Vyf vrae aan Susanne Beyers, wat tans die rol van Renè in die regsdrama Fynskrif, op kykNET, vertolk:
1. Hoe voel jy oor die verskeidenheid reekse, flieks en kortrolprente wat nou in Afrikaans beskikbaar is?
Sjoe, dis die hele tyd aan ’t verander en dit voel my nie ek kan byhou nie. Ek vind dit eintlik verwarrend. Teater is baie minder, maar dis daar. Maar toneel is wat ons wil doen – ongeag die platform – ons kan onsself nie help nie.”
2. Wat was sover jou grootste persoonlike uitdaging?
Die grootste verlies is die mense wat ek verloor het – aan die dood en aan die lewe. Dit los ’n hartseer wat nooit heeltemal weggaan nie. Die uitdaging is om dit te aanvaar en nie in jou hartseer vas te val nie.
3. Hoe ontspan jy?
Lees, lees, lees. Ek is ’n onversadigbare leser. En ek swem twee maal per week om my krakende litte in stand te hou. Ek hou van goeie flieks, goeie teater en lekker tye saam met my kleinkinders.
4. Het jy spyt oor iets in jou lewe waaruit jy voel jy niks geleer het nie?
Mens maak die foute wat jy maak in die lewenstadium waarin jy jouself bevind. Natuurlik het ek foute gemaak, maar op 18 was ek ’n ander mens as nou.
5. Waarin is jy later vanjaar te sien?
Ek lees Donderdagaande om 19:20 die aandstorie op RSG, Die dooies leef deur SD Fourie.