Alwyn Maass is ’n wynmaker by Namaqua Wines en vier vandeesmaand 20 jaar daar
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Behalwe dat hy wenwyne maak, is hy ook ’n avonturier wat aanstaande jaar aan die Adventure Racing World Series se Expedition Africa gaan deelneem, wat in Mei in die Namaqua Weskus gehou gaan word. Die avontuur-wedlope behels groepe atlete wat sonder ondersteuningspanne meer as 500 km se ongenaakbare terrein moet navigeer met navigasie- en trek-vaardighede deur MTK, kajak en ook bergklim.
Alwyn het op ’n wingerdplaas buite Vredendal grootgeword en die besoeke aan die plaaslike kelder het hom baie interesseer, vandaar sy liefde vir wynmaak. Sy eerste pos was by Romansrivier Wynkelder naby Wolseley in 1994, waar hy die pos as assistent-wynmaker beklee het. Na ’n jaar by Romansrivier het hy die pos as wynmaker by Klawer Wynkelder aanvaar, voor hy in Oktober 1997 by Vredendal Kelder – vandag Namaqua Wines – aanvaar het.
Alwyn, sy vrou, Adele, ’n projekkoördineerder by KANSA en hul twee dogters, albei studente, woon reg by die kelder en Alwyn lag as hy sê dit neem hom letterlik 2 minute om by die werk te kom. Dis die voordeel, maar die nadeel is dat as daar krisisse by die kelder is, hy eerste gekontak word, so hy is altyd op diens.
Vertel ons van jou wynreeks?
Namaqua Wines beskik oor ´n wye reeks bottel- sowel as bokswyne vir die breë mark – plaaslik en oorsee.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Ek beskou myself as avontuurlustig en dit is deels omdat my leefstyl en sport hier ’n invloed het. Wynmaak is vol uitdagings soos die hekkies in my persoonlike lewe.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
My droom was maar altyd om op ons familieplaas te boer en my eie kelder later daar te ontwikkel.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Parstyd in die suide van Frankryk: Beziere. Drafsessies saans langs die kronkelende Canal du midi met rye en rye populierbome. Toeriste op huisbote op die Canal du midi wat hul wyn geniet en heerlike Franse geregte eet.
Wat het jy in jou begindae as wynmaker geleer?
Enigiemand kan opleiding ontvang en oor baie boekkennis beskik, maar die praktyk van wynmaak laat jou op jou voete dink en leer jou ook vinnig werkservaring optel.
Wat is die belangrikste eienskappe waaroor ’n wynmaker moet beskik?
Doelgerigtheid, selfbeheersing, kreatiwiteit en sy of haar sintuie goed kan gebruik by die bereiding van wyn.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
By ’n braaivleisvuur – maak nie saak of dit by die see, by die huis of in die Bosveld is nie.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Chenin Blanc – dit is ´n unieke Suid-Afrikaanse kultivar en ´n verskeidenheid wyne kan daaruit gemaak word.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Malbec.
Watter kultivar kry te min aandag in SA en sal jy graag wil sien ontluik in die toekoms?
Definitief Chenin blanc – ek dink dit het baie potensiaal.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Die finansiële situasie in ons landbousektor/wynbedryf. Om die bedryfskostes so laag as moontlik te hou en nog steeds ’n kwaliteitproduk te lewer.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om ’n balans te kan handhaaf tussen kwaliteit-wynmaak en my extreme-sportaktiwiteite.
LEES OOK: Wynmaker: Mariëtte Stofberg
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ek voel besonder trots op my Veritas-medaljes, en ander toekennings wat ek ontvang het in my jare as wynmaker.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Met my aanstelling as wynmaker in Klawer moes ek my eerste parstyd letterlik sonder enige mentor hanteer en ek kon dit suksesvol deurvoer. Alles was nuut en ek moes behoorlik “swem” om bo te bly. Dit was ’n vuurdoop, maar ek het dit gemaak.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
Ek sal ’n kelder ontwerp waar moontlike toekomstige uitbreidings reeds deel is van my beginplan. Dit sal ’n werkbare en koste-effektiewe projek moet wees.
Watter wyn sal jy aanbeveel met soesji en wat met speseryagtige kos?
Vir soesji sal ek sauvignon blanc en chenin blanc aanbeveel, terwyl ´n Cape West shiraz/pinotage speryagtige kos sal komplementeer.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker volgens jou?
’n Profiel vir die ideale SA wyndrinker moet insluit: hulle moet meer eksperimenteer met versnitte en kos-en-wynpasmaats geniet, want dit sal meebring dat die wyndrinker blootstelling kry aan ’n groter verskeidenheid wyne.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
’n Bedryfsingenieur.
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om op die etiket te kyk nie?
Besluit vir watter geleentheid die wyn is; indien ’n ete – watter kos gaan geniet word; die prysklas
waarna jy kyk.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Wyn word in die wingerd gemaak! Gedagtig hieraan bring die wynmaakproses jaarliks nuwe uitdagings om wynkwaliteit aan te pas by jou wynreekse.
Wie is jou wynmaakhelde?
Al my kollegas in die wynbedryf. Elkeen het op sy/haar manier ’n invloed op my wynmaakstyl gehad.
Hoe voel jy oor die toekoms van die SA wynbedryf?
Op die oomblik is die wynbedryf baie wisselvallig, maar die positiewe is dat die draaipunt in die nabye toekoms is.
As jy een bekende kon nooi vir ’n wynproe, wie sou dit wees?
Team Seagate – hulle is een van die top Adventure Race-spanne in die wêreld. Dit was ’n voorreg om al saam met hulle in SA te kon deelneem.