Tien vrae aan die gewilde satirikus en storieverteller Pieter-Dirk Uys, wat nou in ’n nuwe vertoning te sien is en twee boeke later vanjaar uitgee:
1. Is daar ’n vertoning in jou ryke loopbaan wat vir jou uitstaan?
Sjoe, elke vertoning het sy eie oorspronklikheid en is dus in eie reg ’n hoogtepunt. Dis daardie oorspronklikheid wat jou op ’n gruispad met baie dun bande neem. Maar die aand wat Sophia Loren en ook later Nelson Mandela in die gehoor was; en die aand toe Desmond Tutu op die verhoog opgestap het, staan tog effe bo die ander uit. En elke YouTube-vertoninkie wat ons verfilm, is vir my heerlik. Gaan loer gerus by (https://www.youtube.com/user/EvitaSePerron) – die platform vir Evita’s Free Speech, ’n weeklikse episode oor die staats- en wêreldrede.
2. Is daar enige spyt in jou lewe?
Spyt is ’n snaakse ding. Ek sou nie sê ek het spyt oor iets nie; dis iets wat jy verloor het. Ek het nooit genoeg klavier geoefen nie en my pa het gewaarsku dat ek gaan spyt wees. As ek dit gedoen het, het ’n ander loopbaan gehad. Ek is wel effens spyt dat ek nooit behoorlik leer tuinmaak of kook het nie, bloot omdat ek nie tyd het nie.
3. Wat was die beste raad wat jy al ooit ontvang het?
Ek sou sê dis eerder die voorbeeld van verhoogbestuurders regoor die wêreld by wie ek ongelooflik baie geleer het. Hul voorbeeld het my ’n geweldige respek vir hulle laat kry. Hul dissipline is bloot deur harde werk verkry. Maar tog, my pa het altyd gesê jy moet nooit langer as 90 minute optree nie, want dan moet hy gaan piepie. Ook het hy gesê jy moet braaf wees en vir vrees ’n naam gee. My vriendin het byvoorbeeld haar kanker as Frankie aangespreek en toe kon ons daaroor praat. As jy bang is vir iets, moenie wegkyk nie.
4. Wat is die kosbaarste ding in jou lewe?
My British Airways- silwer lojaliteitskaart waarmee ek twee tasse vol pruike en rokke en skoene vir Evita in ekonomiese klas kan vlieg en in die lounge mag sit voor vlugte; my Woolies-kaart en my Ster-Kinekor-pensionariskaart. En dan natuurlik my gesondheid, my onthou en my vriende.
5. Hoe werk die oorskakeling na tannie Evita in jou kop?
Dis oombliklik, want ek kom al so lank met haar aan. Gee my net die regte skoene en ek is daar. Maar struktuur is so ongelooflik belangrik. As ek op die verhoog as Evita is, en ek vang jou oog en ons het ’n grappie gedeel as Pieter-Dirk en jy; is ek heeltemal van die spoor gegooi. Dit verg konsentrasie en respek vir haar karakter. Haar uitrustings, pruike en skoene is ook belangrik vir geloofwaardigheid, daarom dra sy Jimmy Choo en haar naels is versorg.
6. Hoeveel uitrustings het sy en hoe besluit jy wat haar voorkoms elke dag gaan wees?
Ek weet nie hoeveel pruike en uitrustings sy presies het nie, maar daar is altyd vier wat regstaan.
7. Het jy ’n notaboek voor jou bed waarin jy goed skryf soos dit by jou opkom, of het jy ’n streng roetine van wanneer jy werk?
Ek ad lib baie en wens ek kon alles opneem wat ek so in die hitte van die oomblik kwytraak. Gelukkig het ek geleer ’n goeie ad lib kom terug. Ek dra egter altyd ’n notaboekie en pen saam. Titels spring soms onwillekeurig by my op. When in doubt, say darling het byvoorbeeld al in 1968 sy verskyning gemaak en word nou in 2018 opgevoer!
8. Droom jy van die dag wat jy uit materiaal sal raak en jy op die stoep kan sit en ontspan?
Ek sit reeds op die stoep met my kat as ek lus is daarvoor.
9. Vertel my van jou troeteldiere?
By Evita se Perron is drie katte vir wie mense eerder as vir tannie Evita of die memorabilia kom kuier. My diere is my familie. Ek het vier Maltese poedels by die huis, wat glo hulle is perde; Fanny en Chilli die Chinchilla en ’n kat, Vegan, wat in die Kaap by my lewensmaat, Brent, woon en naweke saam kom kuier. Troeteldiere is belangrik. Hulle het Darling se kinders geleer om nie vir diere bang te wees nie. Vir ons 67 minute vir Madiba het ons DBV toe gegaan en hulle kon met die diere daar speel en liefde ervaar.
10. Waarin sien ons jou volgende en waar?
Ek toer tans met When in doubt, say darling by verskeie groot en klein teaters en gaan ook terug Berlyn toe. Ek is in Junie in Berlyn daarmee en in Augustus vanjaar verskyn my twee boeke, Weerklink van ’n wanklank en Echo of a Noise.