De Wet Viljoen is die wynmaker by die historiese Neethlinghof-landgoed buite Stellenbosch
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
De Wet Viljoen is ook die ondervoorsitter van die Pinotage-vereniging en pinotage is juis die druifkultivar waarmee hy al verskeie toekennings ingepalm het. Hy het op ’n wynplaas in die Breederiviervallei grootgeword en sê wyn is in sy are. Teoreties was sy eerste werk gedurende vakansies op Zevenwact, toe sy swaer, Eric Saayman, daar wynmaker was en hy so ’n bietjie in die kelder en restaurant gehelp het. Daarna het hy sy praktiese opleiding by Boschendal onder JC Bekker voltooi en sy eerste volwaardige pos by Wamakersvallei in Wellington beklee.
Hoe het jy in jou huidige pos beland?
Ná drie jaar by Wamakersvallei het die pos by Neethlingshof oopgegaan. Ek was gelukkig, want my wingerdkundedosent, Eben Archer, was in daardie stadium ook permanent aangestel en ek is seker hy het vir my ‘n goeie woordjie gesê!
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
“Mag ek nog ’n bottel kry, asseblief?”
Jy is ondervoorsitter van die Pinotage-vereniging. Hoekom lê hierdie organisasie jou so na aan die hart?
Ek is as student en jong wynmaker aan hierdie fantastiese druif deur mense soos Beyers Truter en my vorige baas, Chris Roux, blootgestel. My eerste sukses as wynmaker was ook met ’n pinotage en daar het die liefde begin! Dit is en bly die wonderlikste druiweom mee te werk.
Hoe voel jy oor die toekoms van pinotage?
Die toekoms is blink – dit is net belangrik om die regte boodskap uit te kry, met ander woorde die regte pinotage. Die wêreld neem kennis – Kanonkop het dit weer eens bewys by die onlangse Internasionale Wynmaker-toekennings. Ek gun vir elke wynmaker sukses met pinotage. Die bewys lê in die aanvraag na druiwe, asook wyn.
Neethlingshof was tot onlangs deel van Distell, maar is nou weer op sy eie. Is jy opgewonde oor die toekoms?
Die afgelope jaar was beslis uitdagend en nie sommer iets wat ek vir iemand sal toewens nie. Ons is nie meer deel van die Distell-groep nie. Die ooreenkoms tussen Distell en die Schreiber-familie is beëindig. Ons is baie dankbaar dat die Schreiber-familie besluit het om die 50%- aandeel van Distell uit te koop en met Neethlingshof voort te gaan, iets wat hulle in die jare tagtig begin het.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Die wynbedryf is besaai met wonderlike mense – die wynbedryf is mense – jy kan nie die menslike faktor uit wynmaak haal nie. Wyne – net soos mense – het persoonlikhede.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom?
Ek probeer om die wyne met persoonlikhede te maak – die enigste manier om dit reg te kry is om die oorsprong of terroir van die druiwe te respekteer en te probeer om balans in jou wyne te kry.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder?
Ons het ‘n redelike groot reeks – ons voorsien nie groot veranderinge nie, ons gaan wel in die nabye toekoms weer ’n droë riesling uitbring. Ons wil bou op ons bestaande reekse en probeer om meer enkelwingerdwyne te vestig.
LEES OOK: Wynmaker Conrad Vlok
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Langs ‘n vuurtjie wat in die skemer brand met die geluid van óf die see óf voëls.
Jy het al so baie pryse gewen. Watter een lê jou na aan die hart?
Ek dink Veritas-dubbelgoud bly vir my spesiaal – dis ‘n Suid-Afrikaanse kompetisie en ‘n groot vis om in te katrol.
Wou jy al op skool ‘n wynmaker geword het?
Ek wou graag dokter of fisioterapeut word, maar op die ou end was die wyn (en my punte!) die bepalende factor.
Wat is vir jou die beste kenmerk van wyn?
Wyn is ’n lewende produk – dit haal asem, verouder en pas aan by jou gemoed – as jy dit oppas en vertroetel, sal dit vir jou baie plesier verskaf.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Carnmenere. Ek het ’n liefde vir Suid-Amerika en dink dis iets wat moontlik hier by ons kan werk. Malbec werk tans baie goed op Neethlingshof.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Toe ek my vrou, Annelie, gevra het om in die La Cave-kelder by Wamakersvallei te trou.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2018?
Die huidige droogte is sekerlik die uitdagendste faktor.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Neethlingshof het die trofee vir beste pinotage in 2016 by IWSC gekry en is ook in 2017 vir die Diners Club Wynmaker van die Jaar benoem.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Eenvoud, prakties, op een vlak. Te veel fieterjasies beteken te veel goed wat verkeerd kan gaan!
Watter wyn-en-kos-pasmaat sal jy vir mense aanbeveel?
Pinotage, effens verkoel, saam met seekos soos pangebakte tunasteaks s met vars roket!
Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die wynbedryf beter te ondersteun?
Wees bereid om meer vir gehalte te betaal. Ons publiek is vasgevang in winskope van onder R50 per bottel. Die boer of produsent kan nie ’n bestaan maak uit dié wyne nie. Wees bereid om R100+ vir wyn te betaal.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Ek het ’n graad in mikrobiologie en genetika, ek hou van wat op molekulêre vlak in die wynproses gebeur. Wanneer jy dit verstaan, maak dit dinge baie makliker.
LEES OOK: Wynmaker Martin Moore
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Ek dink dis baie moeilik vir die verbruiker. Ek weet meeste mense koop met hul oë, maar dis tog belangrik om te kyk na ’n “track record” en om iets met ’n storie te koop. Ek hou daarvan om ’n naam of persoon aan ’n produk te koppel. Ek is baie lief vir geskiedenis en hou van plase met stories, ek dink tog baie verbruikers is dieselfde.
Wie is jou wynmaakhelde?
Daar is hele paar, my swaer Eric Saayman, Chris Roux (vorige baas), Beyers Truter en Duimpie Baylee (legende!)
Vertel meer van jou gesin?
Ek en my vrou, Annelie, het saam studier. Sy is wingerboukundige vir Kanonkop en Kleine Zalze. Ons het drie maltrapseuns! Ons bly op die plaas in ’n pragtige huis waarvoor ons baie dankbaar is. Jy is heeltyd aan diens, maar my kinders kry dieselfde voorrreg as wat ek gehad toe ek grootgeword het – geld kan dit nie koop nie en ons is geseënd.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Ek is nie iemand wat baie waarde heg aan name en etikette nie. Die hartseer saak is dat die suksesvolle wynmakers uit die wynproses verwyder word, vanweë bemarking en ander verpligtinge. Ek is baie meer beïndruk met wynmakers wat die vermoë het om nederig te bly en steeds tyd te maak om met die publiek te skakel.
Hoe voel jy oor SA se wyngehalte vergeleke met ander lande?
Ons wyne is uitstekend, kyk maar net na al die internasionale wyntoekennings wat Suid-Afrikaanse wynmakers al gewen het.
Waar is onontginde markte waar jy glo ons wyne baie goed kan doen?
Ek glo nie die Ooste is die oplossing nie, ek dink ons kan baie beter in Amerika doen. Ek dink daar is nog baie plek om te groei en dit is ’n mark wat honger is vir ons wyne.