Vanjaar is Juandré Bruwer al drie jaar die wynmaker by Diemersdal Landgoed in Durbanville
Deur MARYKE ROBERTS
Foto Laura McCullagh
Hy het in 2009 net ná hoërskool ’n sabbatsjaar geneem en by Perdeberg Kelder gewerk en die wynmaak-gogga het daar gebyt. Hy is onlangs getroud met Daniella en hulle woon so 7 km weg van die plaas. Daniella is ’n reisagent by Pentravel en Juandre sê ’n passie vir wyn en reis maak hulle die perfekte kombinasie.
Hoe het jy in jou huidige pos beland?
As ’n mens ’n parshulp by ’n kelder is, is jy maar gedurig op soek na ’n vaste werk en ek het toe afgekom op ’n pos op wine.co.za. Het eintlik laat aansoek daarvoor gedoen, maar het hom toe gekry.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Jy moet bereid wees om ’n minimum van 12 ure per dag te werk – natuurlik word parstyd tot 18 ure en selfs meer. Die tweede ding wat ek geleer het, is geduld.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Avontuurlustig en ek is altyd lus vir iets nuuts. Ek hou van eksperimenteer.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy geniet?
Ek wou altyd iets soos ’n siviele ingeneur of ’n argitek word, want ek hou nie van roetine nie.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dat dit konstant verander. Veral in die glas.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Ek is maar ’n Shiraz-man en dink die rede dat ek ná Elsenburg by Saronsberg gewerk het, waar jy Shiraz leef. Ek hou van die wyn, daar is so baie style wat jy kan maak. Dis regtig ’n diverse kultivar.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Viognier… ek het al een keer met hom gewerk en is baie lief vir ’n gehoute een.
LEES OOK: Wynmaker: DP Burger
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Die klimaat.
Wat was sover jou hoogtepunt as wynmaker?
Ek het regtig nie baie nie, ek is maar nog jonk in die beroep, maar beslis toe ek my eerste eie wyn kon bottel en dit toe dubbelgoud by Michelangelo gewen het.
As jy jou eie kelder kon ontwerp, wat sou jy insluit?
Tien teen een ’n lekker klankstelsel en ’n lekker vinoteek.
Watter wyn stel jy voor met soesji en branderige kos?
Met soesji, definitief enige van ons ses Sauvignon blancs. Saam met speseryagtige kos, sal ek gaan met ’n mooi sterk Shiraz of Malbec.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker volgens jou?
Hy vat die eerste bottel wat hy sien ongeag die prys. Dis al hoe jy ’n vergelyking kan maak in die toekoms en weet waarvan jy hou en nie hou nie, en dis ook ’n manier waarop jy verskillende kultivars gaan leer ken.
Wie is jou wynmaak-helde?
Ek vind taamlik almal is helde, want almal het hul eie maniere van wynmaak, en ’n mens leer elke dag iets nuuts.
Hoe voel jy oor SA se wynkwaliteit vergeleke met ander lande?
Ons kwaliteit is beter.