Danie Steytler is die eienaar en wynmaker by Kaapzicht Wynlandgoed in die Bottelary-heuwels buite Stellenbosch
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Danie tree vanjaar ná 18 jaar as produserende lid van die Kaapse Wynmakersgilde en ook as wynmaker af. Die 33ste Nedbank Kaapse Wynmakersgilde-veiling by Spier Landgoed hou dus vir hom hope betekenis in. Sy twee rooi versnitte, Kaapzicht Estate Rouge de Kaap 2015 en Kaapzicht Estate The Ultimate Vision 2015, sal sy laaste wees wat by dié gewilde veiling onder die hamer kom.
Danie se vrou, Yngvild, doen al die plaas se wyn-uitvoere. Danie en Yngvild woon op die plaas en hy sê dit beteken baie oortyd, omdat hulle altyd nog werk sien en selde van diens af is.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin en hoe lank is jy nou al wynmaker?
Ek is op Kaapzicht gebore en het vakansies op die plaas en parstyd in die kelder gewerk. Ek het goeie vriende by Delheim en Simonsig gehad, en wou altyd die stap neem om eendag my eie wyn te botteleer, soos hulle.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek het vir Landbou-Tegniese Dienste gewerk. Ek het siektes en plae in kwekerye beheer.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Ek wou met wyndruiwe boer. Die begeerte om my wyn te botteleer, het later gekom.
Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al deel van die Kaapse Wynmakersgilde?
My oudste broer wou nie meer boer nie, toe bied my pa vir my die werk aan. Ek is aan die einde van 1999 by die Kaapse Wynmakersgilde voorgestel en deur die lede ingestem.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Dat ons plaas die potensiaal het om uitstekende rooiwyn te produseer. Toe ek by my pa oorgeneem het, het ons plaas 90% witwyn en 10% rooiwyn vir Stellenbosch Farmers Winery gemaak. Ek moes vinnig die wingerde oorplant na 70% rooi en 30% wit druiwekultivars.
Hoe sien jy jouself as wynmaker – versigtig, voortvarend, avontuurlustig of konserwatief en hoekom sê jy dit?
Ek dink ek is konserwatief, want ek het die plaas oorgeplant met druiwekultivars wat by die terroir pas. Ek het ook geluister na wat my kopers wil hê.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Cabernet Sauvignon is nie verniet die aristokraat van die rooi kultivars nie. Dit maak ’n wyn met struktuur. Ek hou van die kultivar se aroma en násmaak.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Grenache.
LEES OOK: Wynmaker: Werner Muller
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag in die toekoms wil sien ontluik?
Cabernet Franc vir rooiwyne en Chenin blanc en Chardonnay vir witwyne.
As jy een bekende kon nooi vir ’n wynproe, wie sou dit wees?
Michael Fridjhon. Hy sal my wyn waardeer en ek sal iets by hom kan leer.
Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?
Hy moet die regte ding op die regte tyd doen. Daar is nie geld of plek vir foute nie.
Vertel meer oor jou wynreeks en watter een jou hart se punt is?
Omdat ek op ‘n groot plaas boer, het ek baie verskillende kultivars geplant om vroeë, mid-seisoen en laat kultivars te hê. Dus het ek outomaties ’n groot reeks wyne. Dit is vir my interessanter om die versnitte te maak as die enkel-variëteite. Ek is baie lief vir Cape Blends en Bordeaux-versnitte, veral in die komplekse style, soos my vlagskip Steytler-reeks wyne.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte?
Cinsaut kom weer “in die mode”. Ek het Grenache aangeplant, so ek wil ’n Rhone-versnit met Shiraz maak en bottelleer.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die karakter van die wyn weerspieël die terroir waarop dit geplant is. Dit gaan ook daaroor om ’n balans te vind.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Toe ek ’n wyn geproe het wat ’n duiker van ’n skipwrak wat in 1896 by Robbeneiland gesink het, uitgeduik het. Sowel as om ‘n Romminee Conti-wynproe as deel van die Kaapse Wynmakersgilde te doen.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Om ons uitvoermark uit te brei in ’n resessie. Ook om aan te pas by klimaatveranderinge. Die Kaap raak al hoe droër.
Wat was sover jou persoonlike, grootste uitdaging as wynmaker?
Om van ’n grootmaat-wynprodusent om te skakel na ‘n landgoed wat kwaliteitwyn bottelleer onder die landgoed se handelsnaam. Dit het geweldige druk op ons kontantvloei gesit.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Pinotage is in ’n stadium deur die joernaliste afgeskryf as ’n wyn wat nooit wêreldklas-status sou bereik nie. In 2004 is ons Steytler Vision 2001, ’n Pinotage-versnit, as die internasionale wenner in die versnitklas by die Internasionale Wyn & Spiritus Kompetisie (IWSC) aangewys. Vyf jaar later, in 2009, is ons 2006 Steytler Pinotage by die Decanter-kompetisie as die internasionale wenner in die kultivarklas aangewys. Hierdie twee wêreldkampioen-wyne het bewys dat Pinotage wel ’n wêreldklaswyn kan wees. Dit was goed vir Pinotage, en daar is deesdae minder kritiek oor ons Suid-Afrikaanse Pinotage.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Om twee wêreld-wenners in ’n primitiewe kelder met ou toerusting te maak.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
’n Goeie parsyster en ontstingelaar asook genoegsame verkoelingkapasiteit.
LEES OOK: Wynmaker: Gerhard Swart
Watter wyn sal jy met soesji en wat met speseryagtige kos aanbeveel?
Saam met oesji sal ek ‘n goeie Sauvignon Blanc of Chenin Blanc met ‘n goeie mineraalagtigheid aanbeveel. ‘n Pinotage of Shiraz werk weer ideaal saam met speseryagtige kos.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker?
Die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker eksperimenteer meer met verskeie streke se wyn en drink wyn saam met al sy etes.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Wanneer die aromas van die wyn ná gisting geruik kan word. Ook om die kultivar en terroir se karakter in die wyn te ervaar.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Eksperimenteer self met verskillende wyne van kelders uit verskillende areas. Kompetisie-plakkers is ’n indikasie dat die wyn bo-gemiddeld is.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Die natuur het sy eie tyd. Jy moet geduldig wag vir die ideale tyd om te oes. Jy moet ook die regte ding op die regte tyd in die wynbereidingproses doen as jy ’n goeie wyn wil maak.
Wie is jou wynmaak-helde?
Niel Ellis, Beyers Truter, Carl Schultz, Etienne le Riche, Peter Ferreira, Johan Malan, en baie van die ander jonger lede van die Kaapse Wynmakersgilde.
Hoe voel jy oor die toekoms van die SA wynbedryf?
Baie positief. Dit is mooi om te sien hoe al hoe meer mense met uiteenlopende agtergronde begin om wyn te geniet. Suid-Afrika produseer die beste kwaliteit wyn in Afrika. Ons uitvoere groei ook mooi.
Watter kultivar dink jy gaan in die toekoms vir Suid-Afrika die meeste roem bring?
Chenin blanc en Pinotage.