Anri Truter is sedert 2006 die wynmaker op die historiese Beyerskloof Wynlandgoed buite Stellenbosch
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Anri volg in sy legendariese pa, Beyers, se voetspore. Anri is getroud met Nadia, ’n rekenmeester en hulle het twee dogtertjies, Nicola (5) en Christine (3).
Het jy enige byname in die wynbedryf of op die plaas?
Kanon (tewyl ek op Elsenburg was en op Kanonkop gebly het) of Trutbox (’n naam wat ek gekry het van my Boishaai-vriende).
Hoe het jou belangstelling in wyn begin en was dit altyd ’n gegewe dat jy by jou pa sou oorneem?
Nee ek wou in my kinderjare met alle mag ’n wildbewaarder word. Dit was eers in standerd 8 of 9, terwyl ek myself gehelp het aan ’n paar van my pa se wyne (Paul Sauer-versnit/Pinotage) dat ek besef het wynmaak is iets wat ek myself later in my lewe sien doen.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek het van hoërskool af gehelp in die kelder (deurdruk), wingerd (skoffel) en in die proelokaal vir sakgeld. My eerste werk was3 maande in ’n roomysfabriek in Wallis terwyl ek ’n gap jaar ná skool gevat het.
Hoe lank is jy nou by Beyerskloof en waar was jy oral?
Ek is nou al 13 jaar by Beyerskloof. Ek het al by Swartland Kelder onder Hugo Truter gepars en in 2007 saam met ’n paar wynmakers by Quinta do Noval in Portugal gepars.
Wat is jou vroegste herinnering aan goeie wyn?
Toe ek standerd 8 was. Ek het grootgeword op Kanonkop en het toegang gehad (nie met my ouers se toestemming nie) tot die wyne op die plaas.
Hoekom wou jy wynmaker by Beyerskloof wees?
Beyerskloof is ’n familieplaas en toe die wyngogga my byt, het ek gedink dit is belangrik om by te dra tot die uitbreiding van die handelsmerk wat my pa gevestig het.
Hoe bly jy getrou aan die plaas se erfenis en jou pa se pionierstatus, maar hou terselftertyd by in 2019?
Ek dink dis maklik vir my omdat ek van tradisie en erfenis hou. Die basiese beginsels van wynmaak bly maar dieselfde as 30 jaar terug, maar die tegnologie wat tot ons beskikking is, het ongelooflik ontwikkel teenoor dit wat my pa kon gebruik. Soos ek altyd sê: die wiel is reeds op Beyerskloof ontwerp en ek maak net klein veranderinge sodat die wiel beter kan werk!
In watter nuwe, ander kultivar lê die plaas se toekoms?
Ons plaas se toekoms lê net in een kultivar sover, en dit is pinotage. Dis die kultivar wat ons gekry het waar ons nou is en daar is nog soveel ruimte om met hierdie kultivar internasionaal en plaaslik te groei.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ek dink ons het ’n baie gemaklike en goeie-waarde-vir-geld-beeld. Wat ek bedoel met gemaklik is dat ons toeganklik vir almal is en dat mense gemaklik kan wees as hulle by of saam met ons kuier en ons produkte gebruik.
Julle het ’n wynkroeg in die hartjie van Stellenbosch geopen. Wanneer het dit gebeur en wie besit en bestuur dit? Bring sulke ekstras onnodige druk op jou as wynmaker mee?
Ons het die wynkroeg in Februarie vanjaar geopen en Beyerskloof besit dit. Jacques van Straten, ons besturende direkteur, se seun, Barnie, bestuur dit met groot sukses! Gelukkig is dit darem nie ekstra druk op my nie, omdat ek op die wyne fokus, inderdaad is dit vir my ’n lekker wegbreek om daar ’n glasie wyn saam met vriende of gaste te gaan geniet!
Wat geniet jy daaraan om saam met jou pa te werk?
Ek dink dit is ’n voorreg dat ek direkte toegang het tot al sy kennis en ervaring. Ek geniet veral ons proeë en bemarkingsreise saam.
Voel jy soms nie opgewasse om wyn te maak saam met jou pa – die man na wie meeste ander wynmakers kom vir raad – nie?
Nee glad nie, hy het my van kleins af laat voel asof ons gelyk is en het die kelder aan my oorgegee ’n jaar nadat ek as assistent-wynmaker aangestel is.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het?
Hoe harder jy aan die begin van ´n wynmaakproses werk (pars), hoe beter sal die kwaliteit van die wyn in die bottel wees.
Wat is die les wat jou pa van kleins af by jou tuisgebring het?
Harde werk sal jou ver kry en dit het begin met rugby: as jy hard oefen, het hy gesê, is die kans goed dat jy eerstespan sal speel. Ek het nou besef as jy effektief werk, is dit selfs beter as harde werk!
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf?
Konserwatief. Vir my is dit belangrik om die regte dinge in die wingerd te doen sodat jy die hoogste gehalte druif na die kelder kan inbring. Daarna kos dit harde werk met lang ure gedurende pars en afronding met goeie hout voor bottelering.
Wie in die wynbedryf het jou al die beste raad gegee?
My pa, hy het my geleer dat kleur-ekstraksie op rooiwyn krities is in die eerste 48-72 uur van gisting
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Cabernet franc, dit is ´n kultivar wat ek dink uitstekend in ons Bordeaux-versnit sal pas. Ek sal ook graag wil sien hoe die wyn verskil as ek ons tegniek van rooiwyn-maak gebruik, teenoor die meer tradisionele styl vir cabernet franc.
Wat glo jy is die uitdagings of eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Afname in wingerd-aanplantings en meer uitkappings van wingerde sit groot druk op die bedryf. So die toeganklikheid tot goeie massawyn in SA, is nie meer so maklik soos 10 jaar terug nie.
Wat was sover jou grootste oorwinning as wynmaker?
Verlede jaar toe ons 2014 Faith (Kaapse versnit) aangewys is as die beste rooiwynversnit in die wêreld by die IWSC-kompetisie.
Watter een van jul vele toekennings staan vir jou uit oor die jare?
Die Dinersclub Jongwynmaker van die Jaar in 2012. Ek dink dit het bietjie gehelp dat ek uit my pa se skaduwee kon beweeg.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Koop die wyn met die rooi pinotageblaar op die etiket! Ha, ha ek grap net. Ek sal sê kry vir jou ’n kultivar of versnit van jou keuse en kyk wat is beskikbaar in jou prysklas. Proe ’n hele paar van die hierdie wyne en maak notas van die handelsmerke waarvan jy hou. Dit sal jou help om in die toekoms hierdie wyne makliker op die rakke te identifiseer.
Watter wynmaker het die grootste indruk op jou loopbaan en lewe gemaak?
Dis seker ou nuus, maar my pa, Beyers Truter.
Vertel my van jou honde?
Ek het nie meer honde nie, maar die hond waarmee ek die langste pad geloop het, was Diesel, ons swart boerboel/great dane-kruising van 97 kg. Ons het selfs ons ikoniese pinotage na hom vernoem nadat hy in 2008 dood is.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste en watter spesifieke een drink jy die graagste?
Ek geniet wyn die meeste as ek op vakansie saam met vriende of familie is. Ek sal graag elke dag Diesel Pinotage wil drink, maar dit is bietjie hoog vir my begroting, so ek is mal oor ons Synergy Kaapse versnit. As ek witwyn drink, is ’n verouderde gehoute chardonnay of ’n ongehoute chenin gewoonlik my keuse.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Ek het nie eintlik ’n behoefte om iemand spesifiek te ontmoet nie, maar as ek kon, sou ek Robert Mondavi wou ontmoet wat ’n paar jaar terug oorlede is.
Wat was nog jou uitdagendste oesjaar en hoe was die wyne van daardie jaar?
Ek dink die 2014-oesjaar, omdat ek my ma op 28 Januarie verloor het, net voor ons begin pars het. So in parstyd was my kop heeltyd op ’n ander plek as wynmaak, maar op die ou einde was dit nog ons mees suksesvolle oesjaar met toekennings. Dit wys jou net dat jy nie beheer het oor alles nie en dat dinge net soms uitwerk as gevolg van die genade van Bo.