Badsberg Wynkelder swaai vanjaar die “soetes”-septer by die 17de jaarlikse Muskadel SA-toekennings en Henri Swiegers het een platinum- en twee goue toekennings ontvang
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Badsberg Wynkelder van Rawsonville in die Breedekloofvallei swaai vanjaar die “soetes”-septer by die 17de jaarlikse Muskadel SA-toekennings en die wynmaker wat breëbors hieroor kan wees, is Henri Swiegers, wat een platinum- en twee goue toekennings ontvang het.
Die platinumtoekenning het gegaan aan hul Badsberg Red Muscadel 2017 en die twee goues aan hul Red Muscadel 2008 (goue medalje by Muskadel SA-Toekennings 2009) en Red Muscadel 2009.
Henri en sy vrou, Elzabe en hul kinders, Christine en Giliam, woon op op die plaas by die kelder en geniet die vryheid en ruimte baie.
Het jy enige byname in die bedryf of op die plaas?
Die kelderwerkers praat van “die haastige man”.
Wat was nog jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
Elke jaar is uitdagend, want daar is altyd nuwe moeilikheid.
Wat is jou vroegste herinnering aan goeie wyn?
Ek het as kind gereeld by McGregor Kelder aangedring om ’n bietjie muskadel te proe.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Ek het soort van in die kelder grootgeword en het al as kind op klein skaal wyn probeer maak. Die wyn en kelder was maar deel van my lewe as kind.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek het in 1996 as parshulp by Slanghoek Kelder begin. Ek was in beheer van die parskelder.
Hoe lank is jy nou by Badsberg en waar was jy oral as wynmaker?
Ek was van 1996 tot 2002 by Slanghoek – ek het as parshulp begin en toe gevorder tot assistent-wynmaker en later wynmaker en van 2002 tot op hede is ek by Badsberg.
Hoe bly jy getrou aan die plaas se erfenis, maar hou terselfdertyd by met tendense en giere in 2019?
Dit is maar ’n taak om op datum te bly met al die nuwe tendense, maar ek sien alles as ’n uitdaging en probeer dit so gou moontlik onder die knie kry.
Hoe voel jy oor jul bekroning vir muskadel – is daar nog ’n mark vir muskadel en wat beteken hierdie toekenning vir julle?
Daar is definitief ´n plek vir muskadel; ons het ons muskadel se verpakking 2 jaar terug verander en dit is die beloning daarvoor.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
As wynmaker bepaal jy nie die tyd wanneer om iets aan wyn te doen nie Die wyn sê vir jou wanneer om iets te doen, jy moet dit net raaksien.
Wat is die les wat jy van kleins af by jou pa geleer het?
As iets die moeite werd is om te doen, doen dit goed.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Ek probeer wyne maak wat lekker en maklik drink, want dit is wat die koper met die wyn gaan doen.
Wie in die wynbedryf het jou al die beste raad gegee?
Kobus Rossouw
Wat glo jy is die uitdagings of eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Politiek en arbeid.
Wat was jou grootste oorwinning as wynmaker tot dusver?
Die SA Jongwynskou Generaal Smuts Trofee vir die beste wyn op skou en die Diners Club Jong wynmaker.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Koop sommer drie bottels ekstra en proe almal!
Wat gee jou grys hare as wynmaker?
Swak diens
Vertel my van jou honde?
Ek het ’n staffie (Pepper) wat heeldag saam met my in die kelder is en ’n rifrug (Bauchous) wat die huis oppas.
Watter bottel wyn het vir jou die mooiste herinneringe?
’n 1930 Muskadel wat ek saam met vriende gedrink het, maar ek het nog ’n bottel wat ek bêre vir 2030.