Jolette Steyn is die wynmaker by Steenberg Landgoed in Constantia en het in 2014 as assistent-wynmaker by die span aangesluit
Woorde: Maryke Roberts
Foto: verskaf
Sy het ná skool ’n jaar in Frankryk gewoon en toe besluit om haar liefde vir reis, tale, kuns en wetenskap te kombineer en ’n graad in wyn- en wingerdkunde op Stellenbosch te behaal. Sy het haar meestersgraad in Europa voltooi terwyl sy in Frankryk, Italië en Spanje klasgeloop het. Sy het by tien kelders plaaslik en oorsee gaan werk vir ervaring in verskillende terroirs, met verskillende kultivars en wynmaak-metodes.
Sy is besig met haar studies om ’n UK Master of Wine te word.
Sy woon op die plaas en sê die sterre is mooier en die verkeer is minder as in die stad. Die enigste nadeel is dat almal dink jy is altyd beskikbaar.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My pa se motor vir geld gewas.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Op ’n treinrit in Italië het ’n vriend my oortuig dat wynmaak iets interessants kan wees – omdat ’n mens mos heeltyd sou moes wyn proe. Toe besef ek wynmaak behels alles waarvoor ek lief is: reis, tale, kuns, wiskunde/chemie en aktief/in die buitelug wees.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Ek is avontuurlustig en het groot respek vir die klassieke/tradisionele maniere van wynmaak. En puntenerig. Filosofie en die wetenskap moet hand aan hand loop vir my. Toe Steenberg my aanstel, het hulle gesê ek is presies waarvoor hulle gehoop het – ’n perfeksionistiese hippie.
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Deur baie mooi te kyk na die werknemers. Gelukkige werkers – van die wingerd tot die HUB – straal hul passie vir hul werk uit. Daardie passie en liefde vir wat hulle doen, is tasbaar. Die publiek kan dit aanvoel.
Wat beplan jy die volgende paar jaar vir die plaas en kelder – nuwe kultivars, versnitte ens?
As die weer saamwerk, gaan ons ’n bietjie eksperimenteer met ’n Semillon-soetwyn …
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
’n Tennisspeler, juwelierontwerper en pediatriese neurochirurg.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Grenache noir. Ek het my tesis daaroor gedoen en dit hou aan om my te verras. ’n Mens kan ’n diep, donker, ryp wyn saam met Carignan maak in Priorat of ’n lieflike, ligter weergawe van wingerde in die Piekenierskloof.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Chenin blanc – Suid-Afrika se liefling-steen.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Sondagmiddae se familie-etes – ons kinders het klein glasies wyn (met water gemeng) gekry om so van wyn en kos te leer.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Om met die droë klimaatstoestande en brande steeds die wingerde en wyne te laat floreer.
Wat was dusver jou persoonlike uitdaging as wynmaker?
Om van al die verskillende maniere van wingerd te bestuur en wyn te maak te leer, soos wat ek deur die wêreld gereis het, maar steeds my filosofie en oortuiging van wyn te behou. To stay true to my wine philosophy whilst incorporating bits of wisdom from the winemakers that I’ve learnt from.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Toe een van my keldermanne top in sy klas was met die SKOP3 kursus (kelderwerkeropleiding). Ons het saam sy reis met SKOP1 begin en hy floreer en hou aan met sy studies.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Toe ek nie die taal van die kelder waar ek gewerk het, vlot kon praat nie. Gelukkig is handtekens en “STOP” redelik universeel.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Goeie vloere wat mooi na die dreine afloop – daar is te veel kelders met swak vloere waar water in plasse lê. Verder, om die kelder só uit te lê dat ’n mens soveel as moontlik van gravitasie kan gebruikmaak en dus sagter met die wyn werk.
Watter wyn-en-kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Riesling met Thai-disse. Of syrah en wildsvleis.
Watter wyn sal jy aanbeveel met soesji en wat met speseryagtige kos?
’n Droë vonkelwyn kan nogal ver gaan met ’n verskeidenheid soesji-disse. Japannese bier is natuurlik altyd ’n wenner. Verder kan Gewürtztraminer, Riesling en Gruner Veltiner goed saam met kerries werk.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker – eksperimenteer meer, betaal duurder vir wyne, ens?
Hoe meer wyndrinkers eksperimenteer en bereid is om meer te betaal vir wyn, hoe beter vir die bedryf en gevolglik weer vir die wyndrinker. Dis wel besig om in Suid-Afrika te gebeur. Wyn word nie meer as iets so intimiderend gesien nie. Mense begin meer gemaklik daarmee raak, meer vrae vra, meer kombinasies probeer. Wyn-opleiding is die antwoord vir selfs meer groei in die verbruikersmark.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Hoe die karakter van die wingerd waarin die druiwe gegroei het, steeds na al die prosesse in die kelder steeds uitstaan. Wyn vertel waarlik ’n storie.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Steeds iets kreatiefs – ek hou van kuns en woorde – skrywer, advertensiewese, juweliersontwerp, kunsklasse gee.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Vertrou jou instink. Probeer nuwe wyne – een keer per week/maand. Snaakse etiket, druifsoort, taal wat jy nie verstaan nie? Koop dit. Praat met die mense in die wynwinkel, besoek kelders/wynskoue. Só leer ´n mens die stories en mense rondom die wyne ken en begin jy leer wat by jou pas.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Balans en geduld. As die oes die een jaar te groot was, sal die wingerd outomaties die volgende jaar minder dra. Balans in die wingerd met groei; balans in die wyne ten opsigte van suiker en suur; balans in die lewe met werk en tyd saam met geliefdes.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
His lips drink water, but his heart drinks wine – ee cummings
Wie is jou wynmaak-helde?
Sashi Moorman, Rajat Parr, Eben Sadie, Duncan Savage, Josep Lluis Peres, Sarah Peres en Anne-Claude Leflaive.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Die Seysses-familie van Domaine Dujac; Lalou Bize-Leroy van Domaine LeRoy, die Conterno-familie in Piemont; Francois en Antoine Jobard en die Raveneau-familie…die lys is baie lank.