Twaalf vrae vir Naomi Meyer, skrywer van Web, wat pas by Queilerie verskyn het:
Hoe voel dit om jou boek in jou hande te hou?
Oorweldigend. Blootstellend.
Het jy met enige ouers gesels wie se kinders verdwyn het om jou boek meer diepte te gee?
Nee. Ek het wel op die internet gesprekke gevolg van ouers wie se kinders weg is.
Hoe belangrik is goed soos die korrekte prosedures by fiksie – glo jy dit verleen meer geloofwaardigheid aan ’n boek of kan ‘n mens maar poetic license gebruik?
Ek dink deesdae se lesers is baie gesofistikeerd en sal om die bos gelei voel as die karakters nie die regte prosedures volg nie. Daar is baie aspekte van die storie waar ‘n mens kan doen wat mens wil, maar ek dink die skrywer moet navorsing doen oor die situasie wat hy beskryf.
Waarvoor was jy die bangste met die skryf van hierdie boek – jy het genoem dit het byna vyf jaar geduur?
Ek was die bangste dat die boek nie vir publikasie aanvaar sou word nie! Ek was ook bang dat ek self nie sou weet wat met die kind gebeur het nie. Later was ek so betrokke by die storie dat die obsessie daarvan my eenvoudig gedryf het. Maar ek kon nie klaar wees voordat die storie klaar was nie.
Was daar voor haar verdwyning die vrees dat jou eie kinders kan verdwyn?
Nee, nie regtig nie.
En nou?
Nee, steeds nie. Dis net ‘n storie. My karakter s’n. Die vrees dat iets met my kinders kan gebeur, enigiets waaroor ek nie beheer het nie, is dalk wel ‘n soort vrees. Maar dis nie iets waaraan ek heeltyd of doelbewus dink nie.
Wat het jy uit hierdie navorsing en skryfproses geleer, wat jy nou by jou eie kinders probeer tuisbring, sou hulle op die internet met iemand gesels of dalk deur vreemdes genader word?
Ek probeer nie my kinders meer teen die internet beskerm as teen ander dinge nie, en ek dink die internet bied wonderlike en verrykende moontlikhede. Vir doeleindes van my storie was die internet ‘n karakter en het ek dit ook as storietegniek aangewend. Ek dink ‘n mens moet met ‘n verantwoordelikheid op die sosiale media leef en menseverhoudinge hier met die normale begrensinge hanteer as wat mens dit in die werklike lewe doen.
Wat is jou grootste swak punt?
Ongeduld
Wat is jou sterk punte?
Ek kan pasta met witsous maak en soms selfs lasagne.
Wie is jou gunstelingskrywer?
Margaret Atwood. Marlene van Niekerk.
Is misdaadfiksie of spanningsliteratuur een van jou gunstelinggenres?
Nee, dis net nog ‘n genre wat ek lees.
Is daar ’n volgende boek wat in jou agterkop broei?
Ja, meer as een! Beslis.