Andri (Oupa) Hanekom is die wynmaker en plaasbestuurder by Bloemendal Landgoed buite Durbanville
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Andri is nou ’n jaar op die plaas en was voorheen by Marianne Wynlandgoed buite Stellenbosch. Sy passie vir wynmaak kom van sy ouers af, wat ’n groot liefde vir die landbou en die wynbedryf het. Hy was ook gelukkig om reeds op skool inleidende opleiding in die wynbedryf te ontvang.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek was ’n proelokaal-assistent by Delheim-wynlandgoed. Ek het gedurende my studies wynproeë in die proelokaal aangebied. Na afloop van my studies het ek die plaasbestuurder vir Delheim geword, waartydens ek ook verantwoordellik was vir die algemene bestuur van die plaas asook die lewering van druiwe aan die kelder.
Watter kultivar stem die beste ooreen/beskryf jou persoonlikheid die beste?
Pinotage. Dit is die veelsydigste kultivar in my oë en die lekkerste om mee te werk.
Hoe voel jy oor kompetisies en toekennings?
Ek voel dat die toekennings dien as ´n belangrike maatstaf binne in die wynbedryf. Toekennings help baie vir groter blootstelling en om die eksterne beeld van die plaas te bevorder.
Hoe groot is jul wynreeks?
Ons het twee wynreekse, Waterlily- en Estate-reekse. Beide wynreekse bevat sewe wyne, en ons produseer ongeveer 70 000 bottels per jaar.
Watter een van die wyne is jou persoonlike gunsteling?
Die Suider Terras en Tierberg Shiraz.
Watter kultivar dink jy is jul vlagskip en in watter kultivar lê jul toekoms?
Definitief die Suider Terras Sauvignon Blanc. Ek is baie lief vir pinotage en chenin blanc, en ek sal graag hierdie wyne wil groei en ontwikkel binne ons wynreeks.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Ons is hard besig om die beeld van die plaas te ontwikkel. Huidige projekte sluit die herontwerp van ons webtuiste in publieke oog asook die vestiging van ons proelokaal en bierreeks.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf?
Doelgerig. ’n Wyn word reeds in die wingerd gemaak. Ek is gelukkig ook die wingerboukundige en manipuleer reeds vroeg die wingerdstok om ’n sekere produk te lewer, ek volg die eeu oue filiosofie na van bot tot bottel.
LEES OOK: Wynmaker: James Ochse
Wat beplan jy vir die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
Ek wil die kwaliteit van die pinotage op die plaas verbeter, nuwe wingerde vestig en onproduktiewe blokke hervestig.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Grenache noir
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Toe ek my eerste gebottelde wyn op die rak gesien het, en wanneer my vrou en twee dogters vir my in die kelder kom kuier.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2019?
Die ontwikkeling en groei van ’n handelsmerk. Wynmaak is baie maklik. Die verkoop van ’n wyn is die moeilike gedeelte.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Om ’n wingerdplaas en kelder te vestig in die Drakensberge: Cathedral Peak Wynlandgoed.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
‘n Kelder moet ‘n natuurlike vloei tussen aktiwiteite of take hê en gemaklik wees om in te werk. Daar moet genoeg stoorplek vir ongebottelde en gebottelde wynvoorraad in die kelder wees.
Vertel my van jou troeteldiere?
Ons het twee Jack Russels, Koda en Wookie, hulle gaan oral saam met my en is op hul gelukkigste wanneer ons deur die wingerd stap.
LEES OOK: Wynmaker: Pieter Carstens
Wat doen jou vrou?
My vrou, Yvette, is ’n geoktrooieerde rekenmeester. Ons het twee dogters, Lisa en Madelein, en my gesin is my inspirasie in die lewe.
Wat kan die gemiddelde Suid-Afrikaanse wyndrinker doen om die SA wynbedryf te help groei?
Die verbruiker moet ’n palet ontwikkel vir kwaliteit en gewillig raak om daarvoor te betaal.
As jy nie wynmaker geword het nie, in watter ander beroep sou jy kon gelukkig wees?
’n Karoo-skaapboer
Wie is jou wynmaak-helde?
Abrie Beeslaar en Beyers Truter.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet of het die grootste indruk op jou gemaak?
Guilluime Dusssan: Wynmaker van Chateau Destieux en Chateau Le Clemence in Bordeaux, het ’n groot indruk op my gemaak. Hy was baie gewillig om my te help met die ontwikkeling van my eerste privaat-wyne, en ’n goeie vriend.
Watter wynproe staan vir jou uit oor die jare?
’n Proe met wyle Spatz Sperling gedurende my vroeë Delheim-dae. Ek het in sy sitkamer saam met hom van die ouer Edelspatz-oesjare geproe, en geluister na staaltjies van sy jonger jare.