Francois Roode van Diemersfontein buite Wellington het in 2018 verskeie pryse vir sy wyne ingepalm
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Een van die pryse wat Francois verower het was van Shiraz SA se toptoekennings. Hy is die afgelope 15 jaar die wynmaker op die plaas.
Hy en sy vrou Elrine het in Mei verlede jaar ouers geword van ’n pragtige dogtertjie, Sophia, en hy is baie opgewonde om ’n pa te wees en sien baie uit na die opwindende lewe vir hul gesin vorentoe.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
My ouers het baie moeite gedoen en vir my geneem na verskillende beroepe waarin ek ’n belang gestel het. Dit was van tuinboukundiges tot tandemakers, maar die dag toe ek by Nietvoorbij se kelder instap en met die wynmaker gesels en die reuke in die kelder ruik, het dit my belangstelling geprikkel.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My eerste werk in die wynbedryf was as parshulp by Perdeberg Kelder in 2002. Daardie jaar was ek by die witwyn-afdeling. My werk was om die wit druiwe se drukpars te bestuur.
Watter deel van jou werk geniet jy die meeste en watter deel die minste?
Wynmakers hou nie van administrasie nie, punt. Die enigste administrasie is die proenotas wat ons maak. Parstyd is lekker – die lang gewag om te sien hoe die druiwe waaraan die wingerdboukundige, Waldo, so hard gewerk het, resultate in die kelder lewer.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Die ongelooflike werking van ‘n mikroskopiese klein gis-sel om suiker en ander komponente te kan omskakel na alkohol en aromas.
Hoe voel jy oor kompetisies en toekennings?
Kompetisies en toekennings het hul plek, dit gee vir die verbruiker ’n aanduiding van wat die wynkenners as topgehalte beskou. Vir my gaan dit oor persoonlike smaak; koop dit wat jy geniet of dit nou die goedkoopste wyn is of nie, dit maak nie saak nie.
Hoe voel dit om by die Shiraz SA beloon te word en is shiraz jou sterk punt?
Dit voel ongelooflik lekker. Pinotage is ons sterk punt, maar shiraz doen net so goed in Wellington en is ’n groot gunsteling van die eienaar, David Sonnenberg
Voer julle uit en hoe lyk die persentasie plaaslik versus uitvoer?
Ons grootste mark is plaaslik, 85% en uitvoere 15%.
Hoe groot is jul wynreeks?
Ons het ’n totaal van 21 etikette wat opgedeel word tussen ons Carpe Diem, ons top- premium reeks, Diemersfontein en Woolworths.
Watter een van die wyne is jou persoonlike gunsteling?
Dit is ’n moeilike een, soos om te kies watter een van jou kinders is jou gunsteling. Pinotage is ná aan my hart, sowel as malbec.
LEES OOK: Wynmaker: Flip Smith
Watter kultivar dink jy is jul vlagskip en in watter kultivar lê jul toekoms?
Pinotage is ons vlagskip-kultivar, ons is bekend daarvoor. Ek sou sê kultivars vir die toekoms is nog steeds pinotage, met chenin blanc en sauvignon blanc wat baie sterk groei.
Watter kultivar gee jou die grootste kopseer?
Merlot, dit is ’n kultivar wat baie area-spesifiek is. Dit kan een jaar briljant wees en die volgende jaar gemiddeld.
Watter kultivar stem die beste ooreen/beskryf jou persoonlikheid die beste?
Malbec, ’n wyn met diep donkerrooi kleur, vruggeure van swart bessies en pruimedant, sagte tanniene en ´n lang nasmaak.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Die wynbedryf is baie klein en dit is dus belangrik hoe ons ons uitbeeld. Diemersfontein is bekend vir sy pinotage, maar ons het ook ‘n privaat skooltjie en Thokozani winelands Investments, wat die werkers bemagtig en aandeelhouers is van die besigheid. Diemersfontein is nie net ’n wynplaas nie, maar bied meer vir sy mense.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Jy moet elke jaar reg wees vir daai curve balls wat die seisoen vir jou kan lewer. Dit is die uitdagings wat dit so lekker maak.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Diemersfontein se wyne gee die omgewing waar dit groei mee met minimale inmenging om die karakter te verander, behalwe die Diemersfontein pinotage met sy mokka- en sjokoladegeure, die invloed van die Franse eikehout wat karakter aan die wyn verleen.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Feesviering met vonkelwyn toe ons dogter, Sophia, gebore is, ’n lekker braai in die somer of warm etes in die winter saam met ons vriende; die ontmoeting van nuwe mense by ’n kos- en wyn-aand iewers op die Tuinroete of doer in die Noorde.
Vertel my van jou troeteldiere?
Ons het ’n Jack Russel, sy naam is Skollie. Hy is gaande daaroor as ek hom in parstyd saamvat kelder toe, want hy weet iewers sal daar ’n ekstra vaatjieprop wees waaraan hy kan kou en mee speel.
As jy nie wynmaker geword het nie, in watter ander beroep sou jy kon gelukkig wees?
Die natuur is baie naby aan my hart, so ek sal ook gelukkig kon wees as natuurbewaarder of navorser.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop nie?
Dit kan baie oorweldigend wees, veral by Makro. Doen ´n bietjie navorsing, wees af en toe dapper en koop iets anders as wat jy gewoonlik koop. Eksperimenteer.