Johan Jordaan is die rooiwynmaker by Spier Landgoed buite Stellenbosch
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Johan was Diners Club Wynmaker van die Jaar 2011 vir sy Creative Block 5-versnit en het vroeër vanjaar uitgeblink by die Shiraz SA Uitdaging, waar die land se drie beste Shiraz-versnitte en top 12 Shiraz bekendgemaak is. In die kategorie vir Shiraz versnitwyne was sy Spier Creative Block 3 2015 een van die drie wenners.
Johan se vrou, Lizanne is ook ’n wynmaker by Spier en hulle woon op die plaas met hul drie seuns, Jean en die tweeling Mouton en Christopher.
Johan in die wynbedryf beter bekend as “Pie”, het op ’n wingerdplaas grootgeword en van ’n jong ouderdom wyn by die kelder en by die huis geproe. Hy het tydens sy studies op Elsenburg besluit dat dit sy toekoms gaan wees.
Hoe voel dit om by die Shiraz SA beloon te word en is Shiraz jou sterkpunt?
Dit is fantasties. Die Creative Block 3 Shiraz-versnit was al ’n hele aantal keer as finalis aangewys, maar het nooit die deurbraak gemaak nie, tot nou, natuurlik. Ek dink nie Shiraz is my sterkpunt nie, maar ek werk baie hard daaraan om dit te verbeter.
Hoe voel jy oor die algemeen oor kompetisies en toekennings?
Kompetisies en toekennings maak die speelveld gelyk. As jy ’n sukses van wynmaak wil maak, moet jou wyne gereeld met ander wyne vergelyk word, om die kwaliteit en diepte te bepaal.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My eerste inkomste was by Slanghoek Kelder. Ek is as parshulp aangestel en was verantwoordelik vir die sanitasie van die parskelder. Dit is, in my opinie, die beste plek om te leer oor wynbereiding in ’n kelder. Dit leer jou die basiese beginsels van goeie wynbereiding, naamlik sanitasie.
Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?
Ek was gelukkig genoeg dat Spier ´n kans met my gevat het ná onderhoude en dit is al 11 jaar gelede.
Watter deel van jou werk geniet jy die meeste en watter deel die minste?
Daar is beslis dinge wat meer natuurlik vir is my en dinge wat minder natuurlik is. Dit is dan die dinge waaraan ek die hardste moet werk en dit is nie altyd so lekker nie.
Voer julle uit en hoe lyk die persentasie plaaslik versus uitvoer?
Die oorgrote meerderheid van ons wyne word in die buiteland verkoop.
LEES OOK: Wynmaker Narina Cloete
Watter een van die wyne is jou persoonlike gunsteling?
Dit is ’n onregverdige vraag! Dit is soos om te vra watter kind jou gunsteling is; dalk weet jy, maar jy mag dit nooit bekendmaak nie…
Watter kultivar stem die beste ooreen of beskryf jou persoonlikheid die beste?
Cabernet Sauvignon: dit raak beter soos dit verouder. Dis baie energiek en nie almal se voorkeur in jeug nie, maar tyd en omstandighede rond dit baie goed af.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Geduld. Die natuur leer dit vir jou; die begrip daarvan, tyd en geduld temper jou ingebore dryf tot iets meer afgeronds.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Ek gebruik die vergelyking van ’n beeldhouer: ek begin met ’n ruwe, groot stuk graniet of marmer en werk dit dan stuk-stuk met tyd af na iets meer volmaak en afgeronds. Ek maak dus groot ekstrakwyne wat oor tyd in die bottel verfyn en vervolmaak word. Hiervoor het jy natuurlik goeie druiwe of graniet nodig en dit is ’n passie by Spier om die regte druiwe van die regte terroirs te kry, ten einde die beste moontlike wyn daarvan te maak.
Wat beplan jy vir die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
Daar is altyd nuwe versnitte en kultivars op die horison. Grenache, Cinsaut, Carignan, Tannat en Tempranillo is kutivars wat my aandag trek en kan dalk ’n versnit vir die toekoms raak.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dat dit persoonlik is. Om dit te maak, is wetenskap; om dit te versny, is kuns; en om dit te drink, is romanse.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
In die aand voor ‘n knetterende vuur.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Ek het vele herinneringe as gevolg van wyn. Dit gee my die kans om baie te reis en nuwe plekke te sien en van ander kulture te leer. Ek en Lizanne het een koue dag in Agulhas calamari en tjips by die lekkerste restaurant gekoop en na die mees suidelike punt gery om dit daar te geniet. Toe ons daar kom en die kos uitpak, wou ons wyn drink, maar ek het die glase vergeet. Dit was nogal ’n baie statige wyn – Spier Private Collection Chenin Blanc 2008 – en ons het dit toe maar uit die bottel geniet in die koue, vars omstandighede by een van die mees unieke plekke. Soos dit hoort.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2018?
Om paraat te bly en ons produsente te oorreed om wingerde in die grond te hou of om nuwe wingerd te plant.
Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die SA wynbedryf te help groei?
Drink minder, maar beter.
Wie is jou wynmaak-helde?
Kobus Rossouw, Henri Swiegers en Frans Smit.
Watter wynproe staan vir jou uit oor die jare?
Ek het Bordeaux in 2012 besoek en ons het baie bekende wyne van Bordeaux gedrink; dié waarvan ’n mens eintlik net kan droom. Maar die grootste juweel was ’n witwyn wat in 1967 gemaak is, afkomstig van die Jura-streek in Frankryk. So kompleks, ryk, rond en gefokus op die einde.
Wie inspireer jou?
My familie. Dit is ’n wonderlike voorreg om vir iemand te kan omgee en verantwoordelik te wees vir hul ontwikkeling en toekoms. Om elke dag daaraan te werk en geleenthede op te volg wat die toekoms vir hulle meer verseker en asemrowend kan maak.