Vyf vrae aan Denise Newman en Abdu Adams wat die rolle van Bridgette en Ian October in Suidooster vertolk:
1. Hoe hou julle die geweldige pas van daagliks skiet vol en hoe vry is julle om ander werk te doen?
Denise: Ons is minstens drie uur per dag hier by die ateljees, maar gelukkig word dit ná drie jaar makliker om jou ritme te kry. Ons weet daardie adrenalien is nie goed vir ons organe nie, maar daar is niks anders wat ons wil doen nie. Ons love dit hier, want ons doen waarvan ons hou en ons word daarvoor betaal!
Abdu: Aan die begin was die besigheidsdialoog waarvoor Ian bekend is, vir my moeilik, maar ek het dit darem nou onder die knie.
2. Hoe ontspan jy?
Denise: Ek hou van ’n glas rooiwyn, tyd saam met my familie en vriende en om so ‘n bietjie uit die stad uit weg te kom. As ek ’n rol vertolk, wil ek 100% daar wees en my kop moet skoon wees.
Abdu: Ek braai, ek en my vrou gaan stap op die strand, ons kyk movies. En ek skryf graag – ’n movie en nog iets dalk …
3. Vir watter rol sal jy eendag onthou wil word?
Denise: Die rol waarmee ek nou besig is, maar die een waarop ek baie trots is, is Shirley Adams en van die rolle wat ek saam met Pieter-Dirk Uys, Lara Foot en Athol Fugard gedoen het. As ek net een rol my hele lewe moes speel, sou ek doodgaan. Maar selfs om een rol lank te speel, het sy uitdagings, want jy moet altyd iets nuuts na die karakter bring.
Abdu: Ek wil net onthou word dat ek ’n bydrae as professionele akteur gemaak het; eerder as vir ’n spesifieke rol.
4. Hoe verwyl julle die ure tussen jul tonele?
Abdu: Ons lag, ons praat en ons gesels, maar ons werk ook baie aan ons lyne. Jy moet woordvas op die vloer wees, want die tempo is vinnig, omdat die sepie elke dag uitsaai.
Denise: En Afrikaans is my tweede taal, so ek moet ekstra hard werk.
5. Waaroor het jy spyt in jou lewe?
Denise: Niks. Jou lewe is ’n reis en selfs die negatiewe gee jou kans om te groei. Daar is nie ’n voordeel as daar nie ’n nadeel is nie.
Abdu: Ek stem saam. Ons leef soms in die illusie, maar alles vorm jou.
6. Wie het jou al die beste raad gegee?
Denise: Ek was as jong student in maatskaplike werk, ’n regte Space Theatre-groupie. Ek het daar stoele gepak, kaartjies geskeur en elke aspek van die vermaaklikheidswêreld ingedrink. Ek het besef dis waar my hart en my passie was, maar watter kans het ek as jong bruin vrou in die apartheidstd gehad om haar droom as aktrise te volg? Brian Astbury het vir my gesê ek moet die sprong neem. Nou. My ouers wou die horries kry. Maar ek het gespring en ek is baie dankbaar ek het.
Abdu: Ek het oor die jare soveel goeie raad van soveel mense ontvang. Ná my ma oorlede is – ek was 19 – het ek by Reader’s Digest gaan werk. Ek het pakkies en pos sorteer en later al die land se poskodes geken. Ek en my baas is eendag saam poskantoor toe vir seëls en het lekker gesels. Terug by die kantoor het hy gesê hy gaan my fire. Ek was volgens hom te slim en moes universiteit toe. Toe firehy my en ek gaan swot verpleging. Ek het dit ’n paar jaar lank gedoen, voor ek akteur geword het.