Marlize Jacobs is die wynmaker en wingerdboukundige op die geskiedkundige Vergenoegd Löw Wynlandgoed buite Somerset-Wes
Deur MARYKE ROBERTS
Foto verskaf
Hierdie is een van die oudste wynplase in die land en reeds in 1696 aan Pieter de Vos toegestaan. In 1820 koop Johannes Gysbertus Faure die landgoed en dit bly vir ses generasies in die Faure-familie.
Die plaas het nie net bekendheid vir sy wyne verkry nie, maar ook vir sy Indiese eende en die eende-parade is een van die groot attraksies.
Prof. Peter Löw, eienaar van die Livia Groep in Duitsland, het die plaas in 2015 gekoop. Vandag is die plaas ook gewild vir sy plaasmarkte en lewendige musiek onder die ou bome.
Marlize en haar man, Marius, woon op die plaas en het nie kinders nie. Sy sê behalwe dat dit ’n pragtige plek is om huis te noem, hoef sy ook nie elke dag in die verkeer te sit nie!
Hoe het jou belangstelling in wyn begin?
Ek was baie jare in die restaurantbedryf in Johannesburg, waar ek wyn leer ken het, en die Cape Wine Academy-kursusse begin doen het om my kennis te verbreed. Ek het gevorder tot by Diploma 1 en het toe einde 2004 besluit ek wil dit nou maak en nie meer net verkoop nie! Ek het toe sak en pak getrek Kaap toe en in 2005 voltyds by Elsenburg begin studeer.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
My eerste werk in die wynbedryf was by Vergenoegd! Dit was ’n droom om by Vergenoegd wyn te maak, want ek was nog altyd mal oor die wyne, omdat ek baie Vergenoegd-wyne in die restaurant in Johannesburg verkoop het. Noem dit divine intervention, maar ek het die werk by Vergenoegd gekry direk nadat ek my graad gekry het en ek is tans besig met my 11de oesjaar.
Hoe verander eienaarskap jou as wynmaker?
Sover is alles nog net uiters positief – die nuwe eienaars voorsien my van al die nodige elemente (keldertoerusting, nuwe tenke, ens. Maar veral die vryheid om my ondervinding en passie met my wynmaakmetodes te deel). En ek is mal oor al die nuwe uitdagings! Ek glo dat ek as wynmaker nou werklik ’n geloofwaardige bydrae tot die wynbedryf lewer.
Jy werk op ’n pragtige wynplaas wat internasionaal bekend is. Bring dit meer of ander verantwoordelikhede na die wynmaker as met ander plase?
Definitief! Vergenoegd se nuwe eienaars erken dat ons eerstens ’n wynplaas is, dus moet die produk uit die boonste rakke wees. En natuurlik moet ons heeltyd poog om iets te bied wat uniek en van die hoogste kwaliteit is.
LEES OOK: Wynmaker Ilse Schutte
Watter kultivar dink jy is Vergenoegd se vlagskip en in watter kultivar lê die plaas se toekoms? Cabernet sauvignon natuurlik! En natuurlik ons bordeaux-versnit daarvan.
Hoe voel jy oor die beeld van die plaas onder die publiek en hoe belangrik is daardie beeld?
Volgens my is die beeld wat ons wil uitdra, in kort: Vergenoegd is jou tweede huis, waar jy gemaklik kan voel, goeie wyn kan drink, goeie kos kan eet, en ’n onvergeetlike ondervinding kan ervaar.
Wat is die grootste les wat jy as wynmaker geleer het, wat jy nie verwag het nie?
Daar is geen resep vir wynmaak nie. Elke jaar se druiwe is verskillend, en konfronteer jou met nuwe uitdagings, en jy moet aanpas daarby om jaar na jaar dieselfde kwaliteit te bied. En jy kan nie verwag jy ken die wingerd en druiwe selfs ná 10 jaar nie, want klimaatstoestande verander jaarliks, so jy moet eenvoudig by die omstandighede aanpas en nog steeds ’n eersteklaswyn kan maak.
Hoe sal jy jou wynmaakstyl beskryf en hoekom sê jy dit?
Ek is 100% “hands-on”. Ek behandel elke kultivar verskillend en ek monitor gereeld die gesondheid van die wyn. Tenke en vate moet vol bly, SO²-vlakke moet maandeliks gemonitor word. Ek hanteer die wyne soos mens ’n kind sal hanteer – almal het verskillende behoeftes. Sommige wyne het meer aandag nodig. Ek hou my vinger op die pols en raak NOOIT gemaklik en dink die wyn kan maar net oukei wees nie.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte, ens?
Ons het in 2018 vyf hektaar wit druiwe aangeplant (chenin, chardonnay, sauvignon blanc en viognier). Ons beplan MCC, ons eie sauvignon blanc, miskien ´n bietjie gehoute chenin of viognier in ’n “limited release”-kategorie. Daar is soveel moontlikhede om mee te speel.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Veearts.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Elke kultivar het sy/haar unieke karakter eienskappe wat dit spesiaal maak. Ek het geen witbroodjie nie, dis soos om my te vra wie is my gunstelingkind!
LEES OOK: Wynmaker Matthew van Heerden
Wat is vir jou spesiaal aan die ou geboue, die eende en die dam met die voëls?
Natuurlik is dit wonderlik om in so ’n mooi omgewing te werk. Die eende, dam en voëls is ’n ander passie van my – ek poog om by te dra om Vergenoegd eendag ’n 100% “groen” plaas te maak.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Pinotage
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Cape Wine Academy Dip 1 kursus: Domaine de la Romaneé Conti – ek het die wyn geproe, huis toe gery (30 minute), ’n koppie tee gedrink, en kon toe nog steeds daarna die wyn se nasmaak op my tong proe! Absoluut ongelooflik!
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in Suid-Afrika in 2018?
Die mark is uiters kompeterend. Kwaliteit is belangrik–- konstante kwaliteit ten spyte van die droogte.
Hoe navigeer mens om die ergste droogte in 100 jaar?
Maak ’n leë tenk vol water en gebruik die tenk, instede van die munisipale water, vir skoonmaak in die kelder. Monitor die gebruik en spreek werkers aan om net ’n sekere volume per dag te gebruik. Indien jy die kapitale ondersteuning van eienaars het, innoveer met ’n watersuiweringsplantasie, waar gryswater tot drinkwater gesuiwer word. Kanaliseer alle afvalwater (van die kelder sowel as alle grys- en afvalwater na ’n SPP (Sewerage Packing Plant) om vir besproeiing te gebruik. Basies beteken dit ons moet almal dink aan hoe ons gaan wynmaak as daar nie meer water is nie.
Watter nuwe dimensie bring jul mark en lewendige musiek na die plaas?
Op hierdie stadium, baie meer voete, wat beteken meer wynverkope.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Ek kon, vandat ek oorgeneem het in 2016, nog steeds gehaltewyn produseer ten spyte van droogtetoestande en ander uitdagings in die res van die wynbedryf.
Watter een van jou pryse is jou hart se punt?
Die goue medalje vir Terrace Bay 2015 Women’s Winemakers Awards.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Prokureur of sielkundige.
Wie is jou wynmaak-helde?
Ek het baie respek vir Niels Verburg, Lowell Jooste en Abé Beukes. Maar nie een van hulle is my held nie, ek respekteer bloot wat hulle regkry in die wynbedryf en wat ek van hulle geleer het deur die jare.
Vertel my van jou hond Jonah?
Jonah is my skaduwee, hy maak saam met my wyn en is al vir agt jaar my assistent in alle dinge rondom wyn. Ek probeer hom oortuig dat druiwe giftig is vir honde, maar hy eet dit nog steeds!
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Nicolas Joly. Ek het gehoor hy is bietjie aweregs. Maar ek sal graag self wil uitvind of dit waar is.
Watter wynproe staan vir jou uit oor die jare?
Ek het verlede jaar ’n wynproe in Johannesburg by die Pirates Club vir ’n wynproeklub van ongeveer 105 lede aangebied. Ek het daarin geslaag om hulle betrokke te maak met kommentaar oor ons wyne, tot so ’n mate dat ek rekordverkope vir die aand kon aanteken. Maar die mense was ongelooflik ontvanklik vir ons wyne, en daar was geweldig baie komplimente en seënwense vir my, spesifiek as ’n vroue-wynmaker!