Bertus Fourie maak al vir bykans twee dekades die wyn op Under Oaks buite die Paarl
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Noudat die eienaars, Hansie en Theresa Britz, ook die historiese Grande Roche Hotel bygekoop het met bestaande wingerde, gaan daardie verantwoordelikheid ook op hom val. Sommige wingerde gaan herplant word.
Bertus is getroud met Corlea Fourie, die wynmaker by Bosman Familiewingerde. Hulle het ’n tweeling, Gerhard & Mia en ousus Nelleke. Hulle woon nie op ’n wynplaas nie, maar op Wellington en hy sê dis belangrik vir hom en Corlea om saans ná werk “huis toe te gaan”.
Wat was jou uitdagendste oesjaar tot op hede en hoe was die wyne van daardie jaar?
My heel eerste oesjaar as formele wynmaker: 2001. Ek het nie geweet wat ek doen nie en toe liewer “te veel” gedoen – niks geslaap nie en aanhoudend die tenke oorgepomp om seker te maak ek werk genoeg met die doppe. Dié topreeks wyne het elke denkbare medalje gekry – wys jou, jy hoef nie iets van wynmaak af te weet om goeie wyn te maak nie. As die vrug uitstekend is, moet jy treurig wees om ’n swak wyn daarvan te maak! Ek dink nie wynmakers oor die algemeen kan praat van ’n “maklike” of “moeilike” pars nie … ons kla soms “die druiwe was min” of “baie” en ja, soms is “die ure in parstyd lank …”
Maar vir die manne en vroue wat die druiwe boer, veral in droogtetye en swak ekonomiese klimaat, haal ek my hoed af en dra hulle op aan die genade!
Het jy enige byname in die wynbedryf of op die plaas?
“Starbucks” as gevolg van die Koffie Pinotage-styl wat ek 20 jaar gelede ontwikkel het.
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Na vier jaar se studies by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (Kovsies) het US my laat weet ek is gekeur om Medies te studeer, maar na ’n “administratiewe fout” aan hulle kant, was dit blykbaar nie die geval nie. Ek het op oom Riaan se plaas deur die wingerde geloop (ek het elke vakansie op die plaas in Malmesbury gewerk), en gewonder oorsee of wynmaak? Wynmaak het gewen.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Nadat ek op Wynkunde verlief geraak het, was ek baie bevoorreg om ’n beursaanbod te kry om my meestersgraad te doen. Ek was egter op hierdie stadium, na sewe jaar se voltydse studies, ’n baie groot gat in my ouers se beursie en toe ’n pos as keldertegnologiedosent by Elsenburg beskikbaar was, ek het aansoek gedoen en was bevoorreg om die werk te kry.
Waar was jy oral wynmaker?
Ek is sedert 2002 by Under Oaks. Ek en ´n vriend en kollega het 20 jaar gelede Suid-Afrika se eerste formele “Home Winemaking”-kursus geskryf en het dit ongeveer drie jaar lank aangebied. Hansie en Theresa was in ons klas. Theresa het voor gesit, en Hansie agter. Ons het begin gesels en die eerste vyf ton is in 2002 by Diemersfontein gemaak, waar ek toe wynmaker was. Daarna het KWV gevolg, en toe Val de Vie, en eindelik Flexcube Suid-Afrika, ’n Australiese maatskappy wat fokus op wynverouderingstegnologie.
Wat is jou vroegste herinnering aan goeie wyn?
Ek kan nie onthou dat ek ooit ’n fopspeen gesuig het nie – ek kan onthou ek het baie Swartland Steen- (my pa se gunstelingwyn daardie tyd) kurke verorber.
Hoe bly jy getrou aan die plaas se erfenis, maar bly terselftertyd by met 2019 met tendense en giere?
Diep vraag. Ek dink Hansie, Theresa en my aanslag is anders. Dit is gefokus op hoe ons voel, waarvoor ons lus is, en in ’n groot mate waarvoor ons dink Under Oaks se vriende lus is. Wyn is ’n onmisbare deel van ons lewens. Ons deel ’n liefde vir lekker kos en kuier. Ons waardeer mooi goeters en mense. Ek dink baie mense het die inherente geneigdheid om die lewe te wil kompliseer. Ons steur ons nie werklik aan tendense, giere en geite nie, maar probeer alles so eenvoudig as moontlik hou – of dit wynmaak is, kosmaak of besigheid doen.
In watter nuwe, ander kultivars wil jy in die toekoms uitblink?
Vergewe my as ek sinies antwoord, maar ek dink die wil om uit te blink beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Ek praat nie van gesonde ambisie nie. “Uitblink” word myns insiens te veel gekoppel aan goue medaljes op ’n bottel – ek dink dat dit in baie opsigte ’n siekte geraak het van die tydgleuf waarin ons is – dit moet eerder oor wynmaak en ’n ingesteldheid op die verbruiker gaan as oor die spreekwoordelike klop op die skouer. Ek voel elke keer ek blink uit as iemand ons komplimenteer oor watter lekker plek Under Oaks is. Ek glo Alvarinho as ’n onbekende kultivar het potensiaal.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ek is baie trots om al amper 20 jaar lank Under Oaks se wyn te maak. Mense ry van oral af om in Marcello se restaurant te kom pizza eet, of sommer ’n wyntjie onder die groot ou eikebome te geniet, terwyl die kinders op die grasperk rondkerjakker. Hansie en Theresa word wyd gerespekteer vir hul sakesuksesse.
Watter planne het jy vir die wingerde rondom Grande Roche Hotel, wat Under Oaks se suster-eiendom is?
Ons gaan nie sauvignon blanc plant nie…
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Ek glo dat ek minder praat en meer (beter) luister.
Wat is die les wat jou pa van kleins af by jou ingedruis het?
As jy geld verloor, het jy iets verloor, as jy iemand verloor, het jy baie verloor, maar as jy jou naam verloor, het jy alles verloor.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Groot en rond (blykbaar soos ek…) vrug, suiwer, helder en lewendig. Tanniene sag en rond. Ryp. En soos wat ’n goeie vriend eens kwytgeraak het: “A wine does not need to be flawless, but it must be faultless”. Ek stem saam.
Wie in die wynbedryf het jou al die beste raad gegee?
Loftie Ellis was nie net my lektor op universiteit nie, maar hy is steeds ’n diep bron van kennnis en ondersteuning, ’n vertroueling, asook ’n baie goeie vriend.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Marselan in Paarl!
Wat glo jy is die uitdaging of eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Nou gaan jy my in die moeilikheid laat kom…
Ons moet minder op onsself fokus en meer op mekaar. Daar is te veel ego. Ek wonder of ons nie dalk soms dink ons is onvervangbaar nie. Ons wil onsself te graag en te veel laat geld ten koste van ander.Ons vergeet eenvoudig ons leuse van ouds: “Ex unitate vires”. En ek dink nie ons maak gesonde besigheidsbeginsels altyd deel van ons besluitneming nie.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Die dag toe ek besef Confucius was eeue gelede reg: Real knowledge is to know the extent of one’s ignorance.
Watter een van jul vele toekennings staan vir jou uit oor die jare?
Ons vier elke positiewe dingetjie wat na ons kant toe kom. Nog ’n stukkie wysheid van my pa was: as jy nooit iets was sonder brons nie, sal jy nooit iets wees met goud nie – hy het van atletiek gepraat, maar die wysheid daaragter praat baie duidelik.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Eksperimenteer! Vat ’n kans! En weet dit maak nie werklik saak wat jy koop en hoeveel jy daarvoor betaal nie. Ons is bederf in Suid-Afrika met die verskeidenheid, kwaliteit en pryse wat ons betaal. Om die een of ander rede is Suid-Afrikaanse verbruikers onder die indruk dat wyn duur is … totdat jy met oorsese toeriste gesels en hulle jou met hul voorbeelde oor die vingers tik!
Wat is die voordeel om met ’n wynmaker getroud te wees – ruil julle idees uit en so meer?
Corlea het nie net ’n ongelooflike aanvoeling vir wyn nie, maar ook vir besigheid in al sy dimensies – verhoudings, spanwerk, kwaliteit, bemarking en verkope. En ja, ons praat en drink graag wyn, gee kritiek en komplimente, en ons droom graag saam.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste en watter spesifieke een drink jy die graagste?
Ek het geen voorkeure nie. My oorlede ouma het altyd gesê my styl is nie in balans met my beursie nie … ongelukkig is ’n groot gedeelte daarvan waar, veral as dit by wyn kom. Saans voor die vuur (enige ou Amontillado-sjerrie, Franse Cheval blanc of iets van die Priorat as ek kon kies) en op warm dae dalk ’n goed verouderde Mosel riesling, Franse fieuzal of enigiets wat vonkel vanuit Champagne.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Ek het die voorreg gehad om Peter Sisseck (Pingus, van Ribuero del Duero in Spanje) te ontmoet. Ek ken niemand so nederig soos hy en Neil Ellis nie. Beide ongelooflike wyn-denkers, passievol, gefokus en ernstig oor die kwaliteit van die wyn wat hulle maak.
Vertel my van jou honde?
Luna, ons pikswart pug, is 4 maandjies oud – sy is ons legkaart-blokkie wat in plek geval het!
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.