Klaas Stoffberg is die afgelope ses jaar die wynmaker by Babylonstoren in Simondium
Deur MARYKE ROBERTS
Foto Babylonstoren
Klaas het direk ná skool sy eerste betaalde plaaswerk op Dellrust as assistent-wynmaker gehad.
Hy het op ’n druiweplaas buite Malmesbury grootgeword en het daar sy liefde vir die wingerdstok gekry. Hy het vakansies altyd op die plaas gewerk. Die liefde vir wyn het later ontwikkel met sy belangstelling in wetenskap. Hy wou altyd wetenskap en landbou in sy beroep integreer en wynmaak bied hom nou daardie geleentheid.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf?
Avontuurlustig met ´n bietjie erns. Ek hou daarvan om elke jaar met nuwe goed in die kelder te eksperimenteer, maar wil dit altyd doen om die kwaliteit van die wyn te verbeter.
Hoe voel dit om by ’n kompetisie soos die Shiraz SA 2018 beloon te word en is shiraz jou sterkpunt?
Dit is fantasties! Om as een van die top 12 Shiraz’e gekies te word in SA (uit byna 200 inskrywings) is regtig besonders en ´n klop op die skouer vir die wingerd- en kelderspan. Shiraz doen beslis goed in die Simonsberg-Paarl-terroir. Kompetisies is belangrik. Dit gee jou ’n maatstaf om te bepaal of jy in die regte rigting beweeg. Mens moet jou ook nie blind staar teen die uitslag van een kompetisie nie. Die panele het ook hul voorkeure (in smaak) en kan wissel van die een kompetisie na ’n ander.
Hoe lyk jou gesin?
My vrou, Ansone, werk by Neil Ellis Wines as hul Logistiek- en Uitvoerbestuurder. Sy is self ’n gekwalifiseerde wynmaker met ’n uitstekende palet en een van my grootste kritici’s. Ons het twee kinders, Elle en Phillip.
Wie inspireer jou?
Mense wat niks gehad het nie en hull3e deur harde werk opbou tot ’n prominente figuur in hul beroep; maak nie saak wat hulle doen nie.
Voer julle uit en hoe lyk die persentasie plaaslik versus uitvoer?
Beslis. Ons het in 2013 begin uitvoer. Die persentasie is tans 50/50.
Hoe groot is jul wynreeks?
Ons reeks bestaan uit vier witwyne, 1 Rosé, drie rooiwyne en ’n MCC (Methode Cap Classique).
Watter kultivar dink jy is jul vlagskip en in watter kultivar lê jul toekoms?
Wit – chardonnay en rooi – cabernet sauvignon en shiraz. Ons het ’n baie diverse terroir op ons plaas as gevolg van ons ligging. Die plaas wissel van 150 m bo seespieël tot 600 m bo seespieël, wat veroorsaak dat daar vir elke kultivar ’n plekkie is wat hom komplementeer.
Watter kultivar gee jou die grootste kopseer?
Pinot noir. Dit is ’n baie sensitiewe kultivar en moet met groot sorg hanteer word om ’n goeie wyn te maak.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek?
Babylonstoren is een van die bestemmings wat jy moet besoek as jy in die Kaap kom kuier. Die beeld wat ons probeer uitstraal, is om ’n onvergeetlike ervaring vir elke besoeker te kweek.
LEES OOK: Wynmaker: Niël Groenewald
Wat beplan jy vir die volgende paar jaar?
Ons het hierdie jaar ’n nuwe wyn, genaamd Candide. Dit is ’n ongehoute wit versnit van al vier wit kultivars op die plaas, ’n heerlike wyn om die komende somermaande aan te teug.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Een van hulle was saam met my vrou in Bordeaux in 2008. Die eienaar van die kelder waar ons gewerk het, het vir ons vaarwel ´n 8-gang-maaltyd voorberei met topwyne van Bordaux wat by elke gereg gepas het. Die ete het 11:00 die oggend begin en tot 17:00 geduur. Dit het my laat besef dat wyn mense saamsnoer, maak nie saak wat jou kultuur of agtergrond is nie.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Van die oomblikke wat uitstaan was om ’n Dubbelgoud by Veritas-kompetisie te behaal vir ons Chardonnay 2016. Ons Nebukadnesar (Bordeaux-versnit) het ook ’n 95/100 in Decanter (internasionale kompetisie behaal). En dan natuurlik die Shiraz en Babel wat onder die top 12 Shiraz’e en top 3 versnitte onderskeidelik by die Shiraz SA awards gekom het.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Alles wat met parstyd te doen het. (pluktyd, optimale rypheid, fermentasie, gis-keuses, temperature, vate-keuses, klimaat). Daar is so baie faktore wat ’n goeie wyn kan maak of breek. Parstyd gee jou daardie een kans in ’n jaar om dit van die begin af reg te doen.
As jy nie wynmaker geword het nie, in watter ander beroep sou jy kon gelukkig wees?
Ek het amper argitektuur gaan studeer, maar die wyn het te sterk gepraat! Ek sou nogal ’n stay-at-home-daddy ook kon wees… (grap net)
Wie is jou wynmaak-helde?
Ek het ’n paar mentors wat ´n rol gespeel het om my loopbaan te help groei. Ouens soos Louis Strydom (Ernie Els Wines), Coenie Snyman (Rust en Vrede), Hubert de Bois (Chateau Angelus), Loftie Ellis (Elsenburg), Beyers Truter (Beyerskloof), was almal groot rolspelers.
Watter wynproe staan vir jou oor die jare uit?
Ons was bevoorreg om in 2008 ’n oesjaarproe by Cheval blanc (Frankryk) te doen saam met een van die wynmakers. Dit is een van daadie ervarings wat geld nie kan koop nie…