Dr. Alvi van der Merwe is die wynmaker en eienaar van Alvi’s Drift Wyne buite Worcester
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Hy en sy vrou, Junel, woon op die plaas. Junel is ’n Kaapse wynmeester en help met bemarking en onthaal en lewer insette in die wynstyle.
Hy het onlangs by Shiraz SA die toekenning as een van Suid-Afrika se top 12 Shiraz-wyne vir sy Alvi’s Drift Signature Shiraz 2016 ontvang.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Ek is in ’n huis reg langs ons kelder gebore en alhoewel my ouers ons kinders forseer het om ’n kwalifikasie buite landbou te kry, wou ek dit altyd maar doen.
Vertel my van jou troeteldiere?
Ons het twee, ’n Jack Russell, Cleo en Great Dane, Shaka. Cleo ry oral saam met my op die plaas met die motorfiets en proe goed druiwe.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Dat mens altyd by iemand iets kan leer en dat jy nooit alles sal weet nie.
Hoe voel jy oor kompetisies en toekennings?
Dis altyd ’n voorreg om erkenning te kry. Dit spoor mens ook aan om elke jaar harder te probeer.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek het in 1988 kwalifiseer as ’n mediese dokter en het my huisdokterjaar in Ngwelezana Hospitaal in Zoeloeland gedoen. Daarna het ek twee jaar in England en Kanada gewerk as mediese praktisyn, gevolg deur 14 jaar as algemene privaat mediese praktisyn op Worcester.
Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?
Deeltyds 17 jaar en voltyds 14 jaar – my liefde vir wyn en wynmense het die oorhand gekry.
Watter deel van jou werk geniet jy die minste?
Admin.
En die meeste?
Wingerd-ontwikkeling en die maak van unieke premium wyne.
LEES OOK: Wynmaker: Reenen Borman
Hoe voel dit om by die Shiraz SA beloon te word en is shiraz jou sterk punt?
Dis ’n enorme voorreg vir my en my span. Dit is ons intreewynreeks en baie bekostigbaar; onder R60 per bottel. As jy kyk na die wonderlike wyne waarteen ons meegeding het, is dit vir ons ’n besondere prestasie!
Voer julle uit en hoe lyk die persentasie plaaslik versus uitvoer?
Ons verkoop tans meestal binnelands.
Hoe groot is jul wynreeks?
Ons het verskeie reekse – in totaal bottel ons tans 25 verskillende wyne.
Watter kultivar dink jy is jul vlagskip en in watter kultivar lê jul toekoms?
Rooi – tussen shiraz en pinotage en wit – chenin blanc.
Watter kultivar gee jou die grootste kopseer?
Merlot
Watter een van die wyne is jou persoonlike gunsteling?
Die Albertus Viljoen Chenin Blanc
Watter kultivar stem die beste ooreen/beskryf jou persoonlikheid die beste?
Chenin blanc
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Ek glo in fenoliese rypheid om mee te begin en perfekte balans op die tong. Vrug bly die rugsteen van al ons wyne.
Wat beplan jy vir die volgende paar jaar?
Ons stel binnekort ’n nuwe reeks vry: Die 221. My oupa was Springbok no. 221 en het in 1928 die eerste drie op Suid-Afrikaanse grond teen die All Blacks gedruk. Die reeks bestaan uit ’n shiraz-gebaseerde versnit en ’n premium chenin blanc.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Wyn verenig mense en water skei mense. Dit is beslis die mooiste eienskap van wyn en ons bedryf!
LEES OOK: Wynmaker: Niël Groenewald
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Saam met vriende wat dieselfde waardering daarvoor het. Daar is niks so lekker as om na ’n lang week op ’n Vrydag ’n bottel of twee te geniet nie
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Rosanne, nebbelio, pinot gris.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Toe ek my vrou, Junel, ’n Kaapse wynmeester, ontmoet het.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Op ’n Kaapse Wynmeestersfunksie, toe alle meesters hul gunstelingwyn in die wêreld mag bring het – met uitsondering van die ikone in ons bedryf, Dave Hughes en Duimpie Baily – moes almal buitelandse wyn bring en net dié twee mag enige wyn kies. Dave Hughes het ’n bottel van ons intreevlak- chenin blanc gebring en vir my gesê dis sy gunstelingwyn.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Met die 2008 CVC wit versnit moes ek 64 keer die samestelling verander, maar dis op die ou einde een van ons beste wyne.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sou vir jou noodsaaklik wees?
Genoeg spasie en kapasiteit, wat maklik higiënies beheerbaar is.
Het jy al ’n toekenning ontvang wat jou regtig aangedaan gehad het?
My eerste 5-ster-toekennings deur Wine magazine vir die 2008 Chardonnay Viognier en 2004 Muscat.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Kyk na die toekennings, bottelvorm en kleur.
Wie is jou wynmaak-helde?
Daar is so baie! Newald Marais, Dewald Heyns, Johan Joubert en Danie de Wet.
Wie inspireer jou?
Allan Mullins, die wynmeester, wat my geleer het om elke dag positief en dankbaar te wees vir wat ek het.