Die bekroonde wynmaker Lizelle Gerber, het op 1 Augustus by Nederburg Wines buite die Paarl as nuwe keldermeester ingeval
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Nederburg, een van Suid-Afrika se bekendste wynhandelsmerke, vorm deel van die nuutgestigde Libertas Vineyards and Estates, Distell se onafhanklike maatskappy vir voorste wyne.
Lizelle het haar wynmaakgraad aan die Elsenburgse landbou-opleidingsinstituut van Stellenbosch verwerf na ’n jaar in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANDF).
Waar was jou eerste pos in die wynbedryf?
My wynmaakloopbaan het in 1996 by Zevenwacht begin, maar dit was die tyd wat ek op Avontuur aan die begin van die nuwe millennium deurgebring het, wat my kennis en ervaring van die wingerdstok verdiep het. In die tydperk tussen dié twee landgoedere het ek ’n oes in die Elsas-streek van Frankryk deurgebring.
Ek was die wynmaker vir DGB se Bellingham-handelsmerk van 2004 tot Augustus 2006, en het toe by Boschendal aangesluit waar ek die afgelope tien jaar die toegewyde Methode Cap Classique (MCC)- en witwynmaker was.
Wat behels jou nuwe pos?
Ek sal toesig hou oor die produksie van Nederburg se uitgebreide en bekroonde wynportefeulje, asook as mentor optree vir die wynmaak-protégé vir Pongrácz, Andiswa Mapheleba, om haar ontwikkeling as MCC-spesialis te versnel. Ek is definitief opgewonde, maar ook senuweeagtig – dis voorwaar “die groot onbekende” wat nou vir my voorlê. Maar ek floreer gewoonlik in hierdie tipe omstandighede – die effense spanning en afwagting vuur my aan! Nederburg is ‘n handelsmerk met ‘n lang geskiedenis en uitstekende reputasie. As wynmaakspan sal ons streef om die handelsmerk verder te laat groei met behoud van integriteit, kwaliteit en trots.
Waarvan het jy gedroom toe jy destyds jou eerste oes as wynmaker gehad het?
As assistant-wynmaker, nog nat agter die ore, is jou belangrikste rol om seker te maak dat die prosesse in die kelder reg verloop. Dit kan nogal erg intimiderend wees met alles waaraan mens blootgestel word in hierdie fase van jou loopbaan. Tydens jou studies word jy wel aan sekere elemente blootgestel, maar op ’n baie klein skaal. Tydens my eerste oes as volwaardige wynmaker het ek so gehoop dat van my wyne wel ’n paar toekennings by Veritas sou verower, maar ek het gou agtergekom dat in wynmaak, Rome definitief nie in een dag gebou word nie! Geduld, volharding, wedersydse respek (vir mens en natuur) en fokus op detail, lewer wel later resultate wat ’n mens lekker trots laat voel.
Wat is die duurste les wat die natuur jou al as wynmaker geleer het?
Geen twee oesjare is ooit dieselfde nie. Vir my is dit een van die redes hoekom my werk as wynmaker nooit eentonig of oninteressant sal wees nie. Elke jaar bied ’n nuwe begin, vir ’n nuwe “kunswerk” met sy eie unike sjarme en persoonlikheid.
Hoe navigeer jy die moeilike ekonomie, politiek, voorkeure, neigings wat verander, as jy kompeterend in die wynmark wil bly?
Ek glo as wynmaker moet ek aanpasbaar en innoverend wees. Dis juis al die neigings en veranderinge in die omgewing waarbinne ons funksioneer wat ons op ons tone hou. Tog voel ek ook dat premie-wyne teen ’n goeie kwaliteitvlak, gemaak in ’n gepaste styl, en aangebied teen ’n billike prys altyd kompeterend sal wees.
In watter kultivar lê jou sterkte en watter kultivar lê jou die naaste aan die hart?
Elke kultivar het sy eie karakter en bied sy eie unieke uitdagings. Elkeen is spesiaal. Jou aanslag met elke kultivar verskil – nie net omdat die genetika verskil nie, maar omdat daar so baie ander eksterne faktore ook betrokke is wat ’n impak op die eindproduk het. Ek het wel ’n ou sagte plekkie vir chardonnay en pinot noir in al hul formate, waarvan vonkelwyn natuurlik een is. Hoe saai sou die wêreld nie gewees het nie sonder “bubbles” wat alles in ’n oogwink verhelder!
Hoe voel jy oor Suid-Afrikaanse wyne se kwaliteit, aanbieding en verskeidenheid?
Die Suid-Afrikaanse wynbedryf kan vir seker breëbors staan – veral wanneer dit kom by innoverende wynmaakpraktyke. Die uitmuntende kwaliteit van ons wyne is vergelykbaar met van die beste ter wêreld. Die diversiteit van oorsprong van ons wingerde (terroir), bied aan ons ’n unieke voordeel aangesien dit ons in staat stel om wyne te produseer met ’n wye antrekkingskrag vir verbruikers. Ek glo ook koelklimaatdruiwe wat in diverse elegante style voorberei word, het die Suid-Afrikaanse wynmark oor die afgelope dekade in terme van die globale wynbedryf op ’n hoër vlak gevestig.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ek dink die beeld van ’n plaas of handelsmerk is noodsaaklik vir sy sukses. Verbruikers neem besluite gebaseer op die beeld van ’n handelsmerk. Nederburg het ’n ryk en trotse geskiedenis wat na 1791 terugstrek. Oor die jare het hy hom uitermatig goed gevestig as een van Suid-Afrika se mees bekroonde wynmakerye. Vroeër vanjaar was Nederburg een van net 50 wynmakerye ter wêreld wat in die glansryke 2019 Drinks International-lys van die mees bewonderde wynhandelsmerke verskyn het. Dit is die vierde keer in ’n ry wat Nederburg in die top 50-lys ingesluit is. So dis ‘n groot verantwoordelik wat op my wag, en nodeloos om te sê, gaan dit uiters noodsaaklik vir my wees om voort te bou op die sukses van Nederburg.
Wat is die les wat jy van kleins af by jou geleer het?
Onafhanklikheid en self-dissipline.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Op baie vlakke in die lewe is respek vir my belangrik. Dit geld ook wanner dit kom by wynbereiding. Ek glo dat indien ons druiwe van ‘n hoë kwaliteit druiwe met respek en integriteit hanteer, die wyn jou later op dieselfde manier sal beloon.
Wie in die wynbedryf het jou al die beste raad gegee?
Om eerlik te wees, dink ek ek het die meeste by die werkers in die kelder geleer. Dit is belangrik om, veral aan die begin van mens se loopbaan as wynmaker, jou hande vuil te laat word en baie met die druiwe en die werkers in die kelder saam te werk. Mens moét verstaan waarvandaan alles kom en hoe die prosesse gebeur. Die beste manier om dit aan te leer, is op die keldervloer. Ou hande is uitstekende leermeesters!
Ek het ook geweldig baie geleer by wynmaker Jaco Potgieter. Die handhawing van goeie menseverhoudinge in die wynbedryf is besonder belangrik en mens moet dit nooit onderskat of afskeep nie.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Suid-Afrika se waterskaarste is ’n absolute realiteit. Druiwetipes wat goed by veranderende klimaatsomstandighede kan aanpas, soos tempranillo (’n bekende Rioja-kultivar), maak my baie opgewonde! Nederburg eksperimenteer al meer as ’n dekade met hierdie en ander Mediterreense kultivars soos graciano, grenache en carignan. Ek kan nie wag om te eksperimenteer nie!
Nuwe, koelklimaatgebiede word ook gereeld verken. Hierdie terroir plaas bekende kultivars op ’n heel nuwe ontdekkingvlak. Vir my is die groter opgewondenheid om te sien hoe die druiwe in sulke klimaatsomstandighede reageer en hoe die uniekheid daarvan in die wyn weerspieël word.
Maak die feit dat jy ’n vrou is, enige verskil in jou aanslag tot wynmaak?
Ek is ’n regte rabbedoe. In ’n rok en grimering gaan jy my maar selde vang, en wanneer dit wel gebeur, herken niemand my gewoonlik nie. Vir my gaan wynmaak daaroor om die beste wyn in die regte styl te produseer. Om komponente te kan identifiseer wat mekaar komplimenteer, is ’n uitdaging en ook geweldig insiggewend. Dit is lekker om saam met jou wyn te groei en die dinamika van die lewende produk te ervaar. Ek glo ook dat ons altyd moet oop wees om van mekaar te leer. Uiteindelik verteenwoordig ons almal tog Suid-Afrika op die internasionale wynplatform. Dit is elke wynmaker se strewe om uitstekende wyn te produseer, onafhanklik van hoe jy gebore is. Ons almal het ‘n unieke styl en persoonlikheid. Dit is soos om te skilder.
Wat was tot dusver jou grootste oorwinning as wynmaker?
Om tot nou toe in die wynbedryf te oorleef!
Mense is soms geïntimideer voor ’n winkelrak. Watter raad het jy as hulle onseker is oor wat om te koop?
Nederburg natuurlik!! Die feit dat dit premie-wyne bied, is reeds die regte besluit. Ek voel egter ook verbruikers moet eksperimenteer wanneer dit by wyn kom. Soms gaan mens lus voel vir ’n swaar, ernstige wyn. Ander kere dalk vir ‘n meer vrugtige wyn.
Is jy getroud en indien wel, wie is jou wederhelf en wat is sy beroep?
Ek het ’n wonderlike anderhelfte in my lewe. ’n Verhouding vereis baie werk, aandag en skaafwerk om by die beste punt vir albei individue te kom. Hy is ’n kunstenaar met ’n ongelooflike diep passie vir die see en mariene lewe. Onderwaterfotografie is een van die velde waarin hy werk. Wat hy op kamera aan ons Suid-Afrikaanse kus vasvang, het beslis my asem (en voete) weggeslaan!
Woon julle op ’n wynplaas en indien wel, wat is die voordeel en nadeel daarvan?
Ons woon op Wellington. Die plaaslewe is definitief iets wat almal altyd idealiseer. Dit beteken egter ook dat jy potensieël altyd beskikbaar is. Vir my is dit belangrik om my werk en persoonlike lewe apart te hou. Dit is goed om op pad werk toe, of op pad huis toe te kan afskakel.
Vertel my van jou honde?
My honde is my kinders! Ons is ’n gedugte spannetjie. Daar is twee Rottweilers, Ben en Inke, ’n Jack Russell, Nina, en ’n skaaphond gekruis met ’n Jack Russell, Cody (my Energade-man). Om die dieretuin mooi af te rond, is daar ook ‘n paar impak-spelers: twee katte, twee African Grey-papegaaie en ’n Koi-visdam!
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Madame Veuve Clicquot, sou sy nog gelewe het.
Wat was nog jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
Elke parsseisoen het maar sy uitdagings. Die droogte van die afgelope paar jaar het egter vir my die grootste impak op die 2018-oes gehad. Die wyn-kwaliteit van hierdie oesjaar was baie area-gebonde. Die voordeel om druiwe vanaf verskillende areas te ontvang, verseker die vermoë van die wynmaker om die styl en kwaliteit konstant te hou. Die samestelling van die versnit word dan net aangepas. Die droëland-wingerde het maar die swaarste pak gekry. Die gevestigde wingerde, met minimale waterbestuur, het steeds baie goeie kwaliteit druiwe gelewer.
Watter wyn-oomblik het jy al gehad wat vir jou oor die jare uitstaan?
Die vrystelling van die 2007-oesjaar van Boschendal se Cap Classique. Dié vonkelwyn is vir 60 maande op die moer verouder. Ek het toe besef dat die tydperk wat dit geneem het vir die wyn, van parstyd af tot en met daardie dag wat dit vrygestel is, omtrent dieselfde was as die tyd wat die neem om ’n kleuter uiteindelik “grootskool” toe te stuur.
Wat is jou sterk punt as mens en wat is jou swak punt?
Lojaliteit en toegewydheid is my sterk punte. Mmm, ek mag dalk soms ongeduldig voorkom.