Carl van der Merwe van DeMorgenzon Landgoed buite Stellenbosch is deel van die Old Vines Project wat die bewaring van ou wingerde ten doel het
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Carl se eerste werk was vakansiewerk op Delaire toe Bruwer Raats die wynmaker was. Hy was toe vir agt jaar op Quoin Rock-landgoed op die Simonsberg. Hy is die afgelope agt jaar by DeMorgenzon, waar hy keldermeester is.
Hy is die wynmaker agter Woolworths se suksesvolle Signature Series Shiraz 2015, deel van die Signature Series.
Hoe het jy op DeMorgenzon beland?
By Quoin Rock het my pad met Wendy en Hylton Appelbaum gekruis, aan wie ek kelderspasie uitgehuur en toe hulle hul 2008 Syrah gemaak het. Hulle was mal genoeg om my te vra om musiek in my vatkelder te speel terwyl die vate verouder het en ek het hul benadering tot wyn baie interessant gevind. Hulle het my in 2010 ’n pos aangebied en ek het na DeMogenzon oorgeskuif.
Watter kultivar verras jou elke keer as jy daarmee werk?
Definitief chenin blanc. Ek vind dit ’n fassinerende kultivar, omdat dit baie gepas is vir die Suid-Afrikaanse klimaat. Of dit nou ’n warmer of koeler oesjaar is, jy kan uitstekende wyne maak.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Dit is ’n moelike vraag, want dit wissel baie. Ek is verantwoordelik vir ’n besigheid, nie net die wynmaak nie; so van tyd tot tyd is ek ’n redelik versigtige wynmaker. Ek dink baie lank oor dinge voordat ek ’n besluit neem. Ek is tot ’n mate versigtig, maar ek hou daarvan om nuwe goed te probeer. Ek hou nie van dieselfde kelder-roetine elke jaar nie, so ek geniet die feit dat elke oesjaar anders is, en dat jy ’n verskillende benadering het. Ek hou nie daarvan om te stagneer nie, en ek dink elke jaar moet nuwe uitdagings hê. Dit is noodsaklik vir die wynbedryf dat ons elke jaar probeer om te verbeter met die inligting wat ons die vorige jaar ingesamel het.
Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik om in hierdie mededingende wêreld te oorleef?
Daar is baie. Ek dink nederigheid is belangrik, veral in wynmaak, want jy moet nooit dink dat jy alles weet nie, en jy moet altyd bereid wees om iets van die natuur en iets van jou medewerkers te leer. Ek dink uithouvermoë is baie belangrik; die besigheidsomgewing is nie maklik nie, want alhoewel die plaaslike mark vir gehaltewyne groei, is dit baie kompeterend. Om suksesvol te wees, moet jy ook uitvoer, en dis nie maklik nie. Jy moet baie moeite doen en baie reis om goed te doen.
Vertel my hoe julle besluit het om musiek vir jul wingerde te speel?
Hylton Appelbaum was die stigter van Classic FM in Johannesburg. Hylton is ’n redelik eksentrieke mens, hy lees verskriklik baie en hy het afgekom op studies wat bewys het dat klassieke musiek, veral barokmusiek, ’n positiewe invloed op die natuur het. Daarom het hulle besluit om te probeer om musiek vir hul wingerde te speel, en ek dink toe hulle begin het, was hulle ál kelder in die wêreld wat dit gedoen het. Daar is wel baie mense wat dit doen vir wyne wat verouder, of wat musiek vir wyne in die kelder speel, maar definitief nog nie vir wingerde nie. Hy het 10 of 15 luidsprekers in ’n groot blok Shiraz opgesit en dit aan ’n sentrale stelsel gekoppel wat die musiek na die spesifieke wingerde speel en wat ook deurgevoer word na die kelder, die verouderingskelder en gistingskelder, asook ons proelokaal en al ons kantore. Dus is daar oral musiek op DeMorgenzon. Dit is lieflik, en ek glo dit het ’n baie positiewe uitwerking op ons mense en ons wyne.
Watter reaksie lok dit by toeriste uit?
Toeriste is verskriklik lief daarvoor en ek dink elkeen wat ons besoek, gaan weg met die mooiste herinnerings. Ek dink die manier hoe ons ons marksegment kan laat groei, is deur middel van toerisme en om toeriste iets te gee wat hulle gaan onthou. Die feit dat DeMorgenzon so uniek, so mooi is, en daar altyd musiek op die landgoed is, gee vir die toeriste ’n wonderlike ervaring.
LEES OOK: Wynmaker Juandré Bruwer
Watter invloed het dit op die druiwe?
Dit is moelik om presies te sê, want musiek gaan oor klankgolwe, nie noodwendig oor die klank wat ’n mens kan hoor nie. Maar by die blok waar die luidsprekers staan, kan ons definitief ’n heeltemal ander groeitendens sien: hy bot ’n bietjie vroëer, sy druiwe is ’n klein bietjie later ryp, sy alkoholvlak is ’n bietjie laer en hy is ’n klein bietjie meer egalig, wat eintlik al die positiewe goed is wat ons in ’n wingerd soek.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
DeMorgenzon het redelik in ons twee premium kultivars, chenin blanc en chardonnay, belê. Ons het nog so twaalf hektaar hiervan gevestig. Ons poog om elke jaar die kwaliteit van ons Reserve-wyne te verbeter en die volume te vermeerder, omdat al daardie wyn streng geallokeer is en ons het op die oomblik meer aanvraag as wat ons kan verskaf.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Riesling fassineer my, maar ek het nog nie self met die druiwe gewerk nie. Ek sien uit na die dag wat ek met ’n bietjie Riesling sal werk.
Watter kultivars het julle op die plaas en hoeveel wyne is daar in jul reeks?
DeMorgenzon is ’n plaas met baie verskillende hange en verskillende mikroklimate en daardeur kry ons dit reg om ’n klomp verskillende kultivars te kan rypmaak. Ons het ’n klomp verskillende wyne. In ons premium reeks het ons die Reserve Chardonnay, Reserve Chenin Blanc en Reserve Syrah.
Dan het ons ons verskeie versnitte, tradisionele Bordeaux-wyne en vier etikette vir Woolworths en ’n klomp ander etikette in ’n paar ander markte.
Watter prys wat jy al gewen het, was vir jou die spesiaalste?
DeMorgenzon het die afgelope agt jaar ’n klomp pryse gewen. Ek dink die ene wat die grootste impak gehad het, was ons Reserve Chardonnay van die 2015-oesjaar wat die toekenning vir beste chardonnay in die Decanter-kompetisie gewen het. Dit het basies al die internasionale chardonnay’s in die gehoute styl gewen en dit is ’n groot prestasie vir ’n Suid Afrikaanse wyn. Chardonnay is in ’n baie kompeterende segment, met baie uitstekende wyne van oral in die wêreld.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag wat jy trots was om te oorkom?
Elke jaar het sy eie struikelblokke, maar die feit dat DeMorgenzon baie natuurlik werk in die kelder, veroorsaak redelik baie risiko’s. Elke jaar sukkel ons met ’n paar gistings wat nie wil klaarmaak nie, en elke jaar is dit ’n groot uitdaging om seker te maak dat ons nie wyne verloor nie.
Watter wyn kan jy aanbeveel vir warm somermaande, wat ewe lekker met braaivleis of ’n slaai werk?
In terme van witwyn, sal ek chenin blanc aanbeveel. Dit is ’n wyn wat met baie verskillende kosse en voor ete geniet kan word. In terme van rooiwyn is grenache noir ’n baie gewilde kultivar op die oomblik, wat ’n klein bietjie verkoel geniet kan word.
LEES OOK: Wynmaker: Danie Steytler
Wie het jou al die beste wynraad gegee?
Ek het vir ’n wynmaker in Frankryk gewerk wat vir my gesê het ek moet met my oë en ore steel: dus moet ek nie baie praat nie, maar op die uitkyk wees vir leergeleenthede.
Wat sal jy aan die deursnee- Suid-Afrikaanse wyndrinker se koopgewoontes wou verander?
Die grootste frustrasie is dat Suid-Afrikaners glo dat witwyne nie kan verouder nie. Ek dink witwyne is een van Suid-Afrika se grootste bates en die vermoë van die wyne om te verouder en die manier hoe hulle verouder, is net uitstekend.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat jou fassineer?
Die feit dat alles wat nodig is om uitstekende wyn te kan maak, jy in die druifkorrel kan kry en die natuur gee dit vir jou. Dit is eintlik net nodig om die proses te verstaan en te weet hoe om ’n goeie gids in die hele proses te wees.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou gevolg het?
Al my onderwysers het gesê ek moes ’n advokaat gewees het, want ek het baie in die klas gestry, maar ek dink marienebiologie en akwakultuur kon ook goeie opsies vir my gewees het.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Ek het woorde in ’n kelder in Frankryk gesien wat vir my baie mooi was: Wine is like a woman, you have to be kind to it before you can accept anything in return.
Wie is jou wynmaakhelde?
Daar is baie, en ek dink daar is nie een spesifike persoon wat uitstaan nie. Daar is baie mense rondom my wat ek vir hulp raadpleeg; mense in en buite die bedryf.
Wat is jou vrou se naam, wat doen sy en het jul kinders?
Ek is getroud met die vrou van my drome, Kathleen. Ons het drie fantastiese kinders. Kyrah is nou 11, Tamar is 9 en Seth, ons seuntjie, is 7. Ons geniet dit baie om tyd saam deur te bring, ons geniet die lewe op die plaas. Ons sien uit om in die toekoms baie goed met hulle te doen.
Woon julle op die plaas, en indien wel, wat is die voordeel en nadeel daarvan?
Ek dink die voordele is baie meer as die nadele. Ons bly in ’n baie mooi huis wat amper 100 jaar oud is; ons het een van die mooiste uitsigte in Stellenbosch; dit vat my elke oggend ’n paar minute om by die werk te kom. Een van die moontlike nadele is dat ek nooit rus nie. Ek is altyd by die werk, my werk is altyd naby, dus is dit nogal moeilik om jou werk te los en jouself af te sny, maar dit is doenbaar en ek dink dit vat net so ’n bietjie selfdissipline.
Watter wynbestemming oorsee het jy al besoek wat jou baie inspireer het?
Ek het al baie lande oorsee besoek, maar ek moet sê Frankryk is die land wat my nog altyd die meeste inspireer. Daar is so baie om in Frankryk in terme van wyn te sien. Elke gebied is heeltemal anders en die mense in elke klein dorpie verskil en dink anders oor dinge en het ’n verskillende benadering tot wynmaak en wingerdbou.