’n Paar vrae aan die aktrise Erica Wessels, ster van onder meer My Father’s War en Hatchet Hour wat 18 maande gelede mev Boshoff geword het:
1. Jy beskryf op Instagram jouself as aktrise, vrou, persoon, wese, In verwondering vir die natuur. Godsoeker. Reisverslaafde. Daar is baie foto’s van jou en Willem op reis, het julle ’n emmerlys van bestemmings?
Ons geniet voetslaan en die natuur! Soveel so dat Willem en twee pêlle ’n paar maande gelede hulle webwerf www.hikingsouthafrica.co.za bekendgestel het. Ek is versot op reis en beplan ’n trip sodra ek een klaargemaak het. Willem is gelukkig ook lief daarvoor.
2. Jou Instagram-rekening gee baie meer as Facebook van jou persoonlike lewe weg. Is jy doelbewus nie baie aktief op Facebook nie, of is daar ’n persoonlike rekening wat jy goed wegsteek?
Ek is deesdae nie mal oor Facebook nie. Ek sien Instagram as ’n visuele dagboek. En dis vir my interessant. Facebook kan so opinie-georiënteerd raak. En dit neem baie van mens se kosbare tyd op. Eintlik wens ek ek kan alle sosiale media heeltemal los en vry wees daarvan. Maar dis belangrik om as ’n akteur’n mate van ’n teenwoordigheid daarop te hê.
3. Wat is die mooiste eienskap van Willem en wat bring hy in jou na vore?
Hy is werklik ’n goeie man met ’n sterk en mooi karakter. En hy laat my kalm en standvastig voel.
4. Wat was sover jou stap- en reishoogtepunt?
O nee, ek het geen hoogte- of laagtepunte nie. Alles is uniek en presies wat dit moet wees.
5. Jy word vanjaar 40, hy 42. Hoe dink jy sou jul huwelik gewerk het as julle mekaar vroeër in jul lewe ontmoet het?
Glory! Ek het geen idee nie. Hy was ’n ander mens; ek ook. Ons lag gereeld lekker daaroor en sê nee wat, ons het vir ’n rede op ’n bepaalde tyd ontmoet.
6. Hoe lyk julle twee se ideale naweek?
Willem se ideale naweek is bietjie anders as myne. As hy vir ’n hele dag kan rotsklim en die aand ’n goeie fliek kyk, die volgende dag rustig vat of sosiaal verkeer met ’n middagslapie, is hy verskriklik gelukkig. Ek sal die oggend na ‘n organiese mark toe wil gaan. Dan ’n heerlike lang middagete met ’n lekker glas wyn saam met pêlle. Later miskien ’n warm jogasessie, dan ’n fliek. Die volgende oggend ver wil gaan stap en die res van die dag óf op die strand lê en lees óf na ’n galery toe gaan. Ek hou wel ook van rustig wees. Ons probeer dit wat ons liefhet, kombineer. Ons albei is lief daavoor om uit die stad uit te kom. So dit doen ons gereeld.
7. Julle het vir jul wittebrood die Camino Portuguese gestap. Wat het vir jou uitgestaan?
Stilte en ure/dae lank stap en wat dit jou leer; om baie simplisties met amper niks op jou rug klaar te kom en wat dit jou leer; en die ongelooflike verbintenis met ander pelgrims en om stories te deel en wat dit jou leer.
LEES OOK: Erns Grundling oor die Camino Francés
8. Hoe berei jy voor vir ’n Camino?
Ek hou gelukkig van oefening, dis my antidepressant. So ek is redelik fiks. Maar ek sal sê ‘n paar sessies van lank en ver stap in ordentlike stapskoene, om veral jou voete voor te berei, is belangrik, maar ek is onseker of iets hulle kán voorberei! Jou voete suffer op die Camino, maar raak gelukkig redelik vinnig aan die daaglikse pak slae gewoond.
9. Droom julle van kinders?
Ja!
10. Van watter rol droom jy?
Mmm. ’n Goeie draaiboek is die murg en been van ’n goeie fliek. As ek net kan aanhou werk en geleenthede gebied word om verskillende veelsydige karakters te speel, wat deel van goeie sterk draaiboeke uitmaak, sal ek só gelukkig wees.
11. Watter SA akteur het jy al die lekkerste mee saamgewerk?
Sal nie kan sê nie. Daar is te veel!
Loer hier na nóg foto’s van haar voorbladfotosessie
Kyk hier wat agter die skerms gebeur het