Avondale Landgoed het vroeër vanjaar Suid-Afrika se eerste wyne wat in klei-qvevri gemaak, gegis en verouder is vrygestel
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Avondale Landgoed buite die Paarl het vroeër vanjaar Suid-Afrika se eerste wyne wat in klei-qvevri gemaak, gegis en verouder is – die Qvevri Red Blend en Qvevri Chenin Blanc – vrygestel. Die wynmaker agter dié innoverende wyne is Corné Marais, wat sedert 2008 die wynmaker daar is. Hy het vanjaar sy 16de pars daar voltooi en Avondale was sy eerste permanente pos as wynmaker.
Hy vertel die landgoed het in 2018 die eerste wynplaas geword wat met qvevri (wat kwe-vree uitgespreek word) begin werk het.
Waar kom die qvevri vandaan en hoekom die besluit?
Dié eiervormige kleihouers kom van Georgië, tussen Turkye, Azerbaijan en Rusland, wat algemeen gereken as die wieg van wynmaak, met ’n tradisie wat meer as 8 000 jaar terug strek. Die plaas het 24 qvevri gekoop en elkeen hou tussen 650 en 1 000 liters elk. Dit was ’n natuurlike progressie van ons gebruik van klei-amphorae.
Die wande is 20 tot 25 mm dik en nadat dit gemaak is, word dit in oonde gebak en die binnekant met warm byewas uitgeverf om dit digter te maak. Qveri word begrawe en staan nie soos amphorae bo die grond nie, sodat die grond strukturele stabiliteit gee en ook help met die tempratuurbeheer van die wyn binne-in.
Omdat dit begrawe is, gee dit unieke mineraliteit aan die wyn omdat die lug wat deur die wande van die qvevri kom, eers deur die grond moet beweeg.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Geduld
Wat is grootste les wat jy by jou pa geleer het?
Jy moet werk vir wat jy in die lewe wil bereik, niks kom op ’n skinkbord nie.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Daar was nie ’n spesifieke oomblik nie, ek het net van jongs af ’n belangstelling in wyn en ’n wynplaas gehad, die hele proses van die druiwe totdat die finale produk in die bottel is.
Ek kom van Oudtshoorn in die Klein-Karoo en het daar nie regtig blootstelling daaraan gehad nie – daar was die koöperasie en 50 km verder die soetwynplase op Calitzdorp. As daar miskien Sondae ’n wyntjie gedrink is saam die braai, was dit maar die “usual suspects” soos Johannisberger, Graca of Grunberger, soos mens maar in die meeste huise in die 80’s gekry het.
Ek is na skool eers twee jaar oorsee – genoeg tyd om seker te maak oor wat ek eendag wil doen – maar met my terugkoms wou ek nog steeds die idee in my kop najaag, al het ek nie regtig blootstelling aan die bedryf gehad nie! Ek het in 2000 by Elsenburg begin studeer en die res is geskiedenis!
Het jy enige byname in die bedryf of op die plaas?
As jy op Elsenburg was, het jy ’n bynaam, of jy nou wil of nie. Myne was Killer – en nee, ek was nie ’n reeksmoordenaar nie. Vader alleen weet waar die manne met die name uitkom, net om my naam meer in konteks te plaas: van die ander manne saam met my was Polisiehond, Pie, Oubaas, Hilux, Kalfie en Boot.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My eerste werk in ’n kelder na Elsenburg was 2003 se pars by Boland Kelder in Noorder-Paarl, daarna is ek na die VSA vir die pars daar in September 2003 tot die begin van 2004.
Hoe bly jy getrou aan die plaas se toewyding tot biodinamiese boerdery, maar bly terselftertyd by met tendense en giere in 2019?
Dit kom neer op respek vir die natuur en wat dit jou bied as jy druiwe op die natuurlikste moontlike manier laat groei. Die druiwe wat jy hieruit kry, is net soveel smaakvoller en vol geur. In die kelder word daar geen toedienings bygesit nie en dit is ’n proses waar die wyn my lei en ek nie besluit wat om wanneer te doen nie. Dit is ’n natuurlike proses en dit vat tyd. ’n Voorbeeld hiervan is die gistingsproses: in ’n gewone kelder waar kommersiële gis by sap gevoeg word, duur die gistingsproses drie weke; hier waar ons dit natuurlik doen, vat die wyne tussen ses maande tot ’n jaar om klaar te gis. Ons glo dis die beste manier om wyn te maak wat ’n ware weerspieëling is van die stukkie aarde waarop Avondale staan. Niemand kan dieselfde wyne as ons maak nie en dis waarom dit uniek is. Om uniek te wees, is die sleutel tot sukses.
Watter planne het jy vir die wingerde op die plaas?
Op die oomblik is daar ’n baie goeie balaans tussen jonger en ouer wingerde en ook kultivars, so vir die nabye toekoms is dit net om te fokus op dit wat ons het en optimale kwaliteit te probeer kry met die boerderyfilosofie wat ons volg.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Dit word gelei deur die wingerd/driuwe/oesjaar en met die filosofie wat ons het om net te help met die proses waar druiwe in die kelder omskakel in wyn en geen byvoegings by die wyn gesit word nie; daar is geen “resep” en tydfaktore betrokke nie. Dus dink ek my styl – as mens dit so wil noem – is hopelik eerder ’n weerspieëling van waar die druiwe kom as keuses wat ek in die kelder gemaak het.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Daar is baie, dit is die ongelooflike ding van wynmaak, daar is nie einde aan ekperimenteer en kultivars nie.
Wat was nog jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
Die 2010-oesjaar – ons het 70% van ons oes deur wind verloor. Dis maar boerdery vir jou, jy is absoluut 100% afhanklik van die natuur. Die wyne wat ons wel kon maak, was uitstekend!
Wat glo jy is die uitdaging of eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Die grootste uitdaging is om wyne te help skep wat uniek is en dat daar aanvraag vir die wyne in die mark daarbuite is. Daar is baie wyne, so jy moet iets anders kan bied wat mense gaan laat belangstel en meer wil laat weet oor dit wat jy hulle bied. Hand aan hand daarmee is om natuurlik die hele operasie (wingerd, kelder, bemarking) koste-effekfief te bestuur en ’n langtermynplan te hê.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Vir my is die net om elke oesjaar in die bottel te kry en absoluut op kwaliteit te fokus, waaroor dit als gaan vir ons by Avondale. Elke wyn wyn wat ek in die bottel sit, is ek trots op.
Watter een van jul vele toekennings staan vir jou uit oor die jare?
Ons het al oor die jare ´n paar groottes gekry, maar vir my is daar geen beter toekenning as dat jou wyn uitverkoop is nie, dis maar waaroor dit gaan op die einde van die dag.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Daar is soveel wyne daar buite, om net etikette te kyk, gaan nie veel help as jy geen idee het waarna jy soek nie. Die beste is om te vra en enige wynwinkel wat sy sout werd is, sal jou in die regte rigting kan stuur.
Ons lewe ook in ’n era waar informasie op jou vingerpunte is, so jy kan vinnig gaan kyk waarna jy soek, of dit nou intreewyne of meer premiumwyne is – jy behoort so ’n baie goeie idee te kry.
Wat gee jou grys hare as wynmaker?
Papierwerk. Ek is op my gelukkigste in die kelder; ongelukkig moet ek ’n groot gedeelte voor die lessenaar ook sit!
Wat is jou vrou en jul kinders se name en woon julle op die plaas en indien wel, wat is die voordeel en nadeel daarvan?
My vrou se naam is Hanri en ons het ’n seun, Pierre (7). Ons bly hier op die plaas tussen die wingerde. Die voordele is dat jy die plaaslewe kan geniet – stap op die plaas, gaan sit by die stroom in die berg, gaan swem in een van die plaasdamme en nog baie ander goed. Ek sit nooit in verkeer op pad werk toe nie, daar is net so nou en dan ’n pou of tarentaal vir wie ek moet rem trap of uitswaai… Daar is vir ons geen nadeel aan nie.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.