Charmaine Arendse is ’n assistent-wynmaker wat tans haar finale opleiding by Esona Boetiekkelder tussen Bonnievale en Robertson voltooi
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Met die gewilde Wacky Wine wat van 31 Mei tot 3 Junie in die Robertsonvallei gehou word, kan lesers gerus daar by haar gaan inloer.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Wynmaak sit in die familie: my pa was ’n eksperimentele wynmaker by Stellenbosch Farmers Winery (Distell) vir 27 jaar. Daarna was hy sewe jaar lank witwynmaker by Graham Beck Wines. My oudste suster werk ook al die afgelope 23 jaar in die bedryf.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek het in 1994 by Rooiberg Kelder in die voorraadstoor begin werk.
Hoe het jy in jou huidige pos beland en hoe lank is jy al daar?
Ek het ’n advertensie in die plaaslike koerant gesien en aansoek gedoen. Ek het opleiding ondergaan en was baie gelukkig om die pos te kry. Ek is nou twee jaar by Esona.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie.
Dat wynmaak nie is soos ’n kantoorwerk, waar jy vandag kan aangaan wat jy gister gelos het nie. Omdat wyn ’n lewendige produk is, moet jy vandag doen wat gedoen moet word, mȏre kan dalk te laat wees en jou wyn kan dan bederf.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Versigtig, want ek is nog in die leerproses en bang ek maak ´n fout – dalk ’n duur fout.
LEES OOK: Wynmaker Marlize Jacobs
Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?
Baie geduld en jy moet kan onderhandel.
Hoe dink jy kan ’n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Behandel altyd jou mense met respek en wees regverdig. En maak wyn wat waarde vir geld is.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Ek sal graag chenin blanc wil aanplant, ons het goeie klimaat en terroir daarvoor.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Polisievrou.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die feit dat mense gesellig saam kuier. En ook dat elke wyn uniek is.
Wat is jou gunstelingkultivar?
Sauvignon blanc, want dis ’n delikate druif, maar as dit op die regte tyd gepars word, vang jy al sy geure vas.
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag wil sien ontluik in die toekoms?
Pinot noir, ’n Franse kultivar en ook een van die kultivars waaruit pinotage gekruis is. Slegs 1,2 % van ons wingerde is pinot noir. Daar word dikwels verwys na die noodsaaklikheid van ’n koel klimaat vir verbouing, maar streke soos Robertson het reeds mooi pinot noirs op die mark. Plase soos De Wetshof en Springfield, wat reeds in 1997 aanplantings gemaak het, het uitstekende wyn op die mark.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Wanneer my pa op ’n Vrydagaand ’n bottel wyn oopgemaak het en ons as gesin kon vleisbraai. Dan is die week wat verby is, bespreek en hy het raad en advies gegee.
Wat was sover jou grootste persoonlike uitdaging as wynmaker?
2017 was my eerste pars en ek het glad nie besef dat wyn-analise so ’n groot rol speel in die wynmaakproses nie.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ek het by Esona begin as wynverkope-assistent in die proekamer en het nooit gedroom ek sal die kans gegun word om wynmaker te word nie.
Watter wyn-en-kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Shiraz, saam met ‘n lekker steak of lamtjops.
Watter wyn sal jy aanbeveel met soesji en wat met speseryagtige kos?
Soesji saam met sauvignon blanc as gevolg van sy varsheid en gewürtztraminer/riesling saam speseryagtige kosse.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Kyk na wyn van oorsprong, die oesjaar asook watter wynkompetisies die wyne gewen het.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Die natuur is onvoorspelbaar en dat jy by hom moet aanpas en nie andersom nie.
LEES OOK: Wynmaker: Alwyn Maass
Wie is jou wynmaak-helde?
My pa.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Omdat ek nuut is in die wynmaak-kant, ken ek geen internasionale wynmakers nie, maar plaaslik sal ek graag vir Jan Boland Coetzee wil ontmoet. Hy het al so baie vir die wynbedryf asook vir sy werkers gedoen.
Watter wynbestemming oorsee het jy al besoek, wat jou baie beïndruk het?
Ek het nog die voorreg gehad om oorsee te gaan nie, maar sal graag Frankryk wil besoek.
Watter kultivar dink jy gaan in die toekoms vir Suid-Afrika die meeste roem bring?
Pinotage, omdat dit eg Suid-Afrikaans is.
As jy een bekende kon nooi vir ’n wynproe, wie sou dit wees?
HemelBesem, want hy spoor my aan om die beste mens te wees wat ek kan wees.
Na wie gaan jy vir raad met groot besluite?
Aangesien my pa oorlede is en nie meer kennis en wysheid kan deel nie, gaan ek na my ousus vir raad en advies.