Tien vrae aan die bekroonde misdaadskywers, Karin Brynard en Deon Meyer
Deur MARYKE ROBERTS
Hoe belangrik is die plek waar die verhaal afspeel in ’n spanningsroman?
Karin: Die plek is deel van die storie. Dit bepaal wat in die storie gaan gebeur. As jy die Kalahari uit Tuisland haal, sou die boek armer gewees het. In Onse Vaders het ek Soweto gebruik, omdat ek Soweto só goed ken en só lief is vir Soweto, het die verhaal soveel meer sin gemaak omdat dit daar afspeel. Tot dusver was al my boeke plekgevoelig.
Deon: Die skryfproses is soos ’n ekosisteem. Niks geniet voorrang nie; dinge speel in op die storie en alles staan in diens van die storie. Elke skrywer het ’n unieke benadering en jy skryf met jou hele brein – linker- en regterkant. Ek kon Koors se nuwe kolonie-plek opmaak; maar alles kreatiewe besluite het implikasies en jy moet eindelik met daardie implikasies saamleef. Die skryfproses is ’n wonderlike, onvoorspelbare, organiese een en dis juis die onvoorspelbaarheid wat dit laat werk.
Na wie gaan jy vir raad as jy in ’n doodloopstraat beland?
Karin: Ek moes met Tuisland meganismes ontwikkel. Ek het aanvanklik gedink ek kan by ervare skrywers vir ’n antwoord aanklop, maar Deon het onder meer gesê daar is geen ompad nie, jy moet daardeur gaan. Vrees was my grootste hindernis. Ek het ook besef ek is emosioneel sensitief – iets wat voor- en nadelig kan wees. Ek moet dit tem. Skryf is soos ’n gewone werk, jy moet stil en kalm raak en net begin en deurdruk.
Deon: Ek glo nie daar is doodloopstrate nie; net verkeersknope, padwerke en ompaaie. Daar is verskeie maniere om die kreatiewe bestemming te bereik en soms is dié struikelblokke so kwaai, dat dit jou spoed breek, maar dan kry jy ander paaie om daar te kom.
Wat maak of breek ’n spanningroman vir jou as jy dit lees?
Karin en Deon: Dit hang af wie die skrywer is en waar jy op daardie stadium in jou lewe is. As dit werk, werk dit; as dit nie werk nie, kan jy nie altyd jou vinger op die fout lê nie; dit werk dan net nie.
Wie is jou gunstelingskrywer?
Karin en Deon: Dis nou behalwe die huidige geselskap uitgesluit? Daar is baie, maar Robert Harris, Lee Childs en Michael Connelly.
Hoe voel jy oor pryse en vererings?
Deon: Dit is lekker as jy wen, maar ek weet hoe onmoontlik dit is om oor kuns se meriete te besluit en om objektief te wees. Ek het dikwels my bedenkinge oor pryse. In Frankryk is daar ’n misdaadromanprys, wat ’n skrywer net een maal kan wen. Ek dink ook pryse moenie toegeken word as daar nie daardie jaar ’n skrywer is wat dit verdien nie. As dieselfde skrywers dieselfde pryse wen, heg mense later nie meer waarde aan daardie pryse nie. Die leser is vir my die groter prys.
Karin: Baie goed – as ek wen. Dis ’n bevestiging dat lesers en kritici besef hoe hard jy aan daardie boek gewerk het; jy het as ’t ware die sweet getap vir daardie boek en dis met meriete gedoen.
Hoe gemaak met kritiek?
Karin: Dis bitter swaar. Dit voel vir my of my ma my nie meer liefhet nie só verwerp voel ek. Ek kry ook skaam en is bang my familie lees dit.
Deon: Dis vrek sleg. Regverdige kritiek is nie te sleg nie, maar selfs dit brand. Onregverdige kritiek maak ongelooflik seer.
Hoe moeilik was dit as vrou jou hoofkarakter ’n geloofwaardige man te skryf?
Karin: Glad nie moeilik nie, in my siel is ek eintlik ’n man. Ek het in ’n mansgeoriënteerde wêreld grootgeword en beskou myself as die enigste feminis wat sal erken sy het penis-afguns. Ek dink mans het dit ongelooflik lekker in die wêreld. Ek bewonder mans baie en het ’n ongelooflike deernis vir hulle.
As jy nou terugkyk na jou boeke met Bennie Griesel of Albertus Beeslaar, is daar enigiets wat jy sou wou verander om dalk beter fondamente vir hul lewensverhale te lê?
Karin: Nee, nie nou nie.
Deon: Elke boek is ’n mylpaal van waar jy op daardie spesifieke stadium van jou lewe is. Ek voel maar spyt oor elke boek dat hy nie beter was nie. Ek was nog nooit heeltemal in my noppies met enigiets wat ek al gedoen het nie. ‘n Mens ontwikkel as skrywer – en leser – en jou skryfwerk getuig daarvan. Ek is vandag ’n ander mens as tien jaar gelede. Dit wat jy is, bepaal 100 persent wat jy skryf.
Is daar ’n verskil tussen boekskryf en draaiboekskryf?
Deon: Dit kom uit dieselfde plek; dis dieselfde, maar ook heeltemal verskillend. Die struktuur van ‘n draaiboek is baie anders, minder woorde, ’n groter ingesteldheid op beelde en natuurlik altyd die kwessie van begroting. Daar is baie verskille, maar ook eintlik geen.
Is daar internasionale neigings in die spanningsromangenre wat nou hoogty vier?
Karin: Die neigings kom en gaan. In ’n stadium het almal oor reeksmoordenaars geskryf. Nou het boeke soos Gone Girl die huishoudelike noir begin ontgin. Maar dit word beïnvloed deur die politiek van die dag; die tydsgees. Dis nie dat skrywers by mekaar afskryf nie, dis meer die dinge wat op ’n bepaalde tyd hoogtyd vier. Dis anders as ’n copy cat.