Gunter Schultz is die nuwe wynmaker by Baleia Wyne buite Riversdal
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Gunter en sy vrou, Juanita, woon sedert Mei op die plaas met hul drie kinders, Anna-Lousie, Joel en Bianca. Gunter het al by van Suid-Afrika se bekendste wynplase, waaronder Delaire Graff en Tamboerskloof, gewerk en uitgebreide ondervinding op wynplase in Kalifornië, Suid-Australië en Nieu-Seeland opgedoen.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
My oudste broer is ook ’n wynmaker. Ek het hom baie jare gelede ge-job-shadow.
Som jou wynmaakstyl in een woord op.
Ek is terroir-gedrewe. Werk matig met eikehoutvate.
Watter wynproe staan vir jou uit oor die jare?
’n Wynproe een aand in Franryk, waar ons 12 bottels geproe het met ’n totale waarde van R400 000.
Wat was nog jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
2003, dit was baie warm en droog. Die wyne was baie hoog in alkohol.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Om ’n argitek te wees.
Wat pla jou aan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker?
Hulle word bederf met kwaliteit, maar wil nie daarvoor betaal nie.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek was ’n assistent-wynmaker by Slayley Kelder in Stellenbosch.
Hoe het jy in jou huidige pos beland?
Ek het twee jaar gelede vir Baleia se wynmaker, Abraham de Klerk, gesê as hy ooit die pos verlaat, moet hy my laat weet. Hy stuur toe vir my November verlede jaar ’n boodskap om te sê sy pos gaan oop.
Hoekom wou jy by Baleia aansluit?
Ek wou die rat race verlaat. Ek is ’n verhoudingmens en ek dink die stede het daai konsep begin verloor. Ek dink ook dat ons wingerde ongelooflik is en dat die streek nog groot resultate gaan lewer.
Wat is jou vroegste herinnering aan goeie wyn?
Dit was 20 jaar gelede in Nieu-Seeland. Die sauvignon blanc van daar af is ongelooflik.
Watter kultivar dink jy is die plaas se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?
Chardonnay en syrah.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ons beeld is baie belangrik. Ons wil hê mense moet kan ontspan as hulle Baleia drink.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Respekteer die vrugte.
Hoe verskil Baleia van ander wynplase waar jy al gewerk het?
Hul grondprofiel is die ingewikkeldste en mees diverse so ver. Dit gee ’n wynmaker baie blokkies om mee te bou.
Wie in die wynbedryf het jou al die beste raad gegee?
My wynmaker-broers.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Grenache noir.
Wat glo jy is die grootse eise wat die beroep aan jou as wynmaker stel?
Wynbemarking.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Twee goue medaljes in die Syrah Du Monde vir die beste syrah’s in die wereld. Om twee keer binne vier jaar aangewys te word vir die beste rosé in die land.
Watter kulitvar gee jou die meeste grys hare?
Pinot noir.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Die geur-ontwikkelingsfase.
Watter wynmaker het die grootste indruk op jou loopbaan en lewe gemaak?
Alberto Antoninni van Italië.
Watter land se wynmaak-praktyke beïndruk jou die meeste?
Frankryk.
Is daar ’n land waarheen jy graag reis vir hul wyne?
Frankryk.