Gerhard Swart is die afgelope drie jaar verantwoordelik vir die wynmaak van Flagstone Kelder, maar ook die hoof wynmaker vir Accolade Wines Suid-Afrika en oorsien die hele wynmaakspan van Accolade Wines
Deur: Maryke Roberts
Foto: verskaf
Hy het by Elsenburg studeer en was assistant-wynmaker by McGregor Kelder en ook later by Bonnievale Kelder, voor hy by Flagstone Wynkelder in die Strand aangesluit het.
Gerhard se vrou, Jacolize – ’n boeremeisie van Bonnievale – en hul twee dogters Jané (10) en Lia (5) bly in die Strand waar hy grootgeword het en nou weer kan branderplank ry.
Hoe het jy by Flagstone beland?
Ek het van 2000 tot 2007 in die Robertsonvallei wyn gemaak en een van die kliënte vir wie ons wyn gemaak het, was Western Wines, wat toe die Kumala handelsmerk besit het. Western Wines is later uitgekoop deur ’n Amerikaanse wynmaatskappy, Constellation Wines. Hulle het my in 2007 genader rakende ’n pos as wynmaker/wyn-aankoper en dus die kans gegee om vir ’n groot maatskappy te werk en blootstelling te kry aan die internasionale bedryf. Ek het in Augustus 2007 begin werk as een van die wynmakers/wyn-aankopers. Die besigheid het in Januarie 2008 die Flagstone handelsmerk gekoop om die premium gedeelte van hul Suid-Afrikaanse portefeulje te wees. Ek het die 2008 seisoen nie gepars nie, omdat ek ’n aankoper was, maar my kantoor was by Flagstone Wynkelder in die ou dinamietfabriek in Paardevlei. Ek het dadelik besef dat ek steeds my hande in die druiwe en my kop in die wingerd wil hê. Gelukkig vir my het die posisie van wynmaker vir Flagstone beskikbaar geword in Julie 2008 en ook die Fish Hoek-handelsmerk se wyne versny en gebotteleer. Drie jaar gelede het ek die pos as hoofwynmaker van Accolade Wines Suid-Afrika gekry, toe Bruce Jack (vorige eienaar van Flagstone en later hoofwynmaker van Accolade Wines Suid-Afrika) ’n ander rol in die globale maatskappy opgeneem het.
Hoekom het Flagstone se span besluit om ’n proekamer in die stad by die Rockwell Hotel te open?
Flagstone is in ’n area, waar ons nie so baie besoekers wat Kaapstad besoek, ontvang nie. Ons kliënte is meer permanente inwoners van die Helderberg en die “swaeltjies” wat eiendom in die area besit en vir die somermaande in Suid-Afrika kom bly, wanner dit winter in hul tuisland is. Die idee is daarom om meer internasionale toeriste bekend te stel aan Flagstone en ook ’n diens te lewer aan kliënte wat in die Kaapstad omgewing woon.
Hoekom wynmaker?
Albei my ouers het op plase in die Bredasdorp-area grootgeword. Ek het as kind meeste vakansies op die familie se plaas deurgebring. Vandat ek kan onthou, wou ek in die landboubedryf betrokke wees. Ek het dus op Elsenburg gaan studeer na skool en vakansies op plase gewerk. Een hiervan was by die Lategan-familie wat Bergsig Wynkelder besit en net daar het die gogga gebyt.
Is dit moeilik om ’n kelder en proelokaal te hê, maar nie wingerde nie?
Ek sou nie sê dat dit afbreuk doen aan ons handelsmerk nie. Flagstone was nog altyd uniek en bietjie “quirky” en ons nuwe slagspreuk is juis “ We are born creative”. Ons koop ons druiwe van spesiaal-geselekteerde wingerde in areas waar seker kultivars die beste en unieke eienskappe toon. Ons werk met meeste van die produsente al vir meer as 10 jaar. Baie van die wingerde is ook al wingerde wat meer as 15 jaar oud, ’n hele paar oor die 20 jaar en ’n paar tot so oud as 35 jaar oud is. Hierdie ou wingerde produseer druiwe met ongelooflike kompleksiteit en unieke karakter. Wingerde soos hierdie sou al lankal uitgetrek gewees, het indien dit nie was vir kelders soos ons en vele ander wat die druiwe koop teen ’n premie sodat dit steeds vir die boer finansieel sin maak om die wingerd in die grond te hou. Baie van ons premium wyne is ook ’n versnit van twee of selfs drie unieke wingerde en terroirs. Dit bied my die geleentheid om unieke wyne te maak, wat die karakters van verskillende areas en terroirs versny om ’n baie unieke wyn te maak.
Watter een toekenning staan vir jou uit?
Ek dink die een wat my my hele lewe lank sal bybly, is die Generaal Smuts-trofee wat ek in 2010 op die Nasionale Jongwynskou ontvang het vir die beste wyn op die skou uit meer as 2 000 wyne. Ander prestasies wat na aan my hart lê, is ons Absa Top 10 Pinotage en Kaapse versnit-trofees en ook dat ons die laaste drie jaar by Veritas as die top kelder met nie minder as 10 inskrywings bekroon is. Die Generaal Smuts bly tog die grootste.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Wyn gee vir ons as wynmakers die geleentheid om ons kreatiwiteit uit te leef. Dit begin in die wingerd deur tot in die kelder tydens pars en eindig by die versnydingsproses waar wyne versny word tussen tenke of selfs deur spesifieke vate te selekteer vir ’n unieke wyn. Die verbruiker kan dan hierdie kreatiwteit van elke wynmaker en wingerboukundige proe.
Elke wyn is net so goed soos die volgende oesjaar en jy kry een keer ’n jaar tyd om ’n unieke produk te skep, waarmee jy die res van die jaar tevrede en trots op wil wees totdat die nuwe oesjaar vrygestel word.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Bly op jou knieë en nederig.
Wat is die grootste verskil, volgens jou, om vir ’n kooperatiewe kelder te werk, versus ’n landgoed of enkel kelder?
Elkeen het sy voor en nadele. Ek het baie geleer deur vir sewe jaar in ’n groot koöperatiewe kelder te werk en dieselfde by ’n kleiner premium produsent. My raad sal wees aan wynmakers wat klaar studeer het om ’n paar parstye te gaan doen by beide tipe kelders en te sien waarvan jy hou, voordat jy jou loopbaan in ’n sekere rigting bou.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Elke oesjaar het sy eie uitdagings en om met soveel verskillende streke te werk, maak dit nogal interessant. Ons kry druiwe vanaf die suide in Elim, ooste by Ashton, noorde by Breedekloof en weste by Darling.
Wat is die uitdagings om in 2017 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Ek dink die grootste uitdaging die afgelope twee jaar, was die droogte wat ons ondervind en klimaatsverandering.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn bemark word aan verbruikers?
Wyn word steeds gesien as ’n eksklusiewe produk, maar ons is stadig maar seker besig om hierdie stigma rondom wyn af te breek.
Wat is die een ding wat die wynmaakproses wat min mense weet?
Die hoeveelheid kreatiwiteit wat in wynmaak ingaan. Ons is veral baie kreatief en eksperimenteer baie hier by Flagstone.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Om in die wingerde te kom en te sien hoe dit groei en deur die seisoen verander; dan daardie kennis van hierdie spesifieke blok te vat en besluite daar rondom te neem en te eksperimenteer en iets unieks te skep. Aan die anderkant om ’n kliënt in vervoering te sien oor een van ons wyne.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Ek is baie lief vir die natuur en die Knysnabos en wou aanvanklik bosbou gaan studeer.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Dit sal definitief iets van Bruce Jack wees: “Wine is a marriage of nature and human imagination.”
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Een van hulle is definitief my mentor, Bruce Jack en die ander is Chris Keet, wat van 2009 tot 2015 saam met my met die wingerde gewerk het.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Ons werk daaraan om ’n beter ervaring vir ons kliënte te skep en sal graag wil sien dat die Paardevlei omgewing ontwikkel word, maar met die doel om groen areas saam met die ontwikkeling te skep, waar mens en natuur saam kan funksioneer en dat die geskiedenis en natuurskoon van die perseel bewaar sal word.