Braam Gericke is die afgelope tien jaar die wynmaker by Wildekrans buite Botrivier
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Hy en sy vrou, Janine, ’n voltydse ma, woon op die plaas met hul kinders, Wium (9) en Mila (7). Hulle is mal oor die leefstyl, maar Braam sê as jy so naby aan jou werk woon, rus jou kop nooit. As hy MTB ry, ry sy sakboekie saam, jy maak heeltyd planne. Maar dis ’n klein prys om te betaal vir die natuurskoon en vryheid.
Braam se belangstelling in wynmaak het sy oorsprong in landbou gehad. Hy wou na die wingerde omsien en dan sy eie produk proe en op Wildekrans is dit vir hom moontlik.
Waar was jou eerste werk en hoe het jy in jou huidige pos beland?
My eerste pos was by Windmeul-kelder in Paarl. Ek het saam met Hein Koegelenberg gewerk, hy was keldermeester op daardie stadium. Ek was in beheer van rooi- en witwyn-gistingstenke. Ek is tans besig met my diploma in wynmaak – hier leer jy meer van die huidige neigings waarvan die verbruiker hou, nuwe kultivars, nuwe giste – dis nimmereindigend. Wynmaak is ’n basiese proses, dit is die res wat die uitdaging is. Ek het in 2007 ’n oproep van Mallies le Roux gekry wat gevra het of ek sou belangstel om na Botrivier te skuif. Ek het gesê ek sal met hulle kom gesels en het die eienaars en span ontmoet – hulle het klomp tegniese vrae oor die wingerd gevra, so reg in my kraal.
Hoe voel jy oor die toekoms van die SA wynbedryf?
Positief, ek dink die bedryf is besig om sy kop op te lig. Een ding van Suid-Afrikaners: ons hou nie van verloor nie en ons wil bo eindig. Ons moet ons nie laat voorsê nie. Ons gee onsself te min krediet vir hoe goed ons is. Daar is ’n rede hoekom buitelanders so investeer in ons land se wynbedryf – ons het baie potensiaal.
Na wie gaan jy vir raad met groot besluite?
Die Groot Man daarbo, die eienaars van Wildekrans, Gary en Amanda Harlow, my vrou, Janine, vir persoonlike goed en my kinders as ek my touch van kindwees verloor.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Jy moet senuwees van staal hê en in jouself glo. Weet wat jy wil doen en waarheen jy wil gaan. Luister as die grootmense praat, leer uit hulle én jou foute. Moet nooit in jouself twyfel nie.
Wat dink jy is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?
Nederigheid, trots en lojaliteit teenoor jou brand en jou mense. Lojaliteit word so vinnig misgekyk, maar dis baie nodig, veral omdat jy met mense ook werk, jy werk nie net met wyn nie. As die wyn in die bottel ingaan, is dit joune, maar dis ‘n proses om hom daar te kry.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Pinotage – dis eg Suid-Afrikaans – ek hou baie van die storie agter pinotage. Jy kan so baie met dié diverse kultivar doen en dit kan op enige plek geplant word; die stokkies het nie veel aandag nodig nie.
LEES OOK: Wynmaker Matthew van Heerden
Hoe verbeter ’n wynplaas sy beeld onder die publiek?
Deur konstant ’n goeie beeld uit te straal – ’n konstante kwaliteitproduk, nie te veel verskil tussen oesjare nie. Vertel vir mense jou storie, elke plaas en wyn het ‘n mooi storie wat wag om vertel te word.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dis eenvoudig en eerlik – dit is wat dit is. Die wyn is die persoonlikheid van die persoon wat die wyn gemaak het.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Wanneer ek vate proe – wanneer die wyn nog in die proses is na die eindproduk. Elke wyn vertel vir jou iets anders. Dieselfde wyn van die dieselfde oesjaar, maar in verskillende vate vertel sy eie storie. Jou wingerdstok en vate is soos jou kinders – elkeen het sy eie persoonlikheid en jy kry so half die idee waarheen die wyn op pad is, jy moet dit net in daardie rigting stuur en bestuur.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Grenache blanc, dis hoekom ek hom geplant het.
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag wil sien ontluik in die toekoms?
Cinsaut, dis een van die eerste wyne waar ek deel was van die wynmaak-proses. Ek hoop die kultivar kom terug, want dis ’n fantastiese kultivar om mee te werk.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Die dag wat ons aangewys is as die SA Terroir Wynplaas van die jaar in 2010 – dit was die beste gevoel ooit. Ons het vir onsself ’n doel gestel van 10 jaar om die beste wynplaas te wees, maar het dit in drie jaar gedoen.
Wat was sover jou persoonlike grootste uitdaging as wynmaker?
Om iemand anders se landerye, wyne en kelder oor te vat. Dis soos om kos te maak in ’n vreemde kombuis. Om dit jou eie te maak, maar by die handelsmerk te bly.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Wildekrans, die plaas is my trots. Die plaas is wie ek is.
LEES OOK: Wynmaker: Alwyn Maass
As jy een bekende kon nooi vir ’n wynproe, wie sou dit wees?
As ek kon eerlik kies, sou dit nie ’n bekende wees nie, maar wel my pa, ’n bekende onder sy vriende. My pa is oorlede en het nooit my wyne geproe nie, ek sou baie graag sy opinie wou hoor.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sou vir jou noodsaaklik wees?
Die basiese goed is belangrik: klein gistingstenke, goeie Franse hout, ´n goeie verkoelingstelsel, oop kuip of twee, en die heel belangrikste, ’n goeie regterhand. Vier mure en ’n hart so groot soos Vilo 18 000 liter in die middel.
Watter wyn-en-kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Chenin saam met seekos en kerrie. Ek sal pinot noir saam met enigiets drink, dis ’n lekker geselswyn. Ek is mal oor kos en wyn.
Wat is volgens jou die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker?
Hulle moet definitief meer eksperimenteer. Die gemiddelde persoon koop wyn na aanleiding van die plakkers en pryse wat op bottels geplak is. Alhoewel dit natuurlik baie relevant is en die topwyne vir jou uitwys, is daar steeds kleiner, minder bekende wynprodusente wat uitstekende wyne het, maar net nie deelneem aan die kompetisies nie. So ek sou almal aanraai om te ry, te besoek, te proe! Jy mag dalk net ’n ongelooflike wyn ontdek met geen plakkers, maar wat jou gunsteling raak!
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Jy is nie in beheer nie. Ons is oorgegee aan ’n Groter Hand. Ons is afhanklik van iets groters.
Wie is jou wynmaak-helde?
Francois Naudé, Duimpie Bayly, Dave Hughes, Beyers Truter, De Wet Viljoen, Bennie Howard, Werner Muller, Marlize Niemand en Charl Theron. Wingerdbou: oom Eben Archer en dr. Wessel du Toit.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
Ons het grenache blanc, tempranillo asook ’n proef van pinot noir stok-by-paaltjie opgelei. Hoe verskillende opleistelsels die wyne beïnvloed. Ons is besig om die hele kelder om te draai in terme van logistiek en vloei – ek maak dit my eie. Die plaas voel reeds soos my eie, nou is dit die kelder se beurt – dit moet voel soos my huis sodat ek gemaklik kan werk.