Frans Smit is sedert 1995 by Spier Landgoed buite Stellenbosch en het in 1996 sy eerste oesjaar gehad
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s verskaf
Hy is vandag die landgoed se keldermeester. Destyds het Spier een van Frans se lektore gekonsulteer tydens die aanbou van ’n nuwe kelder. Deel van die studente se finalejaarprojek was om ’n kelder te ontwerp, en Frans se ontwerp is net so by Spier toegepas.
Dieselfde lektor het Frans aanbeveel vir die pos by Spier, en Frans was een van min studente wat nog voor sy eindeksamen ’n permanente werk gehad het.
Frans is in die plaasgemeenskap van Kakamas gebore, en sy belangstelling in wingerdboukunde het op ’n jong ouderdom begin en sy loopbaankeuse beïnvloed. Hy het ’n diploma in keldertegnologie op Elsenburg gevolg, en nadat hy graad gevang het, in 1995 permanent by Spier aangesluit.
Frans en sy vrou, Lacea, woon in Stellenbosch met hul agtjarige tweeling.
Watter een toekenning staan vir jou uit?
Tussen die vele oor die laaste 21 jaar, staan my heel eerste Veritas dubbelgoud-toekenning in 1997 vir die Spier IV Spears Noble Late Harvest 1996 die meeste uit. Natuurlik is die internasionale toekennings ook van ontsaglike waarde, en in 2012 wen die 21 Gables Chenin Blanc 2010 die Decanter World Wine Awards die Regional Trophy: Best in Show (South African Chenin over £10). Meer onlangs het Spier 21 Gables Pinotage 2014 goud uitstaande in die 2017 International Wine and Spirits Competition gewen.
Is dit moeilik om soveel verskillende etikette te hê, maar steeds een algehele handelsmerk uit te bou?
Die verskillende etikette gee ons die geleentheid om die verbruiker se wynkennis te verbreed, en wynsmaak op te voed.
Wat is jou gunstelingkultivar?
Sauvignon blanc was nog altyd my gunsteling, alhoewel ek deesdae nie meer te kieskeurig nie.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Wyn se mooiste eienskap – en die eienskap wat dit kop en skouers bo ander alkoholiese dranke laat uitstaan – is die natuurlikheid van die produk. In sy eenvoudigste vorm is dit gegiste druiwesap. Nie bier of brandewyn het dieselfde eenvoudige en natuurlike proses van bereiding nie.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Dit is ’n cliché, maar so waar: “Ken jou wingerd beter as enigiemand anders.” Dit het baie jare geneem om te besef dat elke direkte aksie in die wingerd ’n impak op die wyn het.
Wat is die grootste verskil, volgens jou, om vir ’n koöperatiewe kelder te werk, versus ’n landgoed of enkelkelder?
Spier is nie ’n koöperatiewe kelder nie. Dit is ‘n privaat kelder asook ’n kleiner boetiekkelder wat verlede jaar sy eerste landgoedwyn produseer het.
Spier fokus op kwaliteit wynbereiding op verskillende prysklasse. Die aandag aan detail in die wyn se voorbereidingsproses is gelykstaande aan enige klein kelder waar alles met die hand gedoen word.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Die grootste uitdaging is definitief dat die passie vir wyn omgesit word in ’n kommersiële aanvaarbare produk. Dis belangrik om wyn te produseer wat dit ekonomies regverdig.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
LEES OOK: Wynmaker: Dewaldt Heyns
Toe ek 22 jaar gelede by Spier begin werk het, was daar geen handelsmerk nie. Vandag is dit ‘n internasionaal suksesvolle handelsmerk met baie hoogtepunte oor die dekades. Om deel van die handelsmerk se groei oor meer as twee dekades te wees, is vir my ’n fenomenale prestasie.
Wat is die uitdagings om in 2018 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Die volhoubare voorraad van druiwe, gegewe die veranderende klimaatsomstandighede, is die grootste uitdaging.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Die gewildste vorm van bemarking aan verbruikers is deur afslag of prys-promosies. Ek dink daar is ’n leemte in die bemarking van stories oor wyn. Stories, staaltjies, die motivering agter etikette en handelsmerke, is belangrik om die persepsie van wyn as kommoditeit te verander.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak?
Gooi: Dis ’n baie persoonlike ding, maar ek het ’n kleintjie dood aan mense wat wynglase té vol maak.
Berging: As verbruikers van plan is om wyn vir langer tydperke te stoor voor dit verbruik word, moet dit in ’n koel, donker area wees. Maar: die meeste wyn word gekoop om gedrink te word.
Pasmaats met kos van wyn: 99% van verbruikers dink nie aan die wyn as hulle kosmaak nie. Weer eens, dis ’n persoonlike gevoel, maar ek beveel aan dat verbruikers eerste na die wyn kyk as jy ’n kospasmaat wil kies.
Verkies jy ’n swaarder shiraz? Maak die wyn deel van jou maaltyd met ’n rooiwyn (shiraz)-sous, of bring die spesery-geure in die wyn na vore met ’n geurige maaltyd. Verkies jy kerrie? Probeer ’n gehoute chenin blanc, dis ’n wyn wat kan kers vashou met ’n dis met ´n effense byt.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Min mense besef hoeveel proewerk wynmakers moet doen voordat die wyn gereed is!
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Hulle drink hopeloos te min wyn!
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Om elke jaar van voor af te begin: elke seisoen is anders. Elke seisoen bring ander resultate. Dis ’n ongelooflike gevoel om ’n kompliment oor jou wyn van ’n wildvreemde persoon in ’n winkel te ontvang. Ek hou daarvan om met mense oor hul keuses voor die wynrak te gesels.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Tans is dit Spier se Creative Block 3. Dit besit al die geure wat ek in shiraz-gedrewe versnitte soek, soos viooltjies, (’n mondvol) tanniene; gestruktureerd, maar volrond.
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
My eweknieë in die bedryf. Wynmakers soos Kevin Arnold, Beyers Truter, John Loubser, Bubbles Ferreira, is groot name wat diep spore getrap het om handelsmerke op te bou. Ek is in konstante kommunikasie met groot vriende en ou Elsenburg-klasmaats soos Dewald Heyns, Dawid Niewoudt en Pierre Wahl.
Waarheen gaan jy op die plaas vir dinktyd?
Ek stap soggens vroeg, 5:00, alleen in die merlot-wingerd by Spier.