnievale Wyngroep.
Tot hoeveel hektaar wingerd het jy toegang?
Daar is 1 665 ha onder wingerd. Hierdie groot oppervlakte onder wingerd gee vir ons werklik die voordeel om van die beste wingerde te kan kies. In hierdie groot area is daar spesiale pockets wat ons apart hou om premium wyn te berei.
Watter wyne maak julle alles en wat is jul vlagskip?
Ons het drie reekse:
Nature Range: Hierdie is ons intreevlakwyne en bestaan uit die Dusk (Rosé Perle); Dawn (Sweet White Perle); Mist (droë wit) Night (droë rooi) wyne.
River Collection: Hierdie is ons meer premium wyne en bestaan uit Sauvignon blanc, Chenin blanc, Chardonnay, Cinsault rosé, Shiraz, Cabernet sauvignon, Merlot, en Pinotage.
Ons het ook twee brut-vonkelwyne, Sauvignon blanc brut en Cinsault brut.
Vlagskip: Barrel Select Cabernet Sauvignon en Barrel Select Shiraz.
Vir watter kultivar is julle bekend en wat is die hoogste toekenning wat julle daarvoor ontvang het?
Aan die wit kant is ons bekend vir ons chardonnay. Hierdie wyn het al ’n dubbelgoud-Michelangelo-toekenning ontvang. Aan die rooi kant is ons bekend vir ons shiraz en merlot en dan nou onlangs vir ons cabernet sauvignon wat die toekennings soos hierbo genoem, ingepalm het.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Tien minute se beplanning spaar ure se spanning; wynmaak is 80% goeie kwaliteit druiwe en 20% wynmaak-tegniek.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
My wynmaakstyl is eerlik. Ek hou daarvan om die geure wat reeds in die wingerd voorkom, te respekteer en te bevorder, en dan op die eenvoudigste manier die beste uit ’n wyn na vore te bring.
Wie in die wynbedryf het jou al die beste raad gegee?
Newald Marais van Kranskop en Callie van Niekerk, wat lank by Distell was.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil en watter kultivar gee jou die meeste grys hare?
Roussanne en die kulitvar wat vir my die moeilikste is, is definitief cinsualt, veral in die cinsault rosé-styl wat ons berei. Om die kleur perfek te kry, neem tyd en fyn beplanning.
Wat glo jy is die uitdagings en eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Ek glo die uitdaging vir enige wynmaker is om te besef dat jy as wynmaker nie die mark is nie. Om markgeoriënteerde wyne te maak buite die styl waaraan jy as wynmaker gewoond is.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Die Bonnievale Barrel Select Cabernet Sauvignon 2015 se goud én die Old Mutual-trofee vir Vonds van die Skou / Beste Waarde by die Old Mutual Trophy Wine Show.
Watter een van jul vele toekennings staan vir jou uit oor die jare?
’n Goue medalje in 2011 by die Veritas vir ons Sauvignon blanc en weer die Bonnievale Barrel Select Cabernet Sauvignon 2015 se goud én die Old Mutual-trofee vir Vonds van die Skou / Beste Waarde by die Old Mutual Trophy Wine Show.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Koop altyd Bonnievale Wyne se wyne – jy sal nooit teleurgesteld wees nie.
Wat was nog jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
Elke oesjaar het maar sy eie uitdagings – ek dink altyd hoe meer onlangs die oesjaar, hoe meer uitdagend, omdat dit só vars in die geheue is. Dus sal ek sê 2019 was werklik ‘n groot uitdaging gewees, maar met Bonnievale Wyne se uitstekende produksiespan, is seleksies en besluite goed geneem om volgehoue kwaliteit te verseker.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.