Fairview se wynmaker, Anthony de Jager, se Fairview Primo Pinotage 2016 was een van die 2018 Absa Top 10 Pinotage-trofeewenners
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Anthony, of Ant soos hy in die wynbedryf bekend staan, is die afgelope 22 jaar by die plaas en sy belangstelling in wyn kom al ’n lang pad. Hy het ná die weermag ’n pos by KWV gekry, wat hom in aanraking met die meeste wynplase gebring het. Hy het daar die geleentheid gehad om met baie wynmakers te gesels en dit het hom laat besluit om in daardie rigting te swot.
Hoe voel jy om een van die land se top 10 pinotages te maak?
Dis lekker om na ’n paar jaar se afwesigheid weer in die mix te wees.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My eerste wynmakerpos was as assistant-wynmaker by Boland Kelder.
Jy werk op ’n pragtige wynplaas wat internasionaal bekend is. Bring dit meer of ander verantwoordelikhede na die wynmaker as ander plase?
Ek is nie seker oor ander wynmakers se verantwoordelikhede nie, maar enigiemand wat die moeite doen om ons plaas te besoek, word soos ’n BBP behandel. Dit is vir ons uiters belangrik dat die persoon ons verlaat met ’n baie positiewe gevoel en ons graag weer sal wil besoek of ander daarvan vertel.
Watter kultivar dink jy is die plaas se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms?
Shiraz is ons belangrikste kultivar. Die eerste wyn om ooit die Fairview-etiket te dra, was die Fairview Shiraz 1974. Ons het onlangs een oopgemaak – ongelooflik. Shiraz was toe al ons vlagskip en is steeds. Dis ons ding.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf?
Ons het nog altyd ’n effense reserved styl gehad. Nie te veel van enigiets nie. Ons het nog altyd ’n voet in die Ou Wêreld gehad. Die groot skouwyne val so ´n bietjie plat sodra die veroudering intree. Al ons wyne word gemaak om met kos geniet te word. Te veel wyn in die glas oorheers die dis.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
As jy een jaar ’n paar pryse of medaljes wen, wees rustig en geniet die oomblik (so´n bietjie). Die opvolg-oesjaar mag beter wyn oplewer, maar jy wen dalk niks. Wyn hou jou nederig.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar?
Ons sien ’n groot toekoms vir grenache en tempranillo. Hulle hanteer die droogtes en hitte goed in die areas waar ons boer. Die wyne van die kultivars is ook baie opwindend.
Van watter beroep het jy op skool gedroom? Ek wou iets op die see doen, maar daar is maar min geleenthede (Oseanografie dalk). Ek het geweet ek kon nie ’n kantoorwerk doen nie!!
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Dit laat mense lekker gesels.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Ek geniet wyn presies soos gisteraand by ons huis; ´n weeksaand, ´n vars stukkie kabeljou (gevang in Stilbaai) en ’n lekker bottel Fairview Nurok. Dit was perfek.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Ek het verlede jaar die eerste keer met pinot noir gewerk. Dit lyk mooi in die vate, ons hou hom maar dop.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Daar is baie, maar die sjampanje van Champagne wat ons in die hospitaal gedrink het om ons pasgebore dogter te vier, was spesiaal.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Suid-Afrikaanse wyn is te goedkoop. Dit is nie volhoubaar vir die druiweboere nie.